Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 10-25°CVoorspellings |
|
Vlugvoos op O.R. Tambo
Dit is hoog tyd dat Monhla Hlahla (uitvoerende hoof van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, of Acsa), Khaya Ngqula (uitvoerende hoof van die SAL) en Mavuso Msimang (direkteur-generaal van die departement van binnelandse sake) gesamentlik verantwoordelikheid aanvaar vir die chaos in die internasionale aankomssaal van die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park. Hulle moet begin deur die bekende tegniek van “bestuur deur rond te stap” toe te pas. Hulle sal dan self die pandemonium ervaar wat ’n geweldige irritasie vir passasiers en ’n nasionale verleentheid vir Suid-Afrika geword het. Ek moes die afgelope twee weke twee keer op pad na internasionale bestemmings deur O.R. Tambo stoei. Albei kere het die lughawe ons uitgaande bagasie verloor. Die grootste skok was egter die chaos in die aankomssaal met ons terugkeer van New York. Toe ons die aand van 11 April van vlug SA 204 afstap, het ons die aanwysingsborde na paspoortbeheer gevolg. Dié is aangevul deur ’n grondwaardin van die SAL wat opdragte vir die stroom passasiers geskreeu het en dié van New York na regs gestuur het. Ons het haar opdragte uitgevoer. Terwyl ons in die tou by paspoortbeheer wag, het ’n ander lid van die SAL se grondpersoneel daar aangekom en dieselfde skreeumetode gevolg om passasiers van “Sydney” in te lig hulle is in die verkeerde tou. ’n Klomp verergde passasiers moes ’n regsomkeer maak. Ons het in die tou bly staan. Toe dit oplaas ons beurt is, sê die paspoortbeampte ons staan in die verkeerde tou. Dié tou, sê sy, is vir passasiers van New York wat van die Delta-vlug afgestap het, nie die SAL-vlug nie. Toe ek beswaar maak, moes ek hoor niks kan daaraan gedoen word nie, ons moet teruggaan. ’n Derde ronde harde skreeustemme het toe passasiers van die SAL-vlug van New York ingelig hulle staan in die verkeerde tou. Dit was moeilik om die regte tou te kry, want in die ander aankomssaal het ’n massa passasiers rondgestaan in ’n ruimte wat net die helfte van hulle kon bevat. Dit was byna onmoontlik om ’n ry te vorm. Verskeie vlugte het kort ná mekaar neergestryk, sodat daar gou skaars plek was vir mense om van die roltrap af te stap. Mense moes toustaan op ’n roltrap wat hulle meedoënloos ondertoe vervoer het. Ál oop ruimte was voor die hokkies vir paspoortbeheer, waar aanvanklik net een beampte van binnelandse sake was om paspoorte te stempel! Dit het gelyk asof ons die hele nag daar sou moes staan. Oplaas het nog ’n beampte opgedaag, en toe nog een. Daar was egter meer toe as oop beheerpunte. Gemoedere – onder meer myne – het hoog begin loop. Talle mense moes verbindingsvlugte haal. Elke nou en dan het ’n beampte in uniform lui-lui oënskynlik doelloos rondgedrentel. Die een uitsondering was Dalene, ’n junior SAL-grondwaardin, wat haar bes gedoen het om die al hoe meer omgekrapte passasiers te help. Ek het gaan probeer vasstel wie in beheer is en ingestap by ’n hokkie met ’n amptelike voorkoms en rookglas waar 15 lede van die SAL se grondpersoneel rondgehang, kitskos geëet en erg verveeld gelyk het. Toe ek vra wie in beheer is, sê ’n vrou in ’n SAL-uniform tussen haar kougomkouery deur: “Ons bestuurder is in ’n vergadering in Durban.” Nog een sê “Heather” is in beheer, maar niemand kon my vertel wat Heather se van is of waar ek haar kan kry nie, want Heather is “nuut”. Iemand anders het iemand met die naam “Mechak” genoem. Niemand was oor enigiets seker nie, behalwe dat dit beslis nie h?l “skuld” is nie. Almal het saamgestem met die vrou wat gesê het: “Dis nie óns skuld nie, dis Acsa se skuld.” Toe ek vra om met iemand van Acsa te praat, het hulle maar net die skouers opgetrek. Die enigste daadwerklike stap wat enige van hulle gedoen het, was toe ’n vrou haar identiteitskaart omgedraai het sodat ek haar naam nie kon lees nie. Net Dalene het selfs maar vaagweg probeer om iemand van Acsa in die hande te kry. Iemand met die naam Sello in ’n SAL-uniform het toe daar aangekom en verduidelik hy kan niks aan die saak doen nie. Kort daarna het Trevor, wat beweer het hy werk vir Acsa, opgedaag en verduidelik dat ook h? niks aan die saak kan doen nie. Hy wou behulpsaam wees deur te sê dis binnelandse sake se skuld. Toe bel ek die direkteur-generaal van binnelandse sake, mnr. Mavuso Msimang, en ruk hom in Tokio in Japan uit sy slaap (waar dit 12:30 was) om hom oor die chaos op O.R. Tambo in te lig. Ek het ook Radio 702 gebel. Die passasiers het hulself aan die hand van die vertrektye van hul verbindingsvlugte in groepe begin organiseer. Sello het ons met paspoortbeheer gehelp. Daar was nog meer chaos aan die ander kant. Daar was gans te min bagasiewaentjies. Dit was moeilik om ’n weg te baan deur al die tasse wat van die bagasiebande afgehaal is. Daar was weer geen bestuur of rigtinggewing nie. My kollega het wel die tas gekry wat O.R. Tambo op ons vlug na die buiteland verloor het en wat New York nooit gehaal het nie. Daar staan dit toe steeds langs die bagasieband in Johannesburg! Oplaas hardloop ons na die binnelandse vertreksaal en haal die verbindingsvlug na Kaapstad net-net. Op die vlug wou ek graag Khaya Ngqula se bemarkingskletspraatjies in die SAL-vlugtydskrif Sawubona lees. In die eerste paragraaf van sy rubriek belowe hy dat die SAL daartoe verbind is om reisigers te help om hul “reiservaring glad te laat verloop”. Ek het hardop gelag. Hy moet sorg dat ook sy grondpersoneel die beloftes wat hy aan die SAL se passasiers maak, lees. Nou moet ’n mens jou natuurlik afvra waarom so baie SAL-personeel in diens geneem word om rond te hang en hamburgers te eet. En waarom jy geen Acsa-personeel kan opspoor wanneer hulle nodig is nie, en waarom dié wat jy wel opspoor, g’n benul het nie. En waarom binnelandse sake nie genoeg paspoortbeheer-personeel kan ontplooi om die passasiers wat aankom, te bedien nie. Ek weet hoe moeilik dit is om met ons arbeidsbestel mense in die pad te steek as hulle nie presteer nie. Ek is ook pynlik daarvan bewus dat Dalene seker die enigste een gaan wees wat weens die mislukking van die stelsel aan die pen gaan ry, want sy het die soort inisiatief getoon wat haar kollegas in ’n swak lig stel. Ons kan die werkers die skuld gee, maar inderwaarheid is swak bestuur die oorsaak. Dié toestand sal voor 2010 moet verander, anders gaan die Wêreldbeker-toernooi O.R. Tambo soos dit tans op ’n Vrydagaand daar uitsien, soos ’n piekniek laat lyk.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|