Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 10-25°CVoorspellings |
|
Suid-Afrika benodig 'n Barack Obama
Ons moet jammer eerder as kwaad wees vir joernaliste wat in 2008 nog ’n ras-eksklusiewe liggaam wil stig. Hulle trek laer weens hul eie onsekerheid en onbekwaamheid, nie weens die “bedreiginge van wit joernalistiek” nie. Ons blekeres moet ook maar die bohaai oor die Unie vir Swart Joernaliste (USJ) as ’n spieël gebruik om onsself te bekyk. As die USJ nie so moedswillig (of is dit dom- onnosel?) was om alles wat hulle wil doen, te doen, maar net die ras-voorwaarde vir lidmaatskap te skrap nie, sou hulle maar net iets gewees het soos Solidariteit, die Rapportryers, die Afrikanerbond, Jong Dames Dinamiek (is daar régtig so ’n organisasie?) en ander strukture wat net in naam oop is vir swart mense. Die speletjie se naam is Wit Gevaar versus Swart Gevaar. (Ai, hoe lank moet ons nog wag vir behoorlike transformasie om vir ons ook ’n Bruin Gevaar te bring?) Op soek na Zimbabwe-nuus soek ek dié week SABC Africa op DStv op, en kom op ’n dokumentêr oor die lot van wit Suid-Afrikaanse mans af. (Dit is deur iemand met die naam Gillian Schutte-Singiswa vervaardig.) Daar sit Dirk Herman van Solidariteit en slagoffer speel op ’n manier wat die USJ se Abbey Makoe groen van jaloesie sou gemaak het. (’n Mens voel amper jy wil die ou bufferplakker laat herleef wat lui: Forget the Rhino, Save the White Ou.) Toe Makoe die USJ ’n tyd gelede laat herleef het en wit joernaliste toegang tot ’n toespraak van Jacob Zuma geweier het, het ek in ’n rubriek in ’n koerant met meestal swart lesers geskryf dat hy lieg as hy sê hy word nog deur wittes oordonder. As politieke redakteur van die SABC is sy base wat in die Unie- gebou, die parlement en Albert Luthuli-huis sit, almal swart. Die SABC se raad is swart. Die korporasie se grootbaas is Dali Mpophu, sy direkte hoof is Snuki Zikalala en die bestuurstruktuur van die SABC is met enkele uitsonderinge pikswart. Die meeste van die handjievol wit mensies wat by die SABC oor is, wag maar net dat hul pensioen ryp word. Makoe, nou nie juis bekend vir sy witwarm joernalistiek en werkywer die laaste dekade of so nie, het nou oorlog teen die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie verklaar wat gesê het die USJ moet sy rasvoorwaarde laat vaar. Dit was ’n “juridiese hinderlaag”, seg hy, wat beteken hulle word gestraf omdat hulle swart is. Dis moeilik om dié kloutjie by die oortjie te kry – het die stomme man nog nooit van ons Grondwet gehoor nie? Maar toe kom ek dié week af op ’n artikel van een van Makoe se geesgenote, die Kaapse vryskutskrywer Bennie Bunsee. Dit is verstommend dat Afrikane in ’n Afrikaland teengestaan word wanneer hulle hul eie lot wil bepaal en hul selfbeeld wil bevorder, skryf hy. “In every other country, the national assertion of the oppressed is taken to be as natural as eating pie.” Sleutelwoord: “oppressed”. Bennie Bunsee, Abbey Makoe en die res van die USJ-kommando met hul duur vuurwaens, designer-klere en voorliefde vir enkelmout- whiskey is veertien jaar ná ons bevryding die onderdruktes. Ja, right, en Robert Mugabe is ’n ereburger van Orania. Abbey en Bennie word net so min – of soveel – onderdruk as Dirk Herman. Die mense wat regtig in Suid-Afrika swaarkry, is die armes, die werkloses, die huisloses en die uitgebuites. Hulle is in ons plakkerbuurte, in ons gewese swart tuislande en op sommige van ons plase. En moenie jou laat flous as dieselfde Abbey en Bennie en Dirk, in hul argument hoekom hulle self beter behandeling verdien, die armes as argument gebruik nie – in Abbey en Bennie se geval is dit ’n argument teen wit mense; in Dirk se geval ’n argument teen die ANC en die regering. Ons armes is nie goed genoeg om voor gesorg te word nie, maar hulle is goed genoeg om as politieke voetbal gebruik te word – ook deur ons geagte president en mense soos die burgemeester van Tshwane. Ek kan al die SMS’e en briewe hoor vlieg van wittes wat verontwaardig verklaar watter slagoffers hulle dan is (en hoe ek by die swartes en die ANC gatkruip en Afrikaners haat en ’n has-been is, en so meer, ad nauseam elke keer as ek in Afrikaans skryf). Meneer en Mevrou, haal ten minste eers die witbrood (of sal ek eerder sê die BMW en die vakansiehuis) onder jou arm uit voordat jy jou lot so bitterlik bekla. Sosiale demovering en die verlies aan mag en voorreg is die onafwendbare gevolge van die einde van wit oorheersing en die skepping van ’n nuwe, meer demokratiese samelewing. Dis waar dat party van ons ’n prys moet betaal vir die verandering – ek weet dit persoonlik beter as die meeste ander. Dit is ook waar – en ek gaan gereeld in die openbaar daaroor gal af – dat regstellende aksie te dikwels dom, onregverdig en soms bloot rassisties toegepas word. Dit is ewe waar dat ras hopeloos te maklik deur ANC-tipes en mense soos Bennie en Abbey gebruik word om ander motiverings te verberg. Aan die ander kant kan dit ook nie betwis word nie dat daar nog groteske ekonomiese en ander ongelykhede tussen die meeste swartmense en die wit middelklas bestaan. En swart Suid-Afrikaners is maar te deeglik daarvan bewus hoeveel wit mense hulle nog as minderwaardig sien. Maar dié swarighede aan albei kante bedreig nie regtig iemand se voortbestaan nie. Dis tyd dat ons gewone mense ’n oomblik stilsit en ons seëninge tel. (Daar is natuurlik ook die Groot M: misdaad. Dís ons grootste vyand, almal van ons. Maar dit verg ’n ander artikel as dié een.) Gaan lees gerus senator Barack Obama, presidensiële kandidaat van die Amerikaanse Demokratiese Party, se belangrike toespraak oor ras verlede maand in Philadelphia. (Die volledige teks is te vinde by www.thehuffingtonpost.com.) Obama verduidelik wat histories agter die gewone swart Amerikaner se agterstand in die ekonomie en agter sy woede, frustrasie en wrewel met die stelsel sit. Baie het dié agterstande oorkom. Sê hy, maar meer is daardeur verslaan. Hulle het dié “legacy of defeat” aan hul kinders oorgedra. Ras en rassisme het steeds ’n sterk invloed op swart mense, selfs die suksesvolles. Dié woede word gereeld misbruik en is nie altyd produktief nie, maar om dit te wil wegwens of af te keur sonder om dit te verstaan, gaan net die gaping tussen swart en wit vergroot, sê Obama. Maar die senator met sy Kenia-wortels gaan dan voort en sê ’n soortgelyke woede en frustrasie bestaan onder sommige wit Amerikaners wat nie voel hulle het juis daarby gebaat dat hulle wit velle het nie. Om dié vrees te ontken of sonder begrip te verdoem is ewe sleg. Obama sê ’n nuwe samewerking tussen rasse is nou moontlik. “For the black community, that path means embracing the burdens of our past without becoming victims of our past. It means continuing to insist on a full measure of justice in every aspect of American life. But it also means binding our particular grievances to the larger aspirations of all Americans. And it means taking full responsibility for our own lives. “In the white community, a path to a more perfect union means acknowledging that what ails the black community does not just exist in the minds of black people; that the legacy of discrimination – and current incidents of discrimination, while less overt than in the past – are real and must be addressed. Not just with words, but with deeds. “It requires all Americans to realise that your dreams do not have to come at the expense of my dreams; that investing in the health, welfare and education of black and brown and white children will ultimately help all America prosper.” Ai, hoekom kan ons nie só ’n leier hier hê nie?
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|