Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Kry nuus op jou selfoon
Volksblad-lesers kan nou hul gunsteling-koerant se nuushooftrekke sommer op hul selfone kry.
Egoli-feeks word mak
Egoli se über-feeks gaan binnekort 'n makker rol vertolk. Corine du Toit, beter bekend as Jane Edwards in Egoli, het 'n rol losgeslaan in 'n internasionale fliek.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           4-23°C

Voorspellings

Vrede en vreugde in dié waterparadys
Jun 20 2008 09:05:18:680PM  - (SA)  
Manie Wolvaardt



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Daar is soveel interessante en mooi dorpies in Europa waarop ’n mens al verlief geraak het: Gordes en St. Paul de Vance in Frankryk, Murten en Schaffhausen in Switserland, Rüdesheim en Blaubeuren in Duitsland...Maar ek en my vrou het verlede jaar aan die einde van Junie nog ’n juweel ontdek – Giethoorn in Nederland!

Hierdie dorpie met sowat 2 600 inwoners word heel dikwels die “Venesië van Holland” genoem.

Dit is taamlik sentraal in Nederland geleë, sowat 95 km noordoos van Amsterdam in die provinsie Overijsel, bekend as die “tuin van Nederland”.

Die naam Giethoorn vertel iets van die dorpie se interessante geskiedenis. Omstreeks 1230 het ’n groep vlugtelinge van streke rondom die Middellandse See hulle hier gevestig. Hierdie eerste inwoners het in die moerasse op versonke hope wildebokhorings afgekom; moontlik verdrink tydens die geweldige vloed van 1170. Hulle noem hul verblyfplek toe Geytenhorn (geit = bok). Mettertyd het die dialek dit in Giethoorn verander.

Die hoofbedryf in hierdie vroeë eeue was die uitspit van veengrond, wat gedroog as brandstof gebruik is. So het talle meertjies mettertyd ontstaan. Om die veen te karwei is verbindingskanale gegrawe. Gevolglik het die inwoners op die tussen-eilande hoë bruggies oor die kanale gebou om hul woonplekke te bereik. Vandag kan hierdie 18de- en 19de-eeuse woonhuise, kanale en bruggies steeds gesien word – uniek en ongeëwenaard.

In Giethoorn is geen hedendaagse lawaai nie. Motors word nie toegelaat nie; jy hou op ’n buiteparkeerplek stil en stap die dorpie met nou wandellane binne. So nou en dan moet jy padgee vir fietse, wat voorrang geniet. Jy stap langs en oor kanale. Op die noues vaar platboomroeibootjies, kano’s of elektries-aangedrewe fluisterbote, soos hulle dit noem, bykans geruisloos verby. Oral is bootjies vasgemeer.

Op die breër kanale neem groter toeristebote besoekers op ’n rondvaart; trouens, die beste manier om hierdie wonderwêreld te verken is juis om dit van die water af te doen. Die heerlikste is om self ’n fluisterboot of kano te huur en rustig rond te vaar.

Die bruggies oor die kanale is hoog gebou, sodat die groter bote gemaklik onderdeur kan vaar. Dit is heerlik om met die paar trappies van ’n brug op te stap en vandaar vir die verbyvarendes te staan en waai. Die ontspanne atmosfeer wat heers, word in die glimlaggende gesigte weerspieël. Die dag toe ons daar was, het die skole net gesluit. Oral het kinders vrolik rondgevaar – sommige met groterige kano’s, wat hulle met lang pale wat tot op die bodem van die kanale kan reik, voortgedu het.

Die grasdakhuise en omringende grasperke en tuine is soms werklik asemrowend. Ons het daar van die grootste krismisrose gesien – en sommige plante se blare is enorm. Jy druk die neemknoppie van jou kamera onophoudelik.

Dat so ’n lushof in Nederland kan bestaan, is bykans ondenkbaar! Ek wens dat ons vir ’n paar dae die rustigheid in hierdie klein paradysie kon geniet. Daar is ’n hele paar van die huise wat as gasteverblyf ingerig is en wat vooraf deur die internet op die webwerf www.zwaantje.nl/giethoorn.htm bespreek kan word. As iemand hierdie somer die Dietse lande gaan besoek, sluit tog Giethoorn in die reisprogram in!

Teken in op Volksblad


Vind
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer