Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 1-22°CVoorspellings |
|
Ek hou van jou vaal ou Karooland
’n Plaaslike boer William Quinton het reeds in die jare vyftig begin met versoeke vir ’n bewaringsgebied in die omgewing van Beaufort-Wes. Dit was egter in die jare sewentig toe die ou Nasionale Parkeraad, nou SANParke,die skepping van ’n nasionale park voorgestel het wat verteenwoordigend sal wees van die Nama-Karoobioom. Met ’n aanvanklike skenking van 7 209 ha meentgrond deur die stadsraad van Beaufort-Wes is die Nasionale Karoopark in 1979 amptelik gestig en grens dit aan die dorp. Daarna is verdere grond bygekoop en in 1989 is ’n luukse ruskamp in gebruik geneem. Daar is steeds ontwikkeling aan die gang en pas is ’n nuwe sirkelroete van 45 km voltooi om besoekers beter toegang tot wildgebiede te gee. Die park vorm deel van een van die Karoo se klassieke studies en versameling van die rykdom van antieke versteende fossiele van die lang vergaande Karoodiere. Die park is ook ’n toonbeeld van geologiese ontwikkeling en verandering deur die eeue heen en dit word duidelik weerspieël in die lae van die Nuweveldberge se eskarpe. Dit is veral sigbaar wanneer ’n mens die Klipspringerpas volg langs die noukeurig handgeboude pad, wat met klippe gepak is volgens die resep wat aanvanklik deur Thomas Bain en sy seun gebruik is. Die sirkelpad sluit op die middelplato aan om die besoeker weer af te neem na die vlaktes by Doornhoek. Vir besoekers wat belang stel in fossiele is ’n kort wandelpad ingerig waar fossiele in glaskaste besigtig kan word met volledige beskrywings. Baie moeite is gedoen om die besoeker ’n goeie beeld te gee in miljoene jare se geskiedenis. Naby die Stoltzhoek-kampeerterrein is ook ’n volledige interpretasiesentrum ingerig, waar die historiese ontwikkeling van die gebied grafies uitgebeeld word. ’n Besoek aan hierdie sentrum is werklik verfrissend en ’n moet vir besoekers. Die Kaaps-Hollandse boustyl van die ruskamp help ook om die idee van rustigheid en momente vasgevang in tyd te skep. By die hoofgebou is ’n pragtige ontvangsgebied met uitstekende geriewe wat die restaurant en geriefswinkel insluit. Ontbyt (en puik daarby!) met gerieflike ure om in te pas by wildritte, is ingesluit by verblyf in die park. Dit maak hierdie park, saam met al die ander belewenisse, regtig uniek. Wat wild betref, spog die park met swartrenosters, buffels, gemsbokke, elande, swartwildebeeste, koedoes, rooihartebeeste, springbokke, rooiribbokke, grysribbokke en natuurlik klipspringers. Daar is ook die bedreigde Kaapse bergkwagga en die meer bekende Burchell se sebra. Die park is ook besig met pogings om die uitgestorwe Kaapse kwagga terug te teel met beskikbare genemateriaal en positiewe resultate is al behaal. Benewens die sowat 200 aangetekende voël?spesies, huisves die park ook 5 verskillende soorte skilpaaie en is ook die tuiste van die bedreigde oewerkonyn. Die neste van 20 broeipare witkruisarende is hier aangeteken, wat dit waarskynlik die digste bevolking daarvan in die land maak. Sedert die sluiting van die woonwapark op Beaufort-Wes maak talle woonwagebruikers deesdae gebruik van die puik oornaggeriewe in die park en om sommer ’n smakie te kry van die natuurlewe. Die park is ook dagbesoekervriendelik en daar is ’n pragtige piekniekgebied met ’n groot, skoon swembad, braai- en wasgeriewe. My algehele indruk van die park was dat dit voorwaar een van ons beste nasionale parke is, wat gerus meer waardeer en besoek kan word. Met Beaufort-Wes naby, kan besoekers sommer ’n draai maak in dié historiese dorp ook. Die dorp is aangelê op die plaas Hooyvlakte in 1818 op versoek van Lord Charles Somerset, destydse goewerneur van die Kaap. Die naam is ter ere van sy pa, die vyfde hertog van Beaufort. Die naam Hooyvlakte kom van die setlaarboere Abraham en Jacob de Klerk waar die lang, wuiwende grasvelde hulle herinner het aan koringlande. Een van die dorp se groot seuns is prof. Chris Barnard, die beroemde hartchirurg, en hy word geëer in drie historiese geboue, almal nasionale gedenkwaardighede en museums, naamlik die Ou Stadsaal, wat dateer van die vroeë 1830’s, die Pastorie, waar hy grootgeword het en ook die Ou Sendingkerk, waar sy vader as sendeling gepreek en sy moeder die orrel bespeel het.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|