Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 14-30°CVoorspellings > |
|
Santiago tel flink kop op
Stel jou ’n metropool voor waarin jy tussen hemelhoë wolkekrabbers staan en as jy opkyk, verrys die naashoogste bergreeks ter wêreld rég voor jou. Van dié Andespieke is hoër as 5 000 m. ’n Dramatieser ligging vir ’n stad kan jy skaars kry. Santiago de Chile is die blyplek van ses miljoen mense (sowat dubbeld Kaapstad se grootte). Dis ’n lewendige, progressiewe stad met ’n glinsterende gesig. Tog is dit ook huis vir sukkelende kunstenaars wat die Plaza de Armas volpak in die hoop op ’n besoekende dollar en werkers wat ure pendel van vervalle villas misérias aan die stad se buitewyke om hul brood te verdien in eksklusiewe woonbuurte. Nietemin gaan dit in Santiago beter as ooit. Die grootste deel van die 20ste eeu het Chili wipplank gery tussen militêre heerskappy en militante sosialisme – albei aangevuur deur ryk koperneerslae in die Atacama-woestyn. Maar in 1990 is demokrasie uiteindelik herstel ná ’n vrye verkiesing. Sedertdien beleef dié land ’n blink groeikoers van 6% per jaar – die hoogste in Latyns-Amerika. Sekerlik dié simbool van Chili se wrede verlede is die Palacio de la Moneda wat in 1805 gebou is as een van koloniale Spanje se finale bouprojekte. Dié regeringsgebou in Santiago was die fokus van genl. Augusto Pinochet se 1973-staatsgreep. Vliegtuie wat hierop afpyl en dit bombardeer sou een van die ikoniese beelde word van die 20ste eeu. Kort ná dié aanval het pres. Salvador Allende in dié gebou op ’n misterieuse manier gesterf. Nooit kon vasgestel word of hy vermoor is en of hy selfmoord gepleeg het nie. Vandag nog is hierdie paleis die Chileense regeringsetel en gaatjies in die elegante fasade herinner steeds aan die skote wat eens hier geklap het. Maar ondanks ’n geskiedenis van menseregteskendings, erge lugbesoedeling en sakkerollers in veral die Centro het Santiago ook vele pluspunte. Die stad het ’n hoë geletterdheidsyfer en het al meerdere Nobelprys-skrywers opgelewer onder wie Pablo Neruda en Gabriela Mistral. Ewe bekend is Isabel Allende, die niggie van die eertydse president. Om politieke redes speel slegs haar boeke hier af. Sy moes na Amerika vlug ná Salvador se dood. Lees gerus Allende se House of the Spirits en Neruda se Passions of the Impressions voordat jy ’n draai in Santiago maak. Ook die volgende flieks speel gedeeltelik hier af: Taxi Para Tres (’n Taxi vir Drie, 2001), El Chacotero Sentimental (Die Sentimentele Uittarter, 19991) en Johnny 100 Pesos (1994). Die El Mercurio Online se webblad (www.emol.com) is ’n gesaghebbende bron om meer te wete te kom van konserte en klubs tot flieks en restaurante. Dis wys om die res van Chili in die week te verken en oor ’n naweek in die hoofstad te wees. Dis makliker om dan oor die weg te kom, want Santiago is naweke stiller. Boonop skiet naweekmarkte oral op en kom Santiago se alombekende naglewe Vrydae en Saterdae veral op dreef. Niemand gaan eet uit voor 21:00 nie, en niks gebeur in klubs voor middernag nie. Die inwoners is vriendelik, trek goed aan en is ietwat teruggetrokke ondanks hul voorliefde om laat uit te bly. Bellavista en die duurder Providencia is bekend vir sy restaurante, salsotecas en nagklubs wat oneindigende moontlikhede inhou, Barrio Santa Lucia vir sy straatkafees, en Barrios París Londres en Concha y Toro vir hul boomomsoomde strate en neo-klassieke argitektuur. Skaf Chileense handwerk aan soos handgeweefde alpacaserpe, Mapuche-silwerjuwele, die lapis lazuli-edelsteen en koperware by die kunstenaarsdorpie Centro Artesanal de Los Dominicos. Dalk die bekendste mark is die Mercado Central met ’n wye verskeidenheid goedere teen billike pryse. Dis beslis dié plek vir seekos. Galindo, ’n tradisionele, boheemse eetplek wat onder Pablo Neruda se gunsteling-eetplekke getel het, is sterk aan te beveel vir middagete. Die gebied rondom Santiago is ’n mikrokosmos van Chili. Soggens kan jy op die strand lê by Viña del Mar, smiddae ski by Portillo en dan net voor sononder die Chileense wynplase verken. Santiago en sy onmiddellike omgewing bied voorwaar (nes Suid-Afrika) ’n wêreld in een land. Boonop gaan dit deesdae voor die wind in dié stad wat dekades lank feitlik van die res van die wêreld afgesny was. Santiago se deure staan wawyd oop – wagtend om jou te ontvang. Gaan maak ’n draai voordat dié stad se vooruitgang beteken dat dit té duur gaan word vir Suid-Afrikaners. WERD OM TE WEET: Santiago bied die hele jaar baie vir die toeris. Hoewel donderbuie tussen Maart en Mei verwag kan word, is dié reën meestal van korte duur. Herfs is goedkoper, want dis buite seisoen en boonop verkleur die wingerde op die Chileense wynplase. Dié stad gaan jou omtrent 30% per dag meer uit die sak jaag as die res van Chili. Dis ’n vermoeiende vlug van Johannesburg/Kaapstad af en dan gewoonlik via Buenos Aires na Santiago se Aeropuerto Arturo Merino Benitez. Dit is dus wys om jou reisplan só te reël dat jy eers kans kry om ’n bietjie te slaap voordat jy die Chileense hoofstad invaar.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||||||
|
|