Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
'Dubbelvisie' op matriekafskeid
Ses pare tweelinge van die Hoërskool Brebner in Bloemfontein, het saam-saam na hul matriekafskeid by Illanga Estate in Bloemfontein gegaan.
Heino geslaan totdat hy Afrikaans kon praat
Die akteur Heino Schmitt vertolk reeds ’n paar jaar die rol van Altus in 7de Laan. Hy vertel van sy lewe en toekomsplanne.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           10-31°C

Voorspellings


Dunedin: méér as net die Huis van Pyn
Jul 14 2008 12:33:39:343PM  - (SA)  
jens friis



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

DUNEDIN (Nieu-Seeland). – As waarde geheg word aan byname is Dunedin beslis ’n eersteklas-bestemming, want dit staan ook bekend as die “Edinburg van die Suide”, die “Victoriaanse stad” en die “Athene van die Suidelike Halfrond”.

In dié stad vermeng die inwoners hul oorwegend Skotse erfenis met ’n nuwewêreldse kultuur wat daaraan ’n stabiele, maar lewendige gevoel gee. ’n Pioniersgeskiedenis, walvisse en ’n goudstormloop gee verdere kleur aan Dunedin.

En dan is daar die Huis van Pyn, oftewel Carisbrook, die suidelikste rugbytoetsveld ter wêreld. Die Bokke het al sewe keer hier uitgedraf en vir hulle is dit waarlik ’n pynhuis, want hulle het elke keer hier ’n loesing gekry.

Die stadion met sitplek vir 29 000 sal herbou word voordat die Wêreldbekertoernooi in 2011 in Nieu-Seeland aangebied word. Waar al die toeskouers sal tuisgaan, weet nugter, want Dunedin is – nes Stellenbosch – maar ’n groterige universiteitsdorp.

Die Universiteit van Otago dateer van 1869 en is vier jaar ouer as die Universiteit van Canterbury in Christchurch, Nieu-Seeland se naasoudste universiteit.

Danksy die mag der menigte studente het Dunedin ’n lewendige kafee- en nagklubkultuur. Dit is ook die tuiste van Aduki en Charmaine Reveley, twee van dié land se bekendste modeontwerpers en jaarliks word hier ’n groot modeweek gehou.

Dunedin is meer as 3 000 km verder suid as Johannesburg.

Dít verklaar dan ook grootliks sy koel klimaat en waarom daar geen lugverkoeling in die groot Cadbury-sjokoladefabriek is nie. Hiér word dit nooit só warm dat dié soetgoed sal smelt nie.

Weergewys is dit die aangenaamste om Dunedin in die warmer somermaande tussen Desember en Februarie te besoek. Maar dít is ook wanneer die meeste toeriste hierheen kom en pryse is dan hoog. Die teenoorgestelde is waar vir die winter (Junie tot Augustus) wanneer die Koningin van die Koue die Suid-eiland se berge wit poeier. Lente en herfs is ’n goeie middeweg.

Soos in Suid-Afrika is dit nou midwinter en dis hierom waarom die Bokke so koud in Nieu-Seeland kry. Anders as in Wellington was die kaartjies vir die kragmeting tussen die All Blacks en die Springbokke lank reeds uitverkoop in Dunedin. Daar is twee redes hiervoor. Die weervoorspelling vir Wellington was rêrig goor, maar die Huis van Pyn is ook kleiner.

Die All Blacks se woordvoerder het daarop gewys “Nieu-Seeland is nie Suid-Afrika nie”, want daar woon baie minder mense. Wat hy dus wou sê, is: Dis moeiliker om reuse-stadions in Nieu-Seeland vol te maak.

Dié uitlating is debatteerbaar, want rugbygeesdriftiges in Suid-Afrika is waarskynlik nie veel meer as in Nieu-Seeland nie.

Nietemin is dit so dat Suid-Afrika wel meer inwoners het – omtrent elf keer meer. Daar is nagenoeg 4 miljoen Nieu-Seelanders en sowat 44 miljoen Suid-Afrikaners.

Suid-Afrika (1 233 404 vierkante kilometer) is ook aansienlik groter as dié eilandland (268 812 vierkante kilometer). Volgens die Penguin Factfinder is Suid-Afrika die 25ste grootste land ter wêreld en Nieu-Seeland die 73ste.

Dít verklaar waarom jy deur groot dele van veral die Suid-eiland (waar Dunedin is) kan ry sonder dat jy ’n mens gewaar. Veral in die westelike dele voel jy werklik baie meer afgesonder as in die Karoo. Dis ook die geval op die pragtige Otago-skiereiland naby Dunedin waar jy op ’n oneindige lang spierwit strand kan sit en kyk hoe die branders van Antarktika af aangerol kom. Toe die eerste setlaars hier geland het, sou dit weinig anders gelyk het.

Volgende Saterdag speel die Bokke teen die Wallabies in Perth, Australië. Dis ’n dagreis ver met al die vlugte en oorklimslae, maar hoewel Perth se wêreld maar vaal is teenoor Dunedin s’n sal dit daar na alle waarskynlikheid droër en warmer wees. En dít sal vir die Springbokke ’n welkome verandering wees – ná Wellington én Dunedin.

Teken in op Volksblad


Vind
Direct Axis Lenings
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer