Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Naghowe ‘is 'n briljante plan’
Naghowe vir Suid-Afrika om die geweldige agterstand in strafsake te probeer wegwerk, kan eersdaags 'n werklikheid wees.
André P. Brink se susterskind doodgeskiet
“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika oorgelaat is aan die genade van barbare.”
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           10-25°C

Voorspellings
Sudoku

Nuweland toe!
Apr 14 2008 03:05:45:100PM  - (SA)  
Dana Snyman



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Ek moet dit vir iemand vertel: Ek gaan vandag Nuweland toe.

Ek gaan vandag, 12 April 2008, vir die heel eerste keer in my lewe na ’n rugbywedstryd op Nuweland kyk: Die Stormers teen die Cheetahs.

Dis nogal jammer dis nie die WP wat speel nie, maar, ag, die Stormers is eintlik mos maar die WP. Die Stormers is maar net die WP in ontwerpersklere. Of so iets.

Ek is vandat ek kan onthou ’n WP-ondersteuner . . . Of, wel, miskien moet ek nie verder vertel nie. Ek het pas vir ’n rukkie ophou tik en die drie paragrawe hierbo weer gelees. Dit lees soos ’n taamlike vervelige inleiding vir ’n skoolopstel.

Miskien is dit omdat dit nogal verdrietig is as ’n amper middeljarige man soos ek opgewonde raak oor ’n besoek aan Nuweland. (Ek was al in New York, die Vatikaanstad, en in Boet Troskie, die miljoenêr van Bloemfontein, se huis; en ek glo nie ek was so opgewonde daaroor as oor my besoek aan Nuweland nie.)

Miskien neem ek rugby te ernstig op.

Miskien moet ek vanmiddag eerder by die huis bly en Herman Mellville se klassieke boek Moby Dick klaar lees. Ek is nou al hoe lank met Moby Dick besig.

Maar ek weet nou al wat gaan gebeur: Ek gaan hier by die huis op die bank Moby Dick sit en lees, maar vieruur se kant gaan ek begin sukkel om te konsentreer op Captain Ahab se epiese walvisjagtog. My gedagtes gaan op Nuweland wees.

Dan gaan ek die TV aanskakel en dan is dit verby: As ek my weer kom kry, gaan ek ’n bier of ’n glas wyn in die hand hê en heen en weer voor die TV stap en lasterlike dinge vir die skeidsregter skree.

Teen rustyd sal Moby Dick verwese op die vloer lê en sal ek Naas en Joost se selftevrede liggaamstaal, geel dasse en lendelam Afrikaans kritiseer.

In die tweede helfte sal ek SMS’e vir van my vriende begin stuur waarin ek my eie kommentaar op die gebeure op die veld lewer. “Watch bietjie,” sal ek byvoorbeeld skryf. “Watch bietjie, as Schalk sy nek so heen en weer wieg, gaan hy weer ’n geel kaart kry.” (Ek het ook al eenkeer gedurende ’n Curriebeker-wedstryd minstens agt mense gebel en hulle gevra of hulle die skeidsregter Tappe Henning se nuwe haarstyl gesien het.)

My selfoonrekening is in die rugbyseisoen gemiddeld R200 hoër as gewoonlik.

Miskien moet ek Moby Dick eerder vanmiddag saam met my Nuweland toe neem. Miskien kan ek rustyd gou ’n bladsy of twee lees. Maar, ai, tog, ek ken myself ook nou al: Ek gaan waarskynlik rustyd in die biertuin wees. Of miskien gaan ek net stil op die pawiljoen sit en dink wat ek al alles saam met die WP-span deurgemaak het.

Ek ondersteun die span al meer as 40 jaar, maar ek was nog nie op Nuweland nie, want ek het nog altyd op plekke ver van die Kaap af gewoon. Ek het onlangs eers Kaap toe verhuis.

Op Loftus Versfeld in Pretoria het ek die WP wel al meer kere sien speel as wat ek kan onthou, want ek het meer as twintig jaar daar gewoon. Tog het ek dit nooit oorweeg om vir die Blou Bulle te skree nie. Nie eens toe Boesman Pretorius, ’n boelie van die Springbokvlakte, my op skool in ’n hangkas in die J.G. Strijdom-skoolkoshuis toegesluit het, het ek die WP verraai nie. Dit was in 1982.

Almal in die koshuis was Blou Bul-ondersteuners, en Boesman het my in die kas gesmyt, die deur toegemaak, en geskreeu: “Oukei, jou klein k—k, wie’s die beste vleuel? Ray Mordt? Of Carel du Plessis?”

Mordt was toe ’n Blou Bul, en Du Plessis van die WP.

Boesman het later Old Spice by die kasdeur se sleutelgat ingespuit, maar ek het by Carel gestaan.

In die 1970’s en 80’s is ’n mens amper as ’n kommunis beskou as jy in die Transvaal gewoon en die WP ondersteun het. Miskien was dit omdat oorle Dok Craven ’n Sap was, en Morné du Plessis, die destydse WP-kaptein, ’n lid van die PFP. Dis baie meer ingewikkeld as dit, ek weet, maar dit het iets met politiek te doen gehad.

’n Rugbywedstryd op Loftus was toe ’n soort militêre parade: Die Bulle se afrigter was ’n brigadier, Voortrekkertjies het sitplekke aangewys, en Mirages het knaend oor die stadion gevlieg terwyl ’n dronk ou roep: “Ek’t vir die meid gesê sy moenie die budjiehok oop vergeet nie!”

Wanneer die noodhulpmanne – die pynpolisie – op die veld hardloop, het ’n ander een weer geskree: “Skiet hom, moenie lat hy ly nie.”

’n Ou het my al op Loftus geslaan. In 1988. Dit was in die biertuin nadat ek vir hom gesê het Thys Lourens, die legendariese Blou Bul-kaptein, se wilde wangbaarde was ’n simbool van Afrikaner-dominansie.

Die middag in 1983 toe Calla Scholtz, die WP-heelagter, met spierwit toks op Loftus uitdraf – wie onthou dit nog? – was vir my ’n persoonlike triomf, want om in 1983 met wit toks op Loftus te speel, was ’n dapper ding. Die skare het Kalla geboe. Net oor daai wit toks.

Miskien was my lojaliteit aan die WP ’n soort rebellie.

Soms wens ek dit was anders. Soms wens ek ek het Moby Dick reeds op die ouderdom van twintig gelees gehad, en dat rugby nie vir my so belangrik was nie.

Ek het ’n meisie gehad. Sy het op die 2de Oktober verjaar - dieselfde dag waarop Chester Williams in 1998 die laaste keer vir die WP op Loftus gespeel het.

Ek moes van Chester gaan afskeid neem, met die belofte dat ek die aand saam met haar partytjie sou hou. Maar ek het só afskeid van Chester geneem dat ek nooit by haar partytjie uitgekom het nie. Die volgende oggend was daar ’n afsêbrief van haar onder my deur, met ’n gedig van Pablo Neruda by: “It so happens I am sick of being a man. And it happens that I walk into tailorshops and movie houses dried up, waterproof, like a swan made of felt, steering my way in a water of wombs and ashes.”

Ek het onlangs eers regtig oor daardie gedig begin dink.

Ek sal nie vanmiddag my WP-vlag saamneem Nuweland toe nie, maar ek sal daar wees.

Ek moet gaan.

Rugby en die WP-span is deel van my storie, en ek het lankal opgehou om te probeer ontken wie ek is.

Teken in op Volksblad


Vind
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer