Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 10-25°CVoorspellings |
|
Die plek waar die son kom rus
Die Letsatsi-wildreservaat tussen Bethulie en Smithfield, slegs 90 minute se ry van Bloemfontein af, is die geesteskind van Hennie Lamprecht, argitek en eiendomsontwikkelaar van Pretoria en boorling van Smithfield. In die ses jaar van sy bestaan het dit reeds ’n vierstergradering en ook ’n aantal pryse gewen, waaronder die PMR Golden Arrow-eerbewys in 2006 vir die beste kommersiële wildplaas en die beste private wildplaas in die Vrystaat, in 2006 en 2007 onderskeidelik. Dis ’n pragplaas met die mooiste golwende grasvlaktes en sandsteenheuwels denkbaar. Die stilte is die een allesoorheersende indruk en dit bied die afgematte reisiger van ons tyd daardie besonderse ervaring van wye, oop vlaktes met plek-plek wild, Karoobossies, groen bome en struike en tussenin net die stilte. Letsatsi beteken son in Sotho en die reservaat se slagspreuk is Die plek waar die son kom rus, maar dis ook ’n plek waar die mens tot rus kan kom. Met die hoofgeboue van die lodge wat ’n aantal sitkamers, kroeg en eetkamer en die 28 chalets insluit, is geen koste ontsien nie. Alles is smaakvol, luuks en prentjiemooi ingerig, van die vloere tot die dak, die ligte tot die skilderye, die meubels tot die pragtige badkamergeriewe – alles in Afrikastyl en met ’n Afrikageur. Dit word afgerond met ’n groot grasperk, fonteintjies, swembad en ’n dek wat ’n asembenemende uitsig bied oor ’n watergat en wye vlaktes, koppies en rante waar die diere rustig wei. Vir die meer avontuurlustiges is daar die Boskamp wat bestaan uit 22 tenthuisies, geleë in ’n nou klofie tussen populierbome en waar jy met houtpaadjies en hangbr?e loop oor waterstrome en met die kwaak van paddas en geritsel van nagdiertjies aan die slaap kan raak, terwyl jy na die helder sterrehemel staar. ’n Pragtige lapa en goed ingerigte ablusiegeriewe, met selfs ’n borrelbad tussen rotse, voltooi die prentjie. Soos dit hoort, kan gaste die Boskamp slegs per viertrekvoertuig of met die hulp van die personeel bereik. Die reservaat is ontwikkel met die oog op sowel die bewaring van die natuur as die omgewing en om die besoeker iets besonders te bied, nie alleen die rustigheid en afskakeling van ons besige daaglikse bestaan nie, maar ook waardering vir die natuur as geheel. In dié opsig word die besoeker blootgestel aan die wye vlaktes en ruimtes van die Suid-Vrystaat wat insluit die suiwer, onbesoedelde naghemel met die helderste helder Melkweg, sterre en planete. Vanweë die rustigheid en vrede is dit nie ongewoon om die andersins skugter nagdiere soos aardvarke en bakoorjakkalse helder oordag te sien nie. Ander diere, wat rustig rondwei en hulle min aan mense steur, is springbokke (wat die skaars swart soort insluit), rooiribbokke, blesbokke, rooihartebeeste, swartwildebeeste, koedoes, gemsbokke, sebras, elande en buffels. Die reservaat spog ook met witrenosters en kameelperde. Vir die voëlliefhebbers is daar die spesies waarna gewoonlik verwys word as die “LBJ’s – light brown jobs” of vaal voëltjies en wat insluit die klopkloppies, klappertjies, lewerikke, koesters, spekvreters en ander. Aktiwiteite op Letsatsi sluit in wildritte met ervare gidse, bergfietsritte, staproetes, kanovaarte in seisoen en natuurlik sterrekyksessies met kundiges. Dis ’n ideale plek vir konferensies, korporatiewe byeenkomste, kantoorgesellighede en natuurlik troues. Vir meer inligting, bel Charlene by 051-444-5716 of besoek www.letsatsigamelodge.co.za.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|