Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Naghowe ‘is 'n briljante plan’
Naghowe vir Suid-Afrika om die geweldige agterstand in strafsake te probeer wegwerk, kan eersdaags 'n werklikheid wees.
André P. Brink se susterskind doodgeskiet
“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika oorgelaat is aan die genade van barbare.”
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           10-25°C

Voorspellings
Sudoku

1968- Die jaar wat die wêreld geruk het
Apr 11 2008 04:15:02:213PM  - (SA)  
André Pretorius



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

DIT bly een van die skokkendste nuusfoto's uit 'n eeu wat nie te kort geskiet het aan grubeelde nie: teen die agtergrond van 'n haas verlate straat in Saigon, sprekend van die chaos van konflik, rig die oënskynlik uitdrukkinglose Viëtnamese figuur sy rewolwer op kort afstand teen die kop van 'n ander Viëtnamese man.

Wat daarop volg, word op die stil foto net gesuggereer (dit is wel in op video vasgelê): Nguyen Ngoc Loan, hoof van die polisiemag van Suid-Viëtnam, trek die sneller, en sy slagoffer sak ineen ? net nog 'n naamlose slagoffer (daar is steeds onsekerheid oor sy identiteit) van 'n meedoënlose konflik.

Dit was 1 Februarie 1968, 'n dag ná die aanvang van die Viëtkong se Tet-offensief teen Suid-Viëtnam en die Amerikaners. Die anonimiteit van die slagoffer ten spyt het die kamerasluiter van die fotograaf Eddie Adams verseker dat sy dood om die aardbol weergalm.  Daardie teregstelling in die hitte van die oomblik het - ten regte of ten onregte - die illusie van Amerika se beskawende missie teen die "kommunistiese golf" in Suidoos-Asië aan skerwe laat spat.

Adams se foto bly een van die definiërende beelde van daardie jaar, vanjaar 40 jaar gelede, toe ontnugtering met die VSA se rol in Viëtnam net een van die faktore was wat die oppervlak van die internasionale orde ontstuimig laat kook het. Van Praag tot die Vatikaan, Parys tot Saigon, Mexiko tot Memphis, het gebeure plaasgevind waarvan die eggo's jare later nog gehoor is, selfs tot in ons tyd.

Dit was - in die titel van Mark Kurlansky se boek van 'n paar jaar gelede - The Year that Rocked the World.

Gebeure in Viëtnam was die dryfveer agter 'n onstuimige verkiesingsjaar in die VSA. Die Viëtkong se Tet-offensief teen die einde van Januarie, gedurende die Viëtnamese Nuwejaar of Tet-vakansie, was uiteindelik militêr 'n volslae mislukking: Vele duisende meer Viëtkong-guerrillavegters as Amerikaanse en Suid-Viëtnamese soldate het gesterf.

Tog was die offensief 'n propaganda-oorwinning soos min vir die guerrillas. Nadat die Noord-Viëtnamese regering 'n tydelike skietstilstand vir die vakansieperiode aangekondig het, het tienduisende Viëtkong-lede 'n reeks aanvalle regdeur die land gedoen. Selfs die Amerikaanse ambassade in Saigon is enkele ure beset. Die Viëtkong-aanslae is binne ure afgeweer, maar die onhoudbaarheid van die Amerikaanse posisie in Viëtnam het Amerikaners op hul TV-skerms tuis gekonfronteer.

Skielik was in pres. Lyndon B. Johnson se eie Demokratiese geledere teenstand teen Johnson se benoeming as kandidaat vir die presidentsverkiesing in November. Vier en 'n half jaar nadat Johnson by sy vermoorde broer as president oorgeneem het, het senator Robert Kennedy teen die einde van Maart sy kandidatuur aangekondig, deels weens Johnson se weiering om die VSA se rol in Viëtnam te hersien.

Enkele dae later het Johnson onverwags aangekondig dat hy nie herkiesbaar is nie.

In die daaropvolgende voorverkiesings het Kennedy ’n voorsprong bo sy opponent, Eugene McCarthy, opgebou, waaronder sy oorwinning in Kalifornië op 4 Junie. Op 5 Junie het hy sy oorwinningstoespraak in die Ambassador Hotel in Los Angeles gehou.

Op pad na ’n nuuskonferensie het hy kortpad gekies deur die hotel se kombuis, waar ’n oënskynlik versteurde Palestyn, Sirhan Sirhan, hom met ’n .22-rewolwer ingewag het. Kennedy is drie keer getref.

’n Dag later het hy aan sy wonde beswyk, en die droom van ’n tweede Kennedy in die Withuis het saam met hom gesterf.

Johnson se adjunk-president, Hubert Humphrey, was uiteindelik die Demokratiese kandidaat, maar Richard Nixon het in die verkiesing getriomfeer. Sy verkiesing sou die voorspel wees tot verdere eskalasie in Viëtnam en sou eindig in die vernedering van Watergate.

Die dood van Bobby Kennedy was nie die eerste hoë- profiel-sluipmoord van die jaar nie. Op 4 April was die burgerregteleier en wenner van die Nobelprys vir Vrede, dr. Martin Luther King, in Memphis, Tennessee, vir ’n protesoptog van ’n plaaslike vakbond teen swak werksvoorwaardes vir swart werkers.

King was op die balkon van ’n plaaslike hotel saam met eerw. Jesse Jackson toe ’n enkele skoot uit die geweer van James Earl Ray die droom beëindig het waarvan King in 1963 in Washington in sy gevierde “I have a dream”-toespraak gepraat het.

King se ideale van ’n nierassige Amerika eggo 40 jaar later in die verkiesingsveldtog waarin ras en die lojaliteit van swart Amerikaners op die voorgrond gedwing is deur die eerste geloofwaardige swart presidentskandidaat, Barack Obama.  Obama is deur die gewraakte uitlatings van sy geestelike mentor, eerw. Jeremiah Wright, gedwing om die rassekwessie in ’n beduidende toespraak aan te roer.

Rassespanning in die VSA – in die dekade van die burgerregtebeweging – was ook nie in 1968 beperk tot die moord op King en die onluste wat daarop gevolg het nie. Soos vanjaar, het politiek in 1968 ’n skadu gewerp oor die Olimpiese Spele gewerp.

Nie net is die apartheid-Suid-Afrika ’n tweede keer gevra om weg te bly nie, maar twee swart Amerikaanse atlete, Tommie Smith en John Carlos, het politieke protes gebring tot in die hart van die Olimpiese arena. Toe die Amerikaanse volkslied gespeel is vir hul medaljeseremonie ná die 200 m-wedloop – waarin hulle goud en brons verower het – het hulle die swartmagteken van ’n gebalde vuis in ’n swart handskoen gegee.

Dit was egter nie net in die VSA waar die politieke waters gewoel het nie. In Europa het dit ewe ontstuimig daaraan toe gegaan. In Maart 1968 is ’n kettingreaksie van studenteprotes in Parys ontketen toe protesbewegings by ’n aantal universiteite losgebars het.

’n Mengsel van kommunisme, vrye seks en opstand teen die tradisionele moraliteit van die na-oorlogse skikking het die lewe geskenk aan die onrus wat uiteindelik sou lei tot die sogenaamde Gebeure van Mei, waarin die regering van generaal Charles de Gaulle tot die rand van ineenstorting gedwing is.

Die straatversperrings het herinneringe opgeroep van Parys se vorige rewolusionêre konvulsies – in 1789, 1848 en 1871 – en ’n ganse ikonografie is gebore wat steeds voortleef. Teen Mei het die studenteprotes versmelt met betogings deur die vakbonde, en op 11 Mei het ’n miljoen betogers Parys op horings geneem.

Die onluste het voortgesleep, en op 29 Mei het De Gaulle in die geheim sy toevlug tot ’n Franse weermagbasis in Duitsland geneem om die steun van die Franse leër vir ’n staatsgreep te toets ten einde orde te herstel. By sy terugkeer het hy egter ’n verkiesing uitgeroep – wat hy gemaklik gewen het – en die oproer is in bedwang gebring.

Die erfenis van die soixante-huitards leef steeds voort in die Franse politiek – en elders. Nie net is figure soos Daniel Cohn-Bendit, een van die destydse studenteleiers, steeds polities aktief as lid van die Europese Parlement nie.

Die huidige president, Nicolas Sarkozy, se veldtog om die Elysée-paleis was in groot mate ’n reaksie op wat sy ondersteuners sal bestempel as die “ruggraatloosheid van ’68”.

Die studenteprotes het uitgekring, onder meer na die Duitse universiteit van Tübingen, waar ’n jong professor in teologie se klasse deur stakende studente ontwrig is.

Die aanskoue van anargie het volgens sommige biograwe in Joseph Ratzinger ’n blywende weersin in rewolusie aangewakker. Later, as die Vatikaan se hoof van dogma, het hy anargie met outoritarisme beveg, maar as pous Benedictus XVI het hy ’n gematigder koers ingeslaan.

Rewolusie was ook elders in die lug – nêrens anders as in die selfverklaarde tuiste van die rewolusie nie: agter die Ystergordyn. Die gebeure wat bekend sou word as die Praagse Lente het in Januarie begin met die verkiesing van Alexander Dubcek tot leier van die Kommunistiese Party in Tsjeggo-Slowakye.

Dubcek het hervormings deurgevoer met die oog op “sosialisme met ’n menslike aangesig”. Sensuur is versag, vryheid van spraak is bevorder en regeringskritici is vrygelaat.  In die era van Leonid Brezjnjef se Sowjet-bewind was menslikheid egter ondergeskik aan solidariteit met die internasionale rewolusionêre orde.

Ná maande van skadugevegte tussen Praag en Moskou oor die koers van hervorming in Tsjeggo-Slowakye het die tenks van die Warschau-verdrag op die nag van 20-21 Augustus oor die grens gerol om die blom van Praagse demokrasie in die kiem te smoor.

Dubcek en sy kollegas is uit die kussings gelig, en die Brezjnjef-doktrine is gebore. Eers 21 jaar later sou Michail Gorbatsjof oor die begrafnisrite van dié gewraakte hoeksteen van Sowjet-hegemonie in Oos-Europa toesig hou.

Te midde van al hierdie woelinge het ’n ondramatiese gebeurtenis op 25 Julie plaasgevind wat die afgelope vier dekades eindelose debat ontlok het.

 Dit was niks meer opspraakwekkend nie as die uitreik van ’n pouslike ensikliek deur die Vatikaan. In dié dokument, Humanae Vitae, het Paulus VI die Rooms-Katolieke Kerk se leer oor geboortebeperking uitgevaardig. In reaksie op die seksuele bevryding en permissiwiteit wat die sestigerjare gekenmerk het, het die pous verklaar dat enige vorm van kunsmatige geboortebeperking sonde is.

Die negatiewe reaksie op sy uitspraak het hom glo só geskok dat hy vir die oorblywende dekade van sy pousskap geen verdere ensiklieke uitgevaardig het nie.

Paulus VI was nie die enigste wêreldleier wat in die hitte van 1968 geskroei is nie. Dit was ’n waterskeidingsjaar, ’n jaar waarin die bestaande orde onder skoot gekom het en waarin dekades se ideologiese en filosofiese dispuut gebore is, ’n jaar wat in vele opsigte vorm gegee het aan wat daarop gevolg het.

1968: 'n Suid-Afrikaanse tydlyn

3 Januarie : Die verkose staatspresident, dr. T.E. Dönges, sterf ná 'n lang siekbed.

1 Februarie : J.J. (Jim) Fouché eenparig tot president verkies.

15 Februarie : Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) besluit Suid-Afrika mag hertoegelaat word tot die Olimpiese Spele.

26 Maart : Drie wetsontwerpe wat te doen het met die toekoms van die "Kleurlingbevolking" word in die vooruitsig gestel: Die Wetsontwerp op die Verbod op Onbehoorlike Inmenging, die Wysigingswet op die Aparte Verteenwoordiging van Kiesers, en die Wysigingswetsontwerp op die Verteenwoordigende Kleurlingraad. Almal word gedurende 1968 aanvaar.

27 Maart : Die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike nr. 21 word in werking gestel.

10 April : J.J. (Jim) Fouché word in Kaapstad ingehuldig as president.

21 Mei: Die Wysigingswetsontwerp op die Verteenwoordigende Kleurlingraad word aanvaar met die steun van die opposisie. Dit maak voorsiening vir die vergroting van die bestaande raad tot 40 verkose en 20 genomineerde lede, en gee aan die raad 'n beperkte jurisdiksie oor "Kleurlingsake". Die Wetsontwerp op Onbehoorlike Inmenging word deur die parlement gevoer, met die teenstem van die opposisie. Dit verbied veelrassige lidmaatskap van politieke partye, deelname aan die aktiwiteite van politieke partye waarvan die lede aan een rassegroep behoort, deur lede van 'n ander rassegroep. Dit verbied politieke partye ook om fondse uit die buiteland te aanvaar.

1 Junie: Die regering kondig in 'n witskrif aan dat hy die administrasie van Suidwes-Afrika wil herorganiseer sodat hy aansienlik groter magte oor dié gebied kry. Julie: By die jaarlikse kongres van NUSAS (Nasionale Unie vir Suid-Afrikaanse Studente) bespreek Steve Biko hul tweederangse rol binne dié unie met swart studente. Later begin Biko die idee van 'n universiteitsbeweging uitsluitlik vir swart studente aktief bevorder.

3 Julie: Die Wet op Gevaarlike Wapens nr. 71 verbied die besit van wapens wat liggaamlike besering kan veroorsaak indien dit in 'n aanval gebruik word.

9 Augustus : Eerste Minister Vorster herorganiseer sy kabinet om die "verligte" elemente te versterk. Hy stel Blaar Coetzee, Lourens Muller, Fanie Botha en Connie Mulder aan.

14 Augustus : Studente-betogings word gehou om beswaar te maak teen die regering se verbod op die aanstelling van 'n swart dosent, A. Mafeje, in die departement van sosiale antropologie aan die Universiteit van Kaapstad. Vorster dreig om in te gryp indien die universiteitsowerhede die betogings nie binne 'n redelike tyd onderdruk nie.

17 September : Vorster kritiseer die besluit om 'n bruin krieketspeler, Basil d'Oliveira, in te sluit in die toer van die Britse MCC-span na Suid-Afrika in 1968. Hy vra die MCC om die toer te kanselleer.

21 Oktober : 'n Ope brief deur twaalf Protestantse kerkleiers word bekend gemaak. Daarin voer hulle aan dis onmoontlik dat politieke uitsprake vanaf die kansel gestaak word.

14 November : Die Ciskei-tuisland word geskep.

Desember 1968 : Op 'n vergadering van sowat dertig lede van swart studenterade vind Steve Biko 'n bemoedigende aanvaarding van sy idee van 'n swart organisasie. Daar word besluit op die naam South African Students Organisation (SASO).

2 Desember : Die 23ste vergadering van die Verenigde Nasies aanvaar 'n resolusie wat Suid-Afrika se apartheidsbeleid veroordeel. Die Algemene Vergadering versoek alle state en organisasies "om kulturele, opvoedkundige, sport en ander betrekkinge op te skort met die rassistiese regime en organisasies of instellings wat apartheid in Suid-Afrika toepas".

21 Desember : 'n Veldtog van drie maande om bruin kiesers te registreer kom tot 'n einde nadat net die helfte van die sowat 700 000 stemgeregtigdes geregistreer het.

Teken in op Volksblad


Vind
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer