Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Kry nuus op jou selfoon
Volksblad-lesers kan nou hul gunsteling-koerant se nuushooftrekke sommer op hul selfone kry.
'Karien' groet 7de Laan
Die Laan se gunsteling-blondekop groet. Christi Panagio (Karien Momberg) sal Maandag die laaste keer in die gewilde SABC2-sepie 7de Laan te sien wees.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           4-27°C

Voorspellings

Volg Borrow tot by ‘feetjiebrug’
Jun 30 2008 12:00:32:303PM  - (SA)  
sarel venter



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Die hoogste waterval in Wallis, die Pistyll Rhaeder met sy “feetjiebrug”, word nie verniet een van die Sewe Wonders van Wallis en een van die 14 redes om Wallis te besoek genoem nie. Dit is in ’n afgesonderde en eeue oue gletservallei van die pragtige Borwynberglandskap geleë en is ’n besoek werd.

Die Engelse skrywer George Borrow, wat Wallis 154 jaar gelede te voet deurkruis het – en wie se voetspore ek min of meer op ’n onlangse besoek aan Wallis gevolg het – vertel in sy boek Wild Wales die waterval het vir hom van ver af soos ’n grys laken gelyk wat oor ’n krans hang.

Ná ’n rit deur klein, rustige Walliese dorpies en met ’n smal paadjie wat van die dorpie Llanrhaeadr-ym-Mochnant ál hoër in die vallei kronkel, is ’n mens skielik by die waterval wat sowat 70 m hoog is.

Borrow skryf daaroor: “Met wat sal dit ek vergelyk? Ek weet eintlik nie, behalwe dat dit lyk soos ’n yslike sydoek wat omgeroer en versteur word deur onstuimige rukwinde, of soos die lang stert van ’n grys renperd op rasende spoed. Deur die kwistige lang silwerkleurige hare, of dit wat so lyk, kon ek die swart kranse sien waaroor die Rhyadr (soos hy dit gespel het) met iets tussen ’n dreuning en ’n gebulder neerstort.”

’n Natuurlike rotsbrug, die sogenaamde “feetjiebrug”, oorspan die stroom waar die hoogste deel van die waterval neerplons en dan loop die water onder die brug deur voordat dit verder na benede stort.

Dié rotsbrug was ’n letterlike steen des aanstoots vir Borrow wat gemeen het hy het water nêrens elders so sierlik sien neerstort nie, maar die rotsbrug, skryf hy, “was daar van die skepping af en sal tot die oordeelsdag daar bly, maar niemand sal jammer wees as die watervloed dit wegvoer nie”.

Borrow vertel hy het tot byna reg onder die waterval geklouter, tot waar die watersproei hom byna verblind het, en daarvandaan het die rotsbrug soos ’n spookagtige boog gelyk. “Dit is ’n brug eerder vir ysprydoedd (geeste) as vir mense.”

’n Vrou wat in ’n huis naby die waterval gewoon het – waar vandag ’n herberg, kroegie en eetplek is – het aan Borrow vertel iemand het al met die glibberige en nat rotsbrug voor die waterval verby geklim. Dit was glo ’n Rus wat “soos ’n llysowen (paling) oor die rots gekruip het”.

Oor die Pistyll Rhaeder het iemand êrens geskryf: “Ons kan nie vir jou te veel van die plek vertel nie. Selfs as ons die woorde kon vind, sou dit wees soos om oor die slot van ’n goeie boek of rolprent te praat.

“Dit is beter jy gaan kyk self. Laat weet ons wanneer jy gaan; ons sal jou daar ontmoet.”

Borrow het in die huis naby die waterval gaan karringmelk drink en die gasvrou het aan hom ’n boek gewys waarin besoekers hul indrukke kon neerskryf. Een van die aantekeninge in Wallies word hier weergegee ter illustrasie van die taal en met Borrow se Engelse vertaling daarby:

“Crychiawg, ewynawg anian – yw y Rhyadr

Yn rhuo mal taran;

Colofn o dwr, gloyw-dwr glan,

Gorwyllt, un lliw ag arian.”

Foaming and frothing from mountainous height,

Roaring like thunder the Rhyadr falls;

Though its silvery splendour the eye may delight,

Its fury the heart of the bravest appals.

Borrow het ná sy besoek aan die waterval met die vrou se man as gids teen die kranse opgeklouter en bo-op die Berwynberg deur ’n uitgestrekte moerasagtige veld, deur stroompies en oor heuwels vol struike, gebeur totdat hy by ’n pad gekom wat na die dorp Bala en sy meer lei.

Om by Bala te kom het ons na Llanrhaeadr-ym-Mochnant teruggery en toe deur die dorpies Penybontfawr, Llangynog, Pencraig en Pont Cwm Pydew gery om die berge na Bala oor te steek. (Terloops, die woord Llan waarmee baie plekname in Wallis begin, beteken kerk, en Pont, wat ook in talle name voorkom, is brug.)

Bala is ’n markdorp deurdrenk met geskiedenis. Dit is omstreeks 1310 deur Roger de Mortimer gestig om die rebelse mense van die Penllyn-gebied te onderdruk. Die Balameer (Llyn Tegid, of Meer van Skoonheid) by die dorp is 10 km lank en is die grootste meer in Wallis.

Aan die noordekant van die dorp is die Tomen Bala, ’n mensgemaakte kasteelheuweltjie uit die tyd toe die Normandiërs die land oorheers het.

Van die bouwerk wat dalk eens daarop gestaan het, is niks oor nie: net ’n elsboom wat oor die dorp troon, en met Borrow se besoek al ’n groot boom was.

Die vermoede bestaan ook die Tomen, wat sowat 9 m hoog en 40 m in deursnee is, is die graf van ’n antieke koning. Etlike sulke mensgemaakte heuweltjies van onbekende oorsprong kan glo oor Europa heen en in Asië gesien word.

Die Tomen bied ’n uitsig oor die dorp, die meer en die berge. Baie mooi.

Bala is die ideale plek om oor te bly en daarvandaan die berge, woude, mere en dorpe van Snowdonia te besoek.

  • Volgende keer: Die Duiwel se Brug en die Hotel George Borrow.

    Teken in op Volksblad


  • Vind
    Werksgeleenthede
    Versekering Vir Vroue
    Top Afrikaanse Boeke
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende


    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer