Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 14-30°CVoorspellings > |
|
Dié VS-leeubestemming is op jou voorstoep
Die Soetdoring-natuurreservaat is sowat 35 km van Bloemfontein op die Bultfontein-pad (R700) en is geleë aan albei kante van die Modderrivier en die westelike grens is die bolope van Krugersdriftdam. Die belangrikste van die diverse natuurlewe wat daar voorkom, is leeus en jagluiperds wat in spesiale kampe aangehou word en ’n groot trekpleister is. Hierdie pragdiere kan uit die veiligheid van jou motor van naby besigtig word en dis beslis ’n pluimpie vir hierdie reservaat. Die reservaat het twee ingange. Die oostelike ingang is by die Modderrivier van die Bultfonteinpad af. Hier kan besoekers, benewens om diere en die volop voëllewe te besigtig, oornag- en daguitstappies geniet om piekniek te maak, te hengel en sommer in die algemeen die natuur en buitelewe geniet. Oral langs die rivier is braai- en toiletgeriewe. Tydens my besoek onlangs was dit egter baie vuil by al hierdie plekke en dit het ’n slegte indruk gelaat. Ek merk dat ander besoekers dieselfde ondervinding gehad het en al hul klagtes op die internet gepos het. ’n Mens kan maar net hoop dat die bestuur daadwerklik iets aan die saak sal doen. By die oostelike hek is ook ’n moderne konferensiesentrum met ’n kombuis en braaiplek onder dak wat gehuur kan word vir gesellighede en vergaderings, en so meer. ’n Unieke oornaggerief van aangepaste treintrokke met ’n lapa is beskikbaar en is na verneem word baie gewild. Die kompleks het ’n grasdak en is paslik tussen soetdoringbome geplaas om in te skakel met die natuur. ’n Restaurant word ook nog beoog en pragtige houthuise word nou op die oewer van die rivier gebou om meer oornagbesoekers te huisves. Die Krugersdriftdam is algemeen bekend vir watersport, soos bootry en waterski. Dis ook ’n hengelparadys. Soetdoring is ’n ten volle bewaarde provinsiale natuurreservaat wat 6 247 ha beslaan, waarvan 2 056 ha deel van die Krugersdriftdam is. Die reservaat (en omliggende dele langs Modderrivier) spog met ’n voëllys van amper 280 spesies! Voëlhabitatte sluit hoofsaaklik die dam in, doringveld langs die Modderrivier, ranteveld in en om die leeukamp, grasveld en oop kolle met Karooveld-eienskappe. Van die besonderse voëlspesies wat voorkom, is die gompou, kleinriethaan, swartriethaan, swarteend, knobbeleend, fluiteend, gevlekte eend, flaminke, bontelsie, rooipootelsie, reuse-reier, ralreier, groenrugreier, vleiloerie, hamerkop, Natalse fisant, rooikeelbyvreter, kardinaalspeg, pêrelborsswael, slangverklikker, Kalahariwipstert, Namakwa-langstertjie, verskeie lewerikspesies, swartwangsysie en staalblousysie. Onder roofvoëls tel die breëkoparend, rooiborsjakkalsvoël en witkruispaddavreter, terwyl die bruinslangarend en oostelike rooipootvalk ook al opgemerk is. Vir diereliefhebbers is daar gemsbokke te sien, asook elande, springbokke, blesbokke, swartwildebeeste, sebras en rooihartebeeste wat op die oop vlaktes wei, terwyl rooibokke en koedoes in die digter bosse en bome naby die rivier hou. Steenbokke, duikers en rooiribbokke kom ook algemeen voor. Likkewane, otters, muishonde, rooijakkalse, rooikatte, muskejaatkatte en die Afrika-wildekat is van die predatore wat daar voorkom. Soetdoring is ’n belangrike Vrystaatse bewaringsgebied en beslis ’n besoek werd. As toestande daar pla, bring dit asseblief onder die aandag van die bestuur. Vir verdere inligting skakel 051-433-9002.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||||||
|
|