Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 2-20°CVoorspellings |
|
Bram Fischer se lewe bevat baie fasette
In die brief van B.J. v. N. Laubscher (15/5/08) waarin verwys word na Bram Fischer en kommunisme, word aannames oor hom gemaak wat tog effens vergesog is. Nietemin word dié insette waardeer, want ’n Fischer-debat is gewoonlik kookwater. Bram Fischer se lewe bevat baie fasette en afhangende aan watter kant van die politieke spektrum mens staan, is dit oop vir uiteenlopende vertolkings. Fischer word allerweë erken as ’n struggle-ikon en daarom verdien die opmerking dat hy swart mense wou misbruik om sy kommunistiese ideologie in Suid-Afrika te vestig nie verdere kommentaar nie. Ná sy terugkeer uit Rusland, soos die betrokke brief beweer, was hy nie onmiddellik ’n geharde kommunis nie. Hy het hom eers tussen 1938 en 1942 werklik met kommunisme vereenselwig omdat hy dit toe as die enigste party beskou het wat nie op ras gegrond was nie. Ook was alles wat hy gedoen het nie daarop gemik om as wêreldleier erkenning te kry nie. Hy het werklik daarna gestrewe om swart mense te bevry en die “roem” wat mettertyd daarmee sou saamgaan, was vir hom ’n bysaak. Die ander punt is natuurlik dat kommunisme soos deur die Kremlin toegepas is, nie lukraak op Fischer en sy sienings in ’n Suid-Afrikaanse konteks afgelaai kan word nie. Hoe meer historici sy lewe ontleed, hoe meer blyk dit dat, ofskoon hy ’n lid en leier van die ortodokse SAKP was en ’n mens sou dink dat hy Stalinisme voluit gesteun het, hy eerder ten gunse van die liberale sosiaal-demokratiese visie van die ANC was. Sy ateïsme is ook ’n interessante aspek van sy lewe. Veral deur sy ma, die bekende Ella Fischer wat diep spore in die openbare lewe in Bloemfontein getrap het, het Bram ’n Christelike agtergrond gehad. In 1928 is hy in die Klipkerk in Bloemfontein voorgestel. Ofskoon dit algemeen genoem word dat hy later ’n ateïs was, is dit insiggewend dat hy ná sy vrou se dood in ’n tragiese motorongeluk waarvoor hy homself verwyt het, soms God se naam in sy pyn aangeroep het. Hoe ook al, Fischer se lewe kan uit verskillende hoeke benader word sonder om altyd klinkklare antwoorde te kry. Of jy met hom saamstem oor sy politieke sentimente of nié, dit was en is duidelik dat Bram Fischer deur die jare uit baie oorde, behoudend (hoewel menigeen in veral Afrikanergeledere dit nie sommer in die openbaar sou erken nie) en liberaal, bewondering afgedwing het vir sy beginselvastheid en innemende karakter. Dr. Hannes HaasbroekDepartement geskiedenis, Nasionale Museum, Bloemfontein
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|