Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Naghowe ‘is 'n briljante plan’
Naghowe vir Suid-Afrika om die geweldige agterstand in strafsake te probeer wegwerk, kan eersdaags 'n werklikheid wees.
André P. Brink se susterskind doodgeskiet
“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika oorgelaat is aan die genade van barbare.”
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           10-25°C

Voorspellings
Sudoku

Die pad na roem
Apr 25 2008 09:28:12:723PM  - (SA)  
Chris Chameleon



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Ek kry dikwels e-pos met navrae van voornemende vermaaklikheidskunstenaars oor hoe hulle ’n deurbraak in die bedryf kan bewerkstellig.

Dis altyd ’n tameletjie, want ek glo nie daar is ’n breë, vereenvoudigde resep nie, en ook omdat ek net uit my eie verwysingsraamwerk kan praat.

Hoe dit ook al sy, dis ’n ingewikkelde storie. Hier volg ’n kort opsomming: My eerste werk was in die koerantwese. ’n Goeie begin, want soos julle weet is die media ’n onmisbare skakel in die bekendheidsbedryf.

Van 1985 tot 1988 het ek vir Beeld gewerk. My taak was om elke oggend om 04:30 op te staan en 76 koerante af te lewer. Ek het ’n BMX gery en die roete was ongeveer 20 km. Die R120 per maand wat dié werk opgelewer het, was destyds ’n fortuin.

Dat ek nie frisser bene het nie, is steeds vir my ’n groot raaisel. Ek weet tot vandag nog hoe om te trap terwyl ek ’n koerant uit my rugsak trek, op ’n spesifieke manier vou sodat hy nie uitmekaar sal waai nie, en dan sekuur in die verbyry oor die voorhek gooi.

Toe die werklas ná vier jaar egter my matriekstudies en landloopaspirasies begin belemmer, het ek daarmee opgehou en my volgende werk begin: kaartjieskeurder in ’n parkade.

By die Sanlamsentrum in Randburg het ek Saterdagoggende kaartjies geskeur. Ofskoon dit my minder geld in die sak gebring het, was dit van onskatbare waarde vir my latere loopbaan in die vermaaklikheidswese.

My mensekennis het hier goed uitgebrei omdat ek nou die kliënte persoonlik ontmoet het en ook vir die eerste keer woorde gehad het om te sê: “Dankie, meneer / mevrou, en geniet die res van die dag!”

Ná ’n paar weke het ek egter gevind ek begin onsamehangend praat (“Donkie, mevreer, en gedag die res van die niet!”) en erge hoofpyne kry. Dit was die gevolg van die motors se uitlaatgasse in die ondergrondse parkade.

Hier het ek dus ook ’n belangrike les geleer wat betref die vermaaklikheidswêreld: die gevare wat bedwelming vir jou loopbaan kan inhou. Met die oog op die behoud van my nugter verstand het ek daar bedank, maar nie voordat ek ’n werk hoër op in die sentrum kon verseker nie.

My stiefpa het by sekuriteit in die sentrum gewerk en kon my dus mooi op die hoogte hou van watter poste beskikbaar sou word. Jammer om julle te skok, maar nepotisme het ook maar sy plek in vermaaklikheid, soos in enige ander beroep.

Ek beweeg dan toe ook op na sekuriteit in ’n skryfbehoeftewinkel. Saai werk is dit beslis en ek het nog nooit die ure van my lewe só omgewens nie. Soms het ek so verveeld geraak dat ek ’n uitveër wou steel sodat ek darem myself kon arresteer – enigiets vir ’n bietjie aksie.

Hieruit het ek egter geleer hoe die veiligheidswese werk en dié kennis kan my nog handig te pas kom in die toekoms as ek beroemd sou word en lyfwagte moet aanstel om my te bewaak teen wildvreemde, fanatiese ondersteuners wat my potlode sou wou steel.

Maar gedurende die Aprilvakansie van 1989 het ek ’n lekker afwykinkie van my veiligheidswerk gekry en terselfdertyd ook die naaste ooit aan die vermaaklikheidswese gekom: Ek het ’n werk gekry as Paashaas wat Paaseiers vir die kinders in die sentrum uitdeel. Dié beroep het ook maar sy gevare. Die haaspak wat ek aangehad het, was verskriklik bedompig. Die Paaseiers was volop en ek moes van tyd tot tyd darem seker maak die gehalte van die eiers is nog op standaard.

Ná 23 eiers een Saterdagoggend in ’n bedompige haaspak het van die eiers besluit om hul weg teen die natuurlike gang van my slukderm terug te vind. Ek kots toe die haas se kop so vol van binne dat ek nie deur die plastiek-oë kon sien nie en my amper te pletter val in my soeke na die roltrap kleedkamer toe.

In ’n ander winkelsentrum kry ek toe werk in ’n kunsgalery. Dit was moeilike werk, want ek weet van kuns bitter min. Ek het die werk egter vir myself (en ander) interessant gemaak deur my eie terme en teorieë te ontwikkel en hulle aan niksvermoedende, ewe onnosele mense as die evangelie van kuns te verkwansel. Dit het veral goed gewerk met huisvroue wat kosmosskilderye kom koop het. Maar eendag het ek die verkeerde storie aan die verkeerde klant probeer afsmeer en sy gaan vertel toe vir die eienaar (wat van kuns baie meer as van humor geweet het) van my kwaksalwery.

Ek is summier in die pad gesteek.

Die les? Fop binne perke en kies jou gehoor versigtig – broodnodige kennis in die liegfabriek van vermaak.

Ek hoop my inligting is tot dusver insiggewend. Volgende keer vertel ek meer oor my kleurryke militêre loopbaan en my omgang met Hollywoodsterre.

Ek het die werk vir myself interessant gemaak deur my eie teorieë te ontwikkel en hulle aan ewe onnosele mense as die evangelie van kuns te verkwansel.

Teken in op Volksblad


Vind
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer