Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Naghowe ‘is 'n briljante plan’
Naghowe vir Suid-Afrika om die geweldige agterstand in strafsake te probeer wegwerk, kan eersdaags 'n werklikheid wees.
André P. Brink se susterskind doodgeskiet
“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika oorgelaat is aan die genade van barbare.”
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           10-25°C

Voorspellings
Sudoku

Dis bakgat, sê Barry
Apr 25 2008 09:28:33:630PM  - (SA)  
Marida Fitzpatrick



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Vir ’n Engelsman is dit nie maklik om deur die lewe te gaan met ’n van soos Ronge nie. Vra maar vir Barry Ronge. “Dis ’n opdraande stryd,” sug hy. “As jy in die lewe kom as mnr. Ronge, moet jy weet dit gaan nie van daar makliker word nie. As ek ’n rand kan kry vir elke keer wat iemand ’n woordspeling-grappie oor my van maak, sal ek Jacob Zuma kan koop.”

Mense wat hom in briewe aanvat, sê byvoorbeeld graag dat hy, soos sy van aandui, verkeerd is.

Maar die ding van Barry Ronge is dat hy sy van dikwels verkeerd bewys deur meesal reg te wees. Hy is immers een van die mees gerekende rolprentkritici in Suid-Afrika – met sy gesig en stem al dekades lank in tydskrifte, koerante, die radio en op TV.

Maar nou is daar weer ’n klomp mense wat sê Ronge was verkeerd. Sy inboks was vandeesweek vol haatpos ná sy artikel oor die fliek Bakgat! in die Sunday Times.

“Mense het gesê ek is neerhalend teenoor Afrikaners. Sommige het selfs gesê ek is ’n fundamentele rassis. Maar hierdie mense is stupid. Hulle het nie die artikel verstaan nie.”

Wat hy in die artikel gesê het, is dat die Afrikaner-jeug die mees gemarginaliseerde en onerkende groep in die land is.

Dit was allermins ’n aanval op die Afrikaner, “maar daar is mense wat só ongelukkig en afgesonderd is dat hulle enige mening oor hulle as ’n belediging beskou”.

Gelukkig steur hy hom nie veel aan hierdie mense nie, sê Ronge. “Jy lees die boodskappe om seker te maak jy het nie ’n fout gemaak nie, jy was nie verkeerd nie. En nadat jy daardie versekering gekry het, druk jy eenvoudig delete, delete, delete.”

Ja, hy is soms verkeerd en ja, sy van is Ronge, maar wat mense nie besef nie, voeg hy met ’n glimlag by, is dat sy ma se van Wright was . . .

In die rolprentbedryf is die belangrikste vaardigheid om jou teikenmark te verstaan en dít is presies wat Bakgat! reggekry het, sê Ronge.

Ja, Bakgat! is ’n onoorspronklike, resepmatige tienerfliek, maar sy geheim lê daarin dat hy vir die Afrikanerjeug méér gee as net vulgêre grappe: Bakgat! gee vir hulle bevestiging en erkenning van wie hulle is. Die kykers herken dinge in die fliek uit hul eie skooltyd wat hulle nie in Amerikaanse tienerflieks sien nie – soos die skooluniform, die rugbykultuur, die lemoenwiggies by die wedstryde. “Dit is daardie element van herkenning en erkenning wat die mense na die fliek laat stroom.”

En dít maak dat dit nie net hormoonbelaste tieners is wat Bakgat! gaan kyk en geniet nie, maar ook volwasse Afrikaners.

Die Afrikanertiener en student is vir Ronge ’n fassinerende groep. “Hulle omhels die reënboognasie, maar voel terselfdertyd hulle het die reg om hul Boeretradisie te vier. En hulle sien nie meer dat daardie aspek van hul kultuur op enige ander plek erken word nie. Daar is ’n leemte waar hierdie eens kragtige Afrikanerkultuur was.”

Daarom voel die Afrikanerjeug gemarginaliseerd, hoewel dit nie ’n bewustelike ding is nie. “Dis nie asof hulle in die oggend opstaan en dink ‘o, ons is so vervreemd en uitgestoot nie’. Dis meer van ’n onbewustelike besef en ’n voortdurende bewustheid van hul verlede. Maar dié jongmense het nie ’n slagoffer-mentaliteit nie. Hulle sit nie in ’n hoek en kla nie. Hulle doen net hul ding, doen dit doeltreffend en verskuif só die grense. Dit dwing ander om hulle te erken.”

Bakgat! se vervaardigers is jongmense wat pas by die AFDA-rolprentskool afgestudeer het, sê Ronge. En dís dalk hoekom die fliek werk.

“Hulle is ontsettend kreatiewe, talentvolle en wakker jonges wat die oppervlakkige tendense raaksien, maar ook die onderliggende angstighede en persepsies verstaan. Poena is koning was ’n baie nietige ou fliekie. Maar Bakgat! het iets in my geroer. Hulle het die regte knoppies gedruk – nie soseer die nostalgiese knoppies nie, maar eerder dié van bevestiging, erkenning. Almal het dit nodig: ’n ware weerspieëling van wie ons is; om te weet ons is nie alleen nie.”

Hy verstaan Afrikaans en Afrikaners beter as wat mense dink, sê Ronge. "My pa was Afrikaans. Hy het uit 'n familie gekom van ambagsmanne. Ek was die eerste Ronge wat nie 'n skrynwerker geword het nie."

Hy het in die Afrikaanse voorstede van die Wes-Rand grootgeword en woon nog daar. Hy lag. "Ek was in Genl. De la Rey-laerskool," sê hy in sy Engelse aksent. "Ek kan 'n goeie grap in Afrikaans vertel of iemand ordentlik beledig."

Sy pa is dood toe hy tien jaar oud was en daarna het hy Engels grootgeword by sy ma, Agnes. Maar sy liefde vir Afrikaans het gebly. Toe hy later by Wits gaan studeer het, was Engels en Afrikaans sy hoofvakke. NP van Wyk Louw was een van sy dosente. "Ek het 'n handgeskrewe en ondertekende brief van hom waar hy my geluk wens met my gradeplegtigheid. Dit was fantastiese tye."

En nou is hy 60. "Dit is skrikwekkend," ril hy. "Absoluut skrikwekkend." Hy vryf oor sy Kersvaderhare en -baard. Sy glasgroen oë kyk ver. "Dit is soos die geluid van 'n groot, ysterdeur wat agter my toeslaan." Dan lag hy die ouderdom weg.

Minstens lê daar 'n opwindende lewe agter daardie deur. "Dit was 'n vreemde soort gipsy-lewe." Hy het skoolgegee, klasgegee, geskryf-skryf-skryf, opgetree. En deur alles het flieks sy groot passie gebly. "Ek vind rolprente oneindig skeppend. Flieks dien dikwels as 'n onbewuste vir ?n globale gemeenskap. Dit weerspieël óf dit wat jy besig is om te word óf dit waarna jy streef."

Om te fliek is baie soos om te slaap en te droom, verduidelik hy. "Jy gaan na hierdie donker, veilige plek waar daar kleurvolle beelde voor jou afspeel waaroor jy geen beheer het nie."

Nog nooit was hy spyt dat hy sy passie sy werk gemaak het nie. "Ek kyk soms na mense met verstandige beroepe en reuse-pensioenfondse en dan wonder ek . . . Maar dit neem net een fantastiese fliek om te weet ek het die regte ding gedoen. Vir my om 'n lewe uit rolprente en skryf te maak ? dis soos om 'n suikermaniak in 'n lekkergoedwinkel los te laat."

In sy meer as 30 jaar in die mediabedryf het hy al onderhoude gevoer met mense soos Madonna, Steven Spielberg en Emma Thompson. Ná sy onderhoud met Madonna het hy vir vyf minute saam met haar in haar limousine gery. ?En net soos 'n Sandton-kugel het ek vir haar gesê: 'I love your shoes!'."

Ons gesels by die Boekehuis in Aucklandpark, Johannesburg, want Ronge ontmoet mense net in openbare plekke. "Daar was in 15 jaar nie 'n gas in my huis nie. Ek gaan ook nie by ander mense se huise in nie. Dit maak my ongemaklik."

Nee, hy het nie vriende nie. Ja, hy is 'n kluisenaar. "Privaatheid is vir my baie belangrik." As kind was hy al so op sy eie. "Ons het baie arm grootgeword en ek het twee sussies gehad ? dit was ?n baie vroulik-gedomineerde omgewing. Ek moes my eie ruimtes kry. Ek het geleer om myself geïnteresseerd te hou. Ek is maar 'n alleenloper."

Vriende het oor die jare soort van verdwyn. "Ek luister graag wat ander mense dink en waaroor hulle dink, maar ek haat dit om te luister hoe mense voel. Ek haat dit om te luister na iemand se liefdesprobleme of hul aaklige kinderlewe. Ek doen nie touchy feely nie."

Dit is een ding wat hy haat van die hedendaagse lewe: die verlies aan privaatheid. "Daar is geen verwydering tussen jou en die wêreld nie. Ek hou van mistiek. Ek hou van my eie private ruimte." Hy word ook nooit eensaam nie. "Ek het geleer om myself te vermaak."

As hy iets saam met sy suster wil vier, doen hulle dit by 'n restaurant. Maar eintlik vier hy niks nie. "My laaste verjaardagpartytjie was toe ek vyf geword het. Om iets te vier, is ?n gedoente oor niks. Ek hou nie van gedoentes oor niks nie." Waarvan hy hou, is om saam met sy drie honde in sy tuin te grawe. "Dít is wie ek is."

Hy weet dus wie hý is, sê hy, maar hy weet nie wie Barry Ronge is nie. "Hy is 'n ander entiteit ? iets in ander mense se gedagtes."

En hy is spyt oor niks nie. "Is ek spyt oor ek nooit kinders gehad het nie? Is ek spyt oor ek nooit maer was nie? Is ek spyt oor ek nooit 'n danser vir Madonna was nie? Dis jou lewe. Jy veg nie teen jou lewe nie." Jy gaan aan, sê hy. En jy vergeet.

Uiteindelik het jy vrede met wie jy is: half Ronge, half Wright, seun van Mev. Reg en Mnr. Verkeerd.

Selfs Rambo swig

Die fliek Bakgat! het met sy openingsnaweek beter as enige ander nuwe vrystelling by die loket gevaar.

Volgens me. Helen Kuun, uitvoerende aankoper van plaaslike inhoud vir SterKinekor-verspreiding, het Bakgat selfs die gewilde Rambo geklop. Rambo was sesde op die naweek se lys van top-10-flieks en Bakgat! vierde.

Tot en met Woensdag vandeesweek het die fliek R 1,24 miljoen by die loket verdien. In sy openingsnaweek alleen het hy R 640 000 gemaak. Dit is 76% meer as wat Poena is koning in sy openingsnaweek verdien het, volgens Kuun.

"Poena se mark was meer studente in die ouderdomsgroep 18-24. Bakgat! se kernteikengroep is tieners tussen 13 en 18 jaar en dan is daar ook die studente-element."

Oor die gemiddeld doen Bakgat! net so goed of beter as Amerikaanse tienerflieks, sê Kuun. "Die rolprent is oortuigend en kan meeding met enige ander rolprent in sy genre.

Dis eg en kontemporêr en vermaaklik. Die feit dat die fliek Afrikaans is, is ook ongetwyfeld een van die redes hoekom dit so suksesvol is."

Uit 'n verspreidingsoogpunt is die fliek volgens haar reeds winsgewend, en in dié stadium dui alles daarop dat die fliek ook vir die vervaardigers winsgewend gaan wees.

Bakgat! is nie net gewild in Pretoria, waar die rolprent afspeel nie. Volgens Kuun is daar ook rolprentteaters in Port Elizabeth, Bloemfontein, Kaapstad, Rustenburg en aan die Oos- en Wes-Rand van Johannesburg waar Bakgat ! die gewildste fliek is. "Dit wys dat die fliek regoor die land werk."

Teken in op Volksblad


Vind
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer