Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Naghowe ‘is 'n briljante plan’
Naghowe vir Suid-Afrika om die geweldige agterstand in strafsake te probeer wegwerk, kan eersdaags 'n werklikheid wees.
André P. Brink se susterskind doodgeskiet
“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika oorgelaat is aan die genade van barbare.”
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           10-25°C

Voorspellings
Sudoku

‘Menslike ysbeer’ droom groot
Apr 07 2008 02:30:20:300PM  - (SA)  
Willemien Brümmer



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Om ’n onderhoud met Lewis Gordon Pugh (38) te voer is amper soos om ná ’n lang weergawe van die Investec-advertensie op televisie te kyk.

Die human polar bear-advertensie waar hy in die teenoorgestelde rigting loop as ’n groep migrerende koningpikkewyne en dan in sy Speedo langs ’n ysbeer en ’n bultrugwalvis deur die ys swem.

Aan die einde sê ’n stem met ’n vreemde aksent: “ . . . but I’m sure he won’t mind what you call him, as long as it’s not ordinary. Because ordinary won’t change the world.”

Op ’n snikhete dag in Kommetjie is hy ewe gefokus daarop om die wêreld te verander, al is dit onder aansienlik minder ekstreme omstandighede: ’n Aanvallige fotograaf in ’n bikini het pas in ’n swembad onderwaterfoto’s van hom geneem vir Discovery Channel Magazine. Tog laat hy jou uit die staanspoor verstaan daar’s bloedweinig aan hom wat gewoon is. Want terwyl ander aardbewoners kruideniersware koop en kinders grootmaak, spreek hy wêreldleiers toe oor klimaatsverandering en swem saam met roofdiere in ysige waters wat enige ander sterfling binne sekondes sou laat hiperventileer en verdrink. Bowendien is hy die enigste swempionier wat al in elke oseaan van die wêreld ’n langafstandswem voltooi het.

Met sy deftige Britse aksent vertel hy hoe die droom om eendag ’n pionier en ontdekkingsreisiger te word, reeds as kind by hom posgevat het. Sy oorlede pa, ’n admiraal in die Britse vloot, was ’n fantastiese storieverteller en het tydens die laaste dae van die Tweede Wêreldoorlog gedien. Boonop het Pugh kleintyd in Devon gewoon – die geboorteplek vir menige Britse ontdekkingsreisiger.

Die swemgogga het hom eers later gebyt – sewe jaar nadat hy met sy ouers na Suid-Afrika geëmigreer het. Al het hy tot in daardie stadium “soos ’n tipiese Engelsman” geswem, het hy op 17 sy eerste swemles by die Hoërskool Kampsbaai gekry. ’n Maand later het hy die veeleisende 10 km-swem van Robbeneiland tot by Bloubergstrand voltooi en gou het hy sy atlas begin oopslaan op soek na ongetemde waters.

Waar ons langs die swembad sit, vertel hy van sy roemryke loopbaan op sy beleefde, dog ernstige manier. “Dit was ’n ongelooflike tyd om te begin, want geen van die bekende bakens is al geswem nie – behalwe die Engelse kanaal en Robbeneiland. Op ander gebiede was dit die einde van ’n era: Die groot ekspedisies in die poolgebiede was reeds gedoen, die meeste van die groot berge was geklim.

“Ek het dit in my kop gekry niemand het nog rondom die onderpunt van Afrika geswem nie, en niemand het nog in die Antarktiese gebied geswem nie, en ek het gedink ek wil dit doen.”

Terwyl hy regte gestudeer het aan die universiteite van Kaapstad en Cambridge (hy’t later as seevaartprokureur in Londen gewerk), het hy dus die eerstes begin inryg: Hy’t om Kaap Agulhas geswem, om Kaap die Goeie Hoop en selfs om die Kaapse Skiereiland – ’n uitmergelende 100 km-tog van die Waterfront tot by Muizenberg.

Dis juis in die aanloop hiertoe dat hy die bekende sportwetenskaplike prof. Tim Noakes ontmoet het.

“Almal – insluitende topswemmers – het gesê dit sou onmoontlik wees om om die Kaapse Skiereiland te swem – te lank, te koud. Maar ek het gehoor daar’s hierdie sportwetenskaplike in Kaapstad en ek het gedink ek moet ’n kenner se mening kry.

“Ek het by sy kantoor ingestap en hom gevra of dit moontlik is, en hy’t met een woord geantwoord: Ja. Sedertdien het hy ’n onmisbare deel van my span geword.”

Gou, met Noakes aan sy sy, het hy ’n langafstandswempionier geword in van die koudste en vyandigste waters in die wêreld.

“Daar is twee ander swemmers (wat dié soort baanbrekerstogte aanpak): ’n Amerikaanse vrou Lynne Cox en ’n Sloween Martin Strell. Toe ek op die toneel kom, was die enigste swemuitdagings wat oor was, die werklik koue goed, en dit was ’n tyd toe ons almal om posisies meegeding het.”

In hul “gegryp na die laaste groot bakens op aarde” het hy in 2003 die eerste mens geword wat om die Noordkaap, die noordelikste punt van Europa, geswem het, en die jaar daarna het hy die hele 204 km van die Sognefjord in Noorweë aangedurf. In 2005 het hy die wêreldrekord verbeter vir die mees noordelike langafstandswem wat tot in daardie stadium aangepak is – by Verlegenhuken (80?C noord). Vyf maande later het die mees suidelike langafstandswem by Petermann-eiland naby die Antarktiese Skiereiland gevolg.

Die wêreld het behoorlik na sy asem gesnak veral toe hy verlede jaar die eerste sterfling geword het wat ’n kilometer by die Noordpool swem – in water van tot -1,7 ?C. Boonop was al hierdie yskapades volgens die reëls van die Britse Kanaal-swemvereniging: Hy was in net sy Speedo, swempet en swembril.

Hoewel ander baie vinnig sou sterf in dié water, het Pugh ’n soort Pavloviaanse respons wat die normale reëls van die fisiologie uitdaag. Aan die rand van koue water genereer hy vanself soveel hitte dat sy kernliggaamstemperatuur tot hoër as 38 ?C styg – iets wat ander sterflinge slegs ná twintig minute uitmergelende oefening sou regkry.

Noakes het dit sowat vyf jaar gelede die eerste keer opgemerk toe Pugh aan hom noem hy wil graag in al vyf oseane swem.

“Noakes het gevra wat sal die moeilikste wees, en ek het gesê die Arktiese oseaan, waar die water in die somer -1,7?C is.”

Die voorbereiding was heel wetenskaplik: I&J het daagliks aan hulle ’n ton ys geskenk, en ’n spesiale swembad is gebou waar hulle by 18? begin het, en die water elke dag ’n graad (en later ’n halwe graad) kouer gemaak het. Pugh moes dan ’n kilometer in die water aflê, en toe, tussen 8 en 0, het Noakes sy spesiale truuk waargeneem, wat hy terstond “afwagtende hitte-opwekking” (anticipatory thermogenesis) gedoop het.

Pugh is nie bietjie in sy skik nie. “Niemand het ooit gedroom daarvan dat jy in die poolgebiede kan swem nie. Die verskil tussen 0? en -1,7 ?C is die verskil tussen ’n warm en ’n koue stort, en elke keer dat jy die water met ’n graad verlaag, moet jy aansienlik harder oefen.”

Die belangrikste voorbereiding is egter dié van die gees, en hiervoor het hy een van Brittanje se voorste geestesafrigters (mind coaches) in sy span.

“Voordat ek na die Noordpool is, het ek seker vier uur geestesvoorbereiding gedoen vir elke uur fisieke oefening – meer as enige ander atleet van wie ek weet omdat my lewe daarvan afhang.”

Met sy Noordpoolswem wou hy veral een ding doen: Die boodskap op ’n tasbare manier oor te dra dat klimaatsverandering ’n werklikheid is. ’n Paar jaar gelede sou dit immers vir hom onmoontlik gewees het om daar te swem. “Wat ek en my span wil vermag, is buitengewoon. Ons wil werklik die manier verander hoe wêreld- en sakeleiers oor die omgewing dink, en dis ’n taak wat ’n leeftyd gaan duur,” sê dié merkwaardige man.

Teken in op Volksblad


Vind
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer