Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Naghowe ‘is 'n briljante plan’
Naghowe vir Suid-Afrika om die geweldige agterstand in strafsake te probeer wegwerk, kan eersdaags 'n werklikheid wees.
André P. Brink se susterskind doodgeskiet
“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika oorgelaat is aan die genade van barbare.”
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           10-25°C

Voorspellings
Sudoku

‘Die misdadiger’, gerieflike sondebok
Apr 25 2008 09:28:36:910PM  - (SA)  
Christi van der Westhuizen



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Me. Susan Shabangu, adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, se onlangse uitlating dat die polisie die “bastards”, oftewel misdadigers, moet doodskiet ongeag die betrokke regulasies of die Grondwet, wys hoeveel ons tog gemeen het as Suid-Afrikaners.

As daar ’n oproep tot doodslag is, juig die middel- en werkersklasse – wit en swart. Die adjunkminister blyk ook, soos talle Suid-Afrikaners, onder die wanpersepsie te verkeer dat ons “te liberale” Grondwet misdadigers beskerm.

Die Grondwet is gebore uit nood en is daarom seker ons hoogste uitdrukking as ’n nasie – van toe af is dit net afdraande. Shabangu se oproep en die jubelende reaksie daarop is net nóg ’n slag vir die integriteit wat ons as ’n nasie oor het.

Ek het altyd gedink die hoë voorkoms van geweldsmisdaad ná 1994 is bitter ironies. Noudat ons desperaat nodig het om mekaar oor die kunsmatige grense van apartheid heen te ontdek, word ons handel en wandel met agterdog gevul.

Ons vertrou mekaar nie. Met goeie rede, want dít wat gewone interaksie tussen vreemdelinge op straat in ’n ander land is –“hoe laat is dit?”/ “waar is so-en-so-straat?”– kan jou hier jou handsak/selfoon/skoene/lewe kos.

Dit takel enige hoop op sosiale kohesie af. Die gedekontekstualiseerde, alarmistiese beriggewing in koerante help ook nie.

Die Shabangu-opmerking en die reaksie daarop wys nou ook, sieklik genoeg, dat misdaad ons wel saambind. Dít is selfs waarskynlik die faktor wat ons die meeste saambind.

Dit gebeur op ’n aantal vlakke: Ons almal kry te doen met misdaad, ongeag ras, geslag of klas. Ons stem saam oor wat daaraan gedoen moet word. En ons weier om die konteks daarvan en ons eie verantwoordelikheid in ag te neem.

Daar is aanduidings dat sommige groepe meer onder misdaad deurloop, veral laerklasmense wat nie eie veiligheidsmaatreëls kan bekostig nie en ook in groter nabyheid tot toestande van ellende woon, waar misdaad ’n manier van oorlewing is.

Maar uiteindelik is dit moeilik vir diegene wat het om misdaad te vermy. Soos die jare verbygaan, word misdaad al hoe meer gesofistikeerd ten einde ons veiligheidstelsels te omseil.

Dit deurdrenk nou ons samelewing en gebeur op elke vlak: van gewelddadige misdaad tot witboordjiemisdaad; van die misdaadsindikate wat transitorooftogte orkestreer tot die voedselmaatskappye wat saamheul om pryse op te stoot; van die lughawens en huise tot inkopiesentrums en plase.

Mike van Graan se toneelstuk Die Generaal, wat tans in Kaapstad in Kunstekaap op die planke is, wys aangrypend en aaklig hoe dit werk. Vier groepe mense se lewens word deur misdaad saamgesnoer. Dit is waar ons nou as Suid-Afrikaners is: Misdaad reik oor die grense van apartheid heen en smee ons saam.

Shabangu se uitlating wys dit: Selfs comrades – wat elke nou en dan ten spyte van hul status getref word –- identifiseer nou met die kletsklasse se versugtings oor misdaad.

“Die misdadiger” is nou ons almal se gerieflike sondebok vir ons disfunksionele samelewing: Al ons ellendes, alles wat skeefloop, word op “die misdadiger” geprojekteer. “Die misdadigers” is die probleem, want “hulle” is die mense wat hulle nie by die reëls hou nie. “Die misdadiger” is die afwyking, die een wat al die probleme veroorsaak.

“Die misdadigers” moet betaal, só ons maak uitsprake soos Susan Shabangu. As ons net “die misdadigers” kon doodmaak – anders as wat daardie dekselse Grondwet sê – sal ons probleme opgelos wees.

Enigiets om uiting te gee aan ons gevoel van woede en magteloosheid oor die ontsetting van transisie waarin ons almal verkeer.

Maar wie is “die misdadiger” regtig? ’n Jong man wat nooit die geleentheid sal hê om te werk in ’n land met ’n werkloosheidsyfer van 40% (uitgebreide definisie) nie. Die ouer man wat al só lank werkloos is dat hy nou een van die “struktureel werkloses” is.

(Onthou enigiemand nog die “verlore generasie” waaroor so knaend geskryf is in die vroeë 1990’s? Hoe bly hulle vandag aan die lewe?)

Kyk na sogenaamde “korrektiewe dienste”: Ons kweek self ons misdadigers.

Kyk hoeveel kinders sit in die tronk; hoeveel verhoorafwagtendes (mense wat nog nie skuldig bevind is nie, maar te arm is om borgtog te bekostig); en hoeveel mense vir ekonomiese misdade. Maar ons is nie ontsteld daaroor nie, want dit is hul “verdiende loon”.

Wel, uiteindelik is ons oorvol tronke maar net leerskole vir misdadigheid. Jy kom daar uit en jy het bitter min ander opsies in die lewe. Want daar is nou selfs minder werk vir ’n ongeskoolde of halfgeskoolde persoon as toe hy in die tronk opgeneem is.

In Van Graan se toneelstuk verweer ’n staatsaanklaer homself met die woorde: “Ek het net my werk gedoen.” En sy aanrander reageer: “En ek doen net myne.” Dít is deel van die kranksinnigheid van ons land: Om ’n misdadiger te word, kan die enigste manier wees om sin en struktuur aan jou lewe te gee.

Waar jy andersins net by die huis sou rondsit of ronddwaal tussen die plakkershuise van familie en vriende, bedelend, het jy nou ’n status, jy is ’n iemand, jy het iets om elke oggend voor op te staan.

Is dit moontlik vir middelklasmense om hulself in die skoene van ’n arm en werklose mens in te dink? Die eindelose dae; die gebedel by bure; die skielike tuinier-joppie vir R50 – ’n werk wat jy vir twee jaar hou totdat die mense trek of tuindienste kry of besluit hulle hou nie meer van jou nie. En dan is jy maar weer terug aan die bedel.

Ons belê nie genoeg in rehabilitasie in tronke nie en ons doen nie genoeg om werk ’n moontlikheid te maak vir die meeste mense in hierdie land nie. Maar steeds sien ons misdadigers as “afwykings”.

Is hulle regtig? Hoekom is daar elke naweek volgens polisiestatistieke ’n opvallende toename in geweldsmisdaad?

Want dís wanneer ons Suid-Afrikaners by die huis is. Die onveiligste plek in ons land is dikwels ons eie huise. Kyk wat doen ons as ons huis toe gaan. Seksuele aanranding in Suid-Afrika is van die hoogste ter wêreld.

En die helfte van aangemelde verkragtingsgevalle is kinders. Die weerloosste groep.

Maar ons moet seker nie verbaas wees nie. Ons is heeltemal bereid om kinders te laat opsluit – hoekom sal ons ’n probleem daarmee hê om hulle seksueel aan te rand? Onlangs het ons ook opgeruk om ons “reg” te verdedig om ons kinders te slaan.

Huishoudelike geweld; gesinsmoorde . . . Hoeveel vroue gaan vanjaar deur (voormalige) eggenote of minnaars om die lewe gebring word? So iets sal mense in ander lande laat regop sit. Hier is dit maar net nog ’n koerantstorie, êrens op bladsy vyf.

’n Hoë persentasie van mans én vroue het volgens ’n onlangse studie gesê dit is heeltemal aanvaarbaar vir ’n man om ’n vrou so nou en dan ’n klap te gee.

Persoonlike verhoudings is in hierdie land vermink. As ons huis toe gaan, is ons intimiteit dikwels gewelddadig van aard.  Ons sien daardie gewelddadige intimiteit ook in die misdaadverhouding buite die huis. Ons haal daar dieselfde weergawe van intimiteit uit.

Die beskadigde intimiteit van ons gesinne speel uit in geweldsmisdaad. Kompulsief word die geweld waarin hierdie land ontvang en gebore en getoë is, herhaal – deesdae ál meer sadisties en wreedaardig.

In gevalle waar misdaad oor rassegrense heen gebeur – die minderheid van gevalle – word swart en wit liggame nader aan mekaar gebring as wat steeds meestal moontlik is in hierdie land. Apartheidsfrakture is steeds so diep in Suid-Afrika dat ’n wit mens se velskakering in sekere plekke openlik aangegaap word. Misdaad is hier weer ’n perverse brugbouer.

Swart en wit liggame was nog altyd in ’n bepaalde verhouding in hierdie land. Die een gebied, die ander moet gehoorsaam. Wit liggame kon swart liggame laat beweeg op maniere wat hulle nie anders sou nie. Dit is moontlik gemaak deur geweld of die dreigement van geweld.

Nou sien ons dit omgedraai in aanvalle van onbeskryflike wreedheid. Die enigste vergelyking vir die verwronge intimiteit van sadistiese aanvalle is die marteling en moord en lukrake intimidasie-aanvalle op teenstanders van apartheid.

Ons is vandag uit die veld geslaan oor die makabere ekstremiteit van sommige geweldsmisdaadaanvalle. Hoe kan dit wees? Asof ons heeltemal van ons bloedige verlede vergeet het – van die rasse-onderdrukking tot die ANC se kampe in die res van die vasteland.

Hoekom sou die geweld ophou ná 1994? Dit is wat ons ken. Dit is die ding wat ons gemeen het.

. Christi van der Westhuizen is die skrywer van White power & The rise and fall of the National Party.

Teken in op Volksblad


Vind
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer