Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 10-25°CVoorspellings |
|
Stig godsdiens vrede?
Soos in die geval van die vraag “Is daar universele waardes?”, waaroor ek in die eerste van dié artikelreeks geskryf het, moet ’n mens oor die vraag “Stig godsdiens vrede?” vra: Word hierdie vraag as ’n empiriese vraag bedoel, of is dit ’n vraag oor wat die geval behoort te wees? Ek begin deur die vraag gewoon net eers as ’n empiriese vraag te bestempel. As ons kyk na die geskiedenis van die Westerse beskawing – waarvan godsdiens, veral die Christendom, ’n integrale komponent is – kom godsdiens taamlik sleg daarvan af as ’n vredestigter. Die Romeinse ryk, om daar te begin, was ’n politeïstiese samelewing; die Romeine, soos die Grieke, het in vele gode geglo, en het geen probleem daarmee gehad om ruimte te maak vir die nuwe gode van nuut gekoloniseerde gemeenskappe nie – insluitend die “onbekende God” waarvan Paulus op die Areopagus in Athene vertel (Hand. 17: 16-33). Die Christendom wek egter van meet af aan agterdog, nie slegs omdat hulle monoteïste was nie (die Jode was dit immers ook vir baie eeue vantevore), maar veral omdat hulle die nie-Christelike wêreld probeer kersten het en in die proses die idee die wêreld ingestuur het dat daar geen legitimiteit aan enige ander god of godsdiens kleef nie. Dit was een van die redes vir die “vervolging” van die vroeg-Christelike kerk. In dié geval, sou ons kon sê, lok die Christelike geloof geweld teen sigself uit. Dit was egter te verwagte, veral as ’n mens die Nuwe Testament, en met name Jesus se eie visie op die vraag of geloof in Hom vrede of geweld gaan bring, in ag neem. In Matteus 10:34-39 is Jesus uitgesproke daaroor: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.” Daarby is die onvrede wat Hy bring nie slegs dié tussen gemeenskappe of nasies nie, maar dit penetreer die intiemste menslike verhoudinge: “ . . . tweedrag tussen ’n man en sy vader . . . ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.” In verskeie ander passasies waarsku Jesus sy volgelinge dat vervolging (en dus geweld) ter wille van Hom hul voorland is; trouens, in Matt. 5:11 sê Hy selfs: “Geseënd is julle wanneer mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê . . . ” Die waarskuwing dat vervolging en onvrede Christene se lot is, word meermale deur Paulus en ander Nuwe-Testamentiese skrywers herhaal, en vind weerklank tot in die boek Openbaring. ’n Mens sou kon redeneer dat al dié verwysings nie die skuld vir geweld op die Chris?tene pak nie, maar op diegene wat hulle vervolg. Ons weet egter hoe dramaties die toneel in die loop van die verdere geskiedenis verander het. Konstantyn verhef uiteindelik die Christendom tot die staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk, nie soseer omdat hy watwaffers gelowig was nie, maar veral omdat hy meen dat dit vrede en stabiliteit in die ryk sal bevorder. Sowat agt eeue later begin ons dan die werklik militante gesig van die Christendom sien met die aanvang van die Kruistogte, waardeur Jerusalem met geweld van Islam teruggeneem wou word. Daarna is die geskiedenis besaai met skrikwekkende verhale oor Christene as agente van geweld: die (veral Spaanse) inkwisisie, waartydens “ketters” gemartel en selfs verbrand word in ’n poging om hulle te “bekeer”, die religieuse stryd en oorloë van die 16de en 17de eeue (insluitend Calvyn se bedenklike rol in die verbranding van die “ketter” Servet), die stryd in Ierland, en so meer. Natuurlik is dit nie slegs die Christendom wat met geweld en oorlog geassosieer word nie. Die Islam is van meet af aan ’n militante religie; die profeet Mohammed blyk in vele opsigte ’n vroom en ruimhartige man te wees, maar hy voer deurentyd leërs aan wat Islam met geweld oor feitlik die hele Arabiese Skiereiland vestig. Vandag is die geweld wat in sekere fundamentalistiese kringe van die Islam broei moontlik die vernaamste politieke werklikheid van ons tyd; dink gewoon net aan 11 September 2001 en die oorloë in Afganistan en Irak. Djihad of “heilige oorlog” (in situasies waar Allah se eer in die gedrang is) is ’n geloofsartikel in die Islam. Tog is daar onmiskenbaar ook ’n ander kant van die verhaal. Wie godsdienste slegs van geweld- en oorlogstigting wil beskuldig, ontken die volle prentjie van die geskiedenis. Dink aan die vermenslikende invloed wat sendelinge sedert die vroegste tye, en met name op vastelande soos Afrika en Suid-Amerika, ingedra het. Dit is ’n soort vrede wat deur veral onderwys en gesondheidsdienste gevoed is. Dink aan die enorme vredestigtende invloed van die Boeddha en ander religieuse leiersfigure in die Ooste. Daarby argumenteer ’n skrywer soos Dean Hamer en andere dat ons as mense geneties gekodeer is om godsdienstig of spiritueel te wees. Die natuurlike seleksie wat aan ons evolusie as ’n spesie ten grondslag lê, het gewoon toenemend “ontdek” dat, om die geen of gene waarin ons godsdienstigheid lê, in die spesie te laat voortbestaan, is om die oorlewing van die spesie ten beste te verseker. Volgens hierdie teorie is godsdienstigheid ’n fundamentele krag wat keer dat ons mekaar in ons oorspronklike “state of nature” uitmoor – die “state of nature” waarin die lewe, soos Hobbes skryf, “nasty, brutish and short” is. Stig godsdiens vrede? As ons na die geskiedenis kyk, is dit moeilik om ’n positiewe antwoord met geloofwaardigheid te propageer. Trouens, intellektuele soos Richard Dawkins is al hoe meer uitgesproke daaroor dat godsdiens ’n uiters gevaarlike verskynsel is, dat kinders meer beskerm behoort te word teen die ongebreidelde blootstelling wat hulle merendeels aan godsdiens kry, en ons enigste kans op vrede in die wêreld ’n godsdiensvrye bestel is. En tog vind ’n mens in die meeste godsdienste ’n diepgewortelde versugting na vrede – die “vrede van God” wat, soos Paulus in Filippense 4:7 skryf, “alle verstand te bowe gaan”. Nie om dowe neute nie groet die Jode mekaar met die woord “shalom” – vrede vir jou. ))) AS ons dan ten slotte kan wegkyk van wat ons omtrent godsdiens en geweld in die geskiedenis sien, en vra na hoe dinge gesteld behoort te wees, dan val ek uit aan die kant van diegene wat glo dat godsdiens – met name die Christelike geloof waarmee ek die beste vertroud is – ’n vredestigtende krag is en behoort te wees. Om te sê godsdiens bring slegs geweld, is dieselfde as om te sê waar daar mense is, sal daar geweld wees. Laasgenoemde lyk, histories gesproke, asof dit die geval is. Maar dit hou nie rekening met die moontlikheid van ’n vermenslikte wêreld nie – vermenslik deur dieselfde mense as diegene wat die wêreld so kan onteer. Godsdiens kan myns insiens vrede stig as dit ophou om voor te gee dat dit absolute waarhede verkondig wat met lewe en liggaam verdedig moet word, en as dit die agenda van die vermensliking van die wêreld sy eie maak – ’n agenda wat deur die meeste godsdienste gedeel word, en wat dus vereis dat ons wegkom van die idee dat een godsdiens ’n monopolie op die waarheid het. Anders gestel: Godsdiens kan vrede bring as dit mense toerus, nie vir ’n “pie in the sky when you die” nie, maar vir die eise van die wêreld waarin ons elke dag leef. Die Christendom verkondig ’n God wat mens geword het, en wat die geweld van ons historiese boosheid gedra en oorwin het in die kruisverhaal; die kruis is inderwaarheid die verhaal van God se geweld teen die bose. Maar daardie las is gedra en volbring. Nou kan ons lewe volgens die riglyne van die bergpreek en die gelykenisse – riglyne wat die weg wys na ’n lewe in vrede met alle mense. ))) Charles Colton skryf êrens: “Men will wrangle for religion; write for it; fight for it; die for it; anything but live for it.” Dit is ons uitdaging: om op te hou baklei en verdeel en selfs sterf vir die geloof, maar om ’n slag so te leef, ons “lig so te laat skyn dat die mense julle goeie werke sien, en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matt. 5:16). Anders gestel: Ons moet ophou met die obsessie om van mense Christene te maak, en eerder begin om van Christene mense te maak (met apologie aan Johan Degenaar). Eers dan sal die vrede wat die geloof kan stig, werklik sigbaar word in die wêreld. Bronne: Dawkins, Richard: A Devil’s Chaplain. Boston: Houghton Mifflin Company, 2003; The God Delusion. Boston: Houghton Mifflin Company, 2006. Freeman, Charles: The Closing of the Western Mind. Londen: Pimlico, 2002 Hamer, Dean: The God Gene: How Faith Is Hardwired in Our Genes. New York: Doubleday, 2004. Hobbes, Thomas: Leviathan. Dent: Everyman’s Library, 1973. Rogerson, Barnaby: The Prophet Mohammed. Londen: Little, Brown, 2003.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|