Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 10-25°CVoorspellings |
|
Oppas! Hy loer vir jou...
George Orwell het in sy boek 1984 ’n gonsterm gebruik wat sy werk verewig het in die mond van selfs diegene wat niks van hom of sy werk af weet nie. Die term is “Big Brother”. Nou ja, die meeste mense ken Big Brother seker as ’n televisiereeks waar vreemdelinge saam in ’n huis gegooi word. Die ou wat die ander ou se stink voete die minste kan verdra, val uit en die ou met die stink voete word die laaste oorblywende deelnemer en wen ’n miljoen rand en ’n eienaardige, nuwe soort roem. Die oorspronklike “Big Brother” is egter ’n ander saak. Die meeste By-lesers sal seker weet, maar ter wille van die oningeligtes net kortliks: George Orwell het in sy boek ’n wêreld voorgestel waarin die almagtige staat kameras en klank- toerusting het wat die private lewe van elke burger noukeurig dophou en oortreders van die regering se wette met betrekking tot burgerlike doen en late, en uiteindelik ook denke, vervolg en straf. So ’n infrastruktuur is natuurlik in die praktyk haas ontoepasbaar. Hoeveel manne verg dit nou eintlik om ’n man dop te hou? Ek sou sê ten minste een. En wanneer die helfte van die volk se werk is om die ander helfte dop te hou, dan sal die produktiwiteit van die land sodanig daal dat die ekonomie waarskynlik in duie sal stort. Hier in Suid-Afrika sal ons dalk langer as die meeste ander lande oorleef omdat die meeste van ons in elk geval niks doen nie. Maar uiteindelik is dit nie ’n prakties haalbare bestel nie. Ten spyte van die duidelik onrealistiese hipotese was die boek ’n reusesukses wat net mooi die regte soort riller aan ’n wêreld in die ban van Koue Oorlog-vrese opgedis het. Die boek het soos soetkoek verkoop en oral heftige debat ontketen. Natuurlik was daar, 35 jaar ná die verskyning van die boek, daardie wonderlike dag van 1 Januarie 1984 toe die toekoms uiteindelik die boek ingehaal het en ons almal weereens die vraag kon vra: En toe? Hoe lyk ons nou? Nou ja, teen die somer van 1985 was dit dan ook weer iets van die verlede en moes ons nog 20 jaar wag vir die herverskyning van die begrip, dié keer in die vorm van ’n realiteitsreeks wat ’n nuwe generasie van die volk op hol gehad het. Maar eintlik het die werklikheid van die oorspronklike “Big Brother” ongesiens ons lewe binnegesluip en stil-stil ’n harde realiteit van ons bestaan geword. Hierdie toedrag van sake is deur die ontwikkeling van tegnologie en die ekstreme verwesenliking van superkonsumerisme teweeg?gebring. Om dit eenvoudig te stel: Deesdae het elke Jan Rap en sy maat ’n kamera en ’n video-opnemer ten alle tye by hom. Ek praat natuurlik van selfone. Kombineer dit met uitsaaiers wat daagliks na die sensasioneelste storie en stawende beeldmateriaal soek en bereid is om ’n aardige bedraggie daarvoor te betaal, en jy kyk vas in die wedergeboorte van die oer-Loerbroer. Skielik sien ons studente wat in kos urineer en dit opdis, of die asemrowendste alie op die skaatsplankbaan. Skielik sien ons tieners wat ander tieners op die speelgronde te lyf gaan, of ’n dapper maatjie wat vir sy slaansakmakkertjie in die bres tree. Of kaalfoto’s van onderwysers, of sterre wat in hul neus krap, of die polisie wat lede van die publiek moker, of ’n brakkie wat ’n gholfbal uit die diepkant van ’n voorstedelike swembad gaan haal. Skielik het ons toegang tot die realiteit van ander en kan ons hulle op grond daarvan vervolg of vereer. Die internet – deesdae veral You Tube – en openbare uitsaaiers soek hierdie beelde met ’n seer hart, en die finansiële motivering maak dat mense hul vriende, familie of vyande genadeloos sal verraai en in die hande van die massamedia oorlewer. Loerbroer is hier. Hy lewe en hy is magtig. Die ligpuntjie is egter die volgende: Wanneer (en glo my, dis “wanneer”; nie “indien” nie) die tegnologie sodanig gevorder het dat ons elke oomblik van ons lewe deur middel van ’n kamera in ’n bril of selfs ’n kontaklens kan vaslê en na ons rekenaar, êrens tuis of in’n kluis, kan stroom, sal misdadigers begin om erg die onderspit te delf. Jy kan byvoorbeeld ’n klousule in jou testament inskryf wat die laaste ure van jou lewe ten volle besigtigbaar maak, sou jy onder onnatuurlike omstandighede tot sterwe kom. Die oë van jou moordenaar, verkragter of aanrander sal die gereg die nodige inligting kan verskaf. So ’n praktyk sal ongetwyfeld geweldige sosiale en moreel etiese gevolge inhou, nuwe uitdagings vir ons wetmakers stel en ’n rits nuwe loopbane skep, maar dat dit in die vooruitsig is, sal net ’n dwaas ontken. Dus, berei jou voor, besluit hoe jy wil maak, druk “record”, en vang die toekoms vas met die oog op die verlede. Onthou: Jou broer loer jou af, en lê daarom ook op die loer vir jou broer, broer.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|