Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Naghowe ‘is 'n briljante plan’
Naghowe vir Suid-Afrika om die geweldige agterstand in strafsake te probeer wegwerk, kan eersdaags 'n werklikheid wees.
André P. Brink se susterskind doodgeskiet
“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika oorgelaat is aan die genade van barbare.”
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           10-25°C

Voorspellings
Sudoku

Die Wit Zoeloe van Ingwavuma
Apr 18 2008 07:19:02:167PM  - (SA)  
Herman Scholtz



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Sussie is nou al vir ’n tweede jaar op die border.

Toe Doret Scholtz (24) hoor sy gaan haar gemeenskapsdiens as arbeidsterapeut op die Zoeloedorpie Ingwavuma doen, het haar vriende en familie die nuus met ’n gesonde tikkie sinisme begroet. Sy was immers ’n hoofmeisie van die Noordwes-platteland wat graag by Woolworths kos gekoop het.

Maar in haar finale studiejaar aan die Universiteit van die Vrystaat was dit Doret se eerste keuse om na dié afgeleë plek in die Lebombo-berge in KwaZulu-Natal te gaan.

“Moet asseblief nie afgesit word deur die danger pay en rural allowance nie,” het een van die dokters oor die foon gesê. “Ons sal jou baie graag hier wil hê.”

’n Week voor die groot trek grens toe is dit tyd vir die fynere detail van haar bos-avontuur.

“Ja, ons het ’n Pep en ’n Spar, maar ons gaan een keer per maand Empa?nge?ni toe om inkopies te doen. Dit is so drie uur se ry.

“En hier is ’n mechanic in Jozini, maar as dit meer as ’n pap wiel is, sleep ons hom vir jou Empangeni toe,” laat weet die dokter.

Die Mosvold-hospitaal met sy 246 beddens bedien die hele gemeenskap van 110 000 mense en het ook ’n terapie?departement waar fisioterapeute, arbeidsterapeute en spraakterapeute almal dieselfde werk doen.

“Ons sien regtig uit daarna om jou hier te hê. Pasop net vir bokke en beeste in die pad die laaste 150 km.”

Op pad bos toe trek ’n polisieman ons van die pad af.

“Het meneer verdwaal?” vra hy in gebroke Engels.

Nadat ons verduidelik het: “O, ja-nee. Ingwavuma is net hier op met die berg. Pasop net asseblief vir die bokke en beeste in die pad,” sê hy, heel verbaas dat dié wit toeriste juis na die plek gaan waar koning Dingaan in 1840 vermoor is.

Eers ry ons verby die hospitaal.

As daar nie die vele afgeskryfde geel ambulanse en mobiele klinieke was nie, sou ’n mens moeilik kon raai dit is ’n hospitaal.

“Jy het ’n kamer in een van ons spoghuise,” begroet die dokter ons.

“The Mansion” staan daar voor die vervalle huis met krakende houtvloere en massas Coke-bottels vol water onder die wasbak vir wanneer die krane tog so gereeld opdroog.

Die dokter wat voor Doret in die kamer gebly het, het ’n briefie en ’n sopie Amarula op die bed gelos.

Iets in die rigting van: “Wie jy ook al is, sterkte.”

Nie dat dié opregte gebaar Doret sal bangmaak nie. Sy was nog altyd hoogs aanpasbaar en is een van die mense wat opreg glo sy kan ’n verskil maak.

Daar is net een probleem: Die gemeenskap is almal Zoeloesprekend, en die meeste kan nie Engels praat of verstaan nie.

Ingwavuma is ook die land van “sôdie”.

“Sôdie” kan losweg vertaal word na die Engelse sorry, maar het ’n baie wyer betekenis.

“Sôdie! (Ek moes jou bok, bees of skaap met die ambulans uit die pad stamp. Dit was liggies, ek belowe.) Sôdie.”

“Sôdie! (Ek maak jou seer terwyl ek jou brandwonde behandel.)”

“Jou ma is na saal 16 (wat nie bestaan nie) geskuif. Sôdie.”

Die gemeenskap gaan gebuk onder hemelhoë MIV-infeksie, armoede en ongeletterdheid. Wanneer pasiënte meer as 10 km hospitaal toe stap, is ’n Panado en ’n “sôdie” dikwels die enigste behandeling wat beskikbaar is.

En as ’n mens niemand verstaan nie, sê jy net dít. “Sôdie, sôdie, sôdie.”

Een middag verlede Junie kry ek ’n oproep van Doret.

“Boetie, boetie! Ek is nou in ’n mall op Empangeni, en hier is ’n Woolworths! En ek kom een van die dae kuier. Ek weet nog net nie hoe ek in Durban gaan kom nie,” skree sy terwyl dit klink of trane oor haar wange rol.

Daar is twee opsies om in Durban te kom.

Gewoonlik is daar ’n geleentheid om saam met die Rooi Kruis in sy mikro-vliegtuig te vlieg. En van daar kry jy ’n vlug Johannesburg toe.

Anders is daar altyd die Mkuze Country Cruiser, kompleet met hoenders op die dak, wat weekliks Durban toe ry, teen ’n appel en ’n ei.

Om dié planne te sinchroniseer met die beskawing, is natuurlik ’n heel nuwe uitdaging.

Selfoonopvangs is by tye swak, en ’n mens moet maar ’n paar uur wag vir die Country Cruiser wat “nou enige tyd” gaan opdaag.

Teen einde verlede jaar het Doret besluit om in die bos aan te bly, maar nie as ’n terapeut in die hospitaal nie. ’n Groep mediese personeel het ’n kerk, Zonkisizwe, in die gemeenskap gestig, en sy sal voortaan die kerk bestuur. Dit behels onder meer die finansies, uitreikprojekte en alle logistiese projekte.

“Nou waar gaan jy bly?” skop die gesonde sinisme van die familie in.

“Ek gaan in die gemeenskap bly. Ek kan nie voorgee ek weet waardeur hierdie mense gaan terwyl ek hier in ’n mansion by die hospitaal bly nie.”

Mam' Corina het ingestem om vir Doret 'n dak oor die kop te gee. Haar huisies is sowat 8 km van die hospitaal af waar sy die afgelope 28 jaar as 'n verpleegassistent werk. In een van die huisies is vir Doret ?n kamer waar sy saam met twee ander "sussies" sal bly.

Mam' Corina is ?n gerespekteerde lid van die gemeenskap en is bekend daarvoor dat sy die werkloses, dakloses en uitgeworpenes onder haar vlerk neem.

As Doret in haar familie opgeneem word, sal alles dus reg uitwerk. Sy hoef ook nie huur te betaal as sy in die huis uithelp nie. Dit behels hulp met water aandra, koeie melk, kos maak, die landerye bewerk, siekes in die gemeenskap help, kinders oppas en skoonmaak.

"Hulle is baie goed ingerig by Mam' Corina se plek. Sy boer met mielies, patats, aartappels, wortels en nog 'n klomp ander goed. Ons lewe uit die grond uit," sê Doret opgewonde.

"Maar daar is nie lopende water of elektrisiteit nie," roep die familie haar halt.

"Ja, en?" "En my hele Zoeloe-familie kom vir die naweek huis toe om jou te ontmoet," sê sy vir my oor die foon.

Op pad Ingwavuma toe begroet dieselfde tonele my as vyftien maande gelede. Sweerlik dieselfde bees staan in dieselfde pad, met 'n slaggat of wat meer, en word deur dieselfde taxi-bestuurder uit die pad gejaag.

Omo en Clover besit steeds die hele dorpie, te oordeel na die naamborde van die sjebiens, skole en welsynsorganisasies.

Die Our Lady Primary School staan op die Clover-bord by 'n geboutjie ? 'n koei staan onder diê bord en moeee terwyl ek oor die ironie glimlag.

Doret sal my by die hospitaal kry, waarna ons na die dorpie sal gaan.

"Ons gaan dalk die laaste kilo of twee moet loop, want dan raak dit baie klipperig."

Ja, wel, nee, fine.

"En ek moet jou waarsku: Die klein kindertjies hier kan dalk huil as hulle jou sien. Dit is niks persoonliks nie."

"Hoekom?"

"Baie van hulle het nog nooit 'n wit mens gesien nie."

"En jy dan?"

"Ek tel nie."

Die pad na Mam' Corina se plek is nie regtig ?n pad nie. Maar die asemrowende uitsig maak darem die pyn ligter wat deur die bors skiet met elke klip wat die bakwerk van die kar tref.

Aan die regterkant lê die Lebombo-berge en distrik Maputu van Suid-Afrika. En aan die linkerkant die valleie van Swaziland, terwyl 'n mens amper net so hoog soos die wolke is. Mense loop rustig oor die grens, die meeste van Suid-Afrika na Swaziland.

Drie kindertjies kom aangehardloop. "Doletto, Doletto!" skree hulle opgewonde.

"Jy sal hulle asseblief in die kar moet laai tot by die huis. Hulle sal baie hartseer wees as hier ?n kar is en hulle kan nie saamry nie."

Sy laai die kinders vinnig in die kar terwyl hulle oor mekaar klouter ? baie bang om enige aksie te mis. Toe hulle die wit mens sien, sit hulle tjoepstil en benoud vir die 30 m-rit tot by die huis.

Die twee seuntjies spring uit en hardloop om hul "karre" te gaan haal ? leë Coke-bottels met 'n stok. "Brrm, brrm," hardloop hulle om die huis.

Die vroue kom uit die huis, en die ouma, net as Goggo bekend, soen my hand voordat sy beveel dat die kospotte nader gebring moet word.

'n Stoel word vir my uitgedra om op te sit. 'n Man mag nie op die grond sit nie.

"Ons het twete gemaak. Dit is Doret se gunsteling," sê een van die vroue.

Doret het nie veel verander nie. Behalwe dat sy nou 'n romp dra en vlot Zoeloe praat, is sy nog dieselfde plattelandse meisie met 'n goue hart. Van die ouer kinders stap soggens selfs al om vyfuur die 10 km skool toe. Met dié dat hulle op die son moet staatmaak vir lig, gaan die paar onderwysers bars om deur die sillabus te kom.

Doret dra 'n paar goedkoop nagemaakte Crocs.

"Op pensioendag kom verkoop mense klere, en dan koop almal maar dieselfde," sê sy met 'n giggel. "Hierdie hemp was R5!"

Daar is bitter min werk op Ingwavuma, en die oorgrote meerderheid van die mense is van staatstoelaes afhanklik. Drie groot nieregeringsorganisasies help tog om werk te skep. Fancy Stitch gebruik byvoorbeeld MIV-positiewe vroue om fyn borduurwerk te doen.

Die kos word voorgesit. Ibhece is 'n pampoengereg wat eintlik 'n luukse is. Dit verg baie moeite, tyd en vaardigheid om die meel met die pampoen te meng en net reg te kook. Dit is nie onaangenaam nie, maar ook nie boerekos nie.

"Ek gaan waaragtig bars as ek nog moet eet," kla ek. Almal wat jy ontmoet, dra kos aan.

"Jy gaan minstens die helfte daarvan eet, of ek gaan jou nooit vergewe nie. Dit is baie ongeskik om dit nie te eet nie. Toe, vat nog suiker," sê sy ferm.

"My boetie sê dit is báie lekker," tolk sy in Zoeloe in 'n stemtoon, aksent en toonhoogte wat my aan ons huishulp uit ons kinderdae herinner.

Chief Mnogmezulu word deur sy vrou afgelaai in 'n double cab.

Hy praat oor reënval in die gebied, planne vir watertorings en skerts dat hy hoor ons kry ?n bietjie swaar met beurtkrag in Gauteng.

Hy kla nie. Die gemeenskap kla nie. Selfs al is die dienslewering hóé sleg en die regering se beloftes leeg, sal die mense nie sommer kla nie.

Hy noem wel dat dit baie sal help as hulle lopende water en elektrisiteit kan kry. En as die pad wat die gemeenskap bedien, geteer kan word.

Maar dit is sommer net terloops. Hulle kan daarsonder klaarkom. Hulle het nog altyd.

"Ek kan aan niks uit die Westerse kultuur dink wat hierdie mense se lewensgehalte sal verbeter nie," sê Doret later by die uitkykpunt in die mielielande waar sy altyd gaan sit en dink.

"Nou wat maak jy hier?"

"Ek is hier om brûe te bou. Die Here wou my nog altyd gebruik om brûe te bou. Nou ís ek die brug, en dit is soms maar moeilik."

Vir haar is dit absoluut 'n geloofsdaad.

"Party dae is daar net drie goedjies op my lys om te doen, maar dit is klaar 'n prestasie as ek net één daarvan gedoen kry. Dinge gebeur hier in hul eie tempo en op hul eie manier."

Dit is ongeskik om nie te praat met mense wat jy langs die pad raakloop nie. In die bos gaan dit alles oor mense.

En as Doret met die kerkfiets elke dag die 8 km hospitaal toe ry om haar werk in die kantoortjie te gaan doen, oorreed die een of ander kind haar altyd eers om dit vir 'n halfuur vir 'n spin te vat.

Goggo kom om die draai en slaan haar met 'n grashalm. Sy het vergeet om die hek toe te maak.

"Sôdie, Goggo, sôdie!"

Teen die einde van die besoek voel ek skuldig om haar by die huisie af te laai.

"Is jy seker dit is veilig? Jy moenie in die aande as dit donker is, rondstap nie."

"Ek is deel van die gemeenskap. Niemand sal iets aan my doen nie, want die gemeenskap sal dit nie toelaat nie. As mense hier iets steel, is dit omdat hulle honger is," sê sy.

"Hoe lank gaan jy nog in die bos bly?"

"Ek weet nie of ek sommer weer sal aard in die stad nie. Ek sal hier bly solank as wat die Here my wil gebruik."

Dan los ek haar met 'n liefdespakkie van haar regte ma: gedroogte vrugte, neute, biltong, koekies, 'n sweisbril vir haar oë vir wanneer sy met vuur moet kosmaak, en speensalf vir die koei.

Mam' Corina stuur eers die kinders om vir my mielies te gaan pluk. Gaste kan nie sonder kos hier weggaan nie.

Die kindertjies hardloop agter die kar aan toe ek vertrek. Verby die long drop met ?n halwe deur wat uitkyk oor Suid-Afrika én Swaziland, verby die draadhek, totdat 'n reuse-bul in die klippad die dramatiese vertrek pootjie.

"Sôdie," dink ek toe ek die bul (liggies) uit die pad help.

En ry teen 20 km/h oor die klippe tot by die enkelteerpad vol bokke en slaggate, oor die Jozini-damwal, verby die Omo- en Clover-geboutjies tot by die N2. Terug na die beskawing met beurtkrag en misdaad.

  •   Herman Scholtz is ?n redaksielid van Beeld .

    Teken in op Volksblad


  • Vind
    Internasionale Lotto
    Versekering Vir Vroue
    Top Afrikaanse Boeke
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende


    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer