Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 10-25°CVoorspellings |
|
Beleef die Franse platteland op ’n barg
DIT was lente in Frankryk. Teen 07:00 het die son lui sy kop begin uitsteek oor die Franse platteland. Talle mense was stokflou nadat hulle ver gevlieg het om hulle aan te sluit op die hotelbarg La Belle Époque wat vasgemeer gelê het op die Yongrivier. Dis ’n rivier wat rustig vloei in ’n landskap waar die wolkies soos pienk spookasem in die lug hang. Wanneer jy die eerste oggend op hierdie rivierboot wakker word, is jy maar ’n bietjie in ’n dwaal en wonder ’n paar oomblikke waar jy is. Dan onthou jy mos eers dat jy die vorige aand met sjampanje verwelkom is. Wanneer jy deur jou patryspoort loer, sien jy ’n landskap soos uit ’n sprokieswêreld. Mense stap op die wal vinniger as wat die barg vorder. Ná ’n stortbad is ek in my kortbroek en T-hemp op na die dek vir my petit déjeuner – soos die Franse hul klein ontbyt noem. ’n Gemaklike dekstoel rond alles af terwyl ek my regmaak vir salige ontspanning. Teen middagete hou jy weer stil. Dan kan jy kos en heerlike wyn kombineer. Daar is Franse brode, sop, koue vleise, plaas-slaaie en ’n verskeidenheid kaas om van te kies. Die sjef is opgelei in organiese kookkuns en het sy eie tuisgemaakte pasta aan boord gemaak. Al die maaltye wat jy op die barg geniet, is ingesluit by jou toerprys en jy hoef nie geld by jou te hê nie. Elke dag word die passasiers op uitstappies geneem. Jou slaappatrone verander ook terwyl jy gewoond raak aan die barg se ritme.’n Biblioteek en strelende musiek dra alles by tot die wonderlike atmosfeer. Jy het geen taai program wat jy hoef te volg nie, geen e-pos om te beantwoord of ’n selfoon wat jou pla nie. Hier is net lang aande in die maanskyn waar jy by kerslig die geselligheid afsluit met ’n glasie Franse likeur. Die ander tien passasiers is ewe rustig en geniet saam met jou die luilekker vaart. Daar is nie bagasie wat jy die heeltyd moet op- en aflaai nie. Die La Belle Époque, wat mooi seisoen beteken, is 40 meter lank. Dit vaar in Boergondië teen 5 km/u, neem tot 12 passasiers in sy ses dubbelkajuite met toilette en storte. Dit het ook ’n sauna. Die maatskappy Go Barging bied sulke riviervaarte ook aan in Skotland, Engeland, Ierland, Duitsland, Italië, België en Nederland. Een van ons passasiers het ’n heupprobleem gehad. Wanneer ons aan wal gegaan het om te stap, is sy op ’n kombirit geneem. Ek het ook elke oggend een van die 12 fietse geneem wat aan boord was en saam met die sjef na een van die nabygeleë markte gery. Vars brood en koerante is ook gewoonlik op so ’n uitstappie gekoop. Om elke draai van die rivier kon jy ’n bietjie meer van die Franse geskiedenis ontdek. Suid-Afrikaanse reisigers is gewoonlik heel ontsteld om te hoor onder watter omstandighede die Hugenote na die Kaap gevlug het. Hierdie Hugenote het in die omgewing van die Paarl en Franschhoek grond van goewerneur Simon van der Stel gekry. Die plase langs die rivier laat jou sommer maklik huis toe verlang. Dis hier waar ’n yslike boer my blomkoolore en gebreekte neus net een kyk gegee het en toe vra: Rugby, Oui? Daarna is ’n vriendelike hand uitgesteek om te groet met vingers so groot soos piesangs. In sy fleur was hy ’n rugbyslot en ek ’n voorryman. Dinge is mos maar altyd interessant in so ’n skrum en ons kon gou lekker gesels. Hy noem toe dat daar ’n afstammeling van ’n Franse Hugenoot in die omgewing was wat sy voorsate se oorsprong kom soek het. Wanneer ’n Fransman gelukkig voel, hou hy daarvan om ’n glasie wyn met jou te deel. Ook ’n Pastis – ’n drankie van Marseilles met baie skop – sal geskink word. Ek leer ook my nuwe Franse vriend om te sing: “Hier kom die Bokke”. Ons vaar nou in die hartjie van die Franse platteland. Dis dan wat jy hoop jou vaart van sewe dae en ses nagte op die barg kan ewig aanhou.Die groot ganse en swane gaan ons mis. Ek het ook ’n paar keer gaan draf en die laaste oggend draf ek deur ’n lafentelveld.’n Franse boer het aan my gesê hulle kweek dikwels lafentel om die insekte weg te hou. Die Italianers doen glo dieselfde met basiliekruid. Daar was ook nog tyd om vir ons Franse vriende, Francis en Manuella du Pont van Marseille, te gaan kuier terwyl ons kon terugdink aan ons wonderlike vaart op die La Belle. ) Om jou plek te bespreek gaan na die webwerf www.gobarging.com.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|