Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 10-25°CVoorspellings |
|
Dis nie CNN wat lê in die loopgrawe
Nairobi, Kenia, Woensdag 16 Januarie 2008. Die Oranje Demokratiese Beweging (ODM), Kenia se opposisie, roep protesoptogte saam in Uhuru-park, Nairobi se groen long, in hul veldtog om pres. Mwai Kibaki se regering te laat val. Die polisie verbied dit. By Uhuru-park bou berede onlustepolisie ’n muur met man, perd en traanrook. Niemand sou dit dié dag penetreer nie. Oorkant die pad: Dansende ODM-ondersteuners wat “Geen Raila, Geen Vrede” sing, ’n eis dat die ODM-leier, mnr. Raila Odinga, by Kibaki oorneem ná Desember se presidentsverkiesing, wat die ODM sê hulle gewen het. Net langsaan: Driepote en mikrofone en klikkende kamerasluiters van sowat vyftig buitelandse joernaliste. En toe trek die polisie los. Een traanrooksilinder tref die CNN-vrou só hard teen die skouer, sy sweer sy is geskiet (sy is nie). ’n Vryskutjoernalis van Johannesburg, James Stairs, word deur ’n perd bestorm. Die polisie se boodskap: As julle dié storie vertel, is julle kop in een mus met ons vyande, en julle moet nie op ons beskerming staatmaak nie. DAURA, Nigerië, 21 April 2007. Nigerië kies op dié dag ’n nuwe president. In Daura, opposisie-hartland in die noorde, lewer die verkiesingskommissie slegs een derde van die nodige stembriewe af. Die opposisie skree “bedrog”. Dit is ’n poging om die steun vir genl. Muhammadu Buhari se All Nigeria People’s Party (ANPP) te verswak, word gesê. ANPP-lede reël ’n protesoptog. Enkele geboue wat aan die regerende party behoort, lê gou in puin. Die weermag en polisie gryp in, asook ’n regeringsgesinde milisie van ’n buurstaat wat die ANPP-lede met peile en boë opklits. ’n Jong seun se maag word oopgeruk. Nog twee sterf. By die Daura-hospitaal, sonder elektrisiteit, lê die beseerdes in rye op stoepe. Buite die dorp: ’n Padblokkade van ANPP-lede met kapmesse en knopkieries wat wil keer dat enigeen wat die regering steun, deurkom. Tel joernaliste onder dié groep? Onderhandelings in Hausa volg. Die mensemuur knak, ons ry deur. TATA RAPHAEL-STADION, Kinshasa, DRK, 27 Julie 2006. “Bemba, koning van die Kongo” dreunsing die skare van 30 000. Hulle wag vir hul leier, Jean-Pierre Bemba, krygsheer, sakeman en die adjunkpresident wat pres. Joseph Kabila moet onttroon. Bemba se barakke in die stad is pas in ’n reeks ontploffings verwoes. Die skare blameer die Europese Unie (EU) se vredesmag, Eufor, want ’n Eufor-vegvliegtuig is vroeër die oggend bo Kinshasa opgemerk. Die eintlike rede vir die vyandigheid jeens die Europeërs is egter dat Europa en Suid-Afrika die voortou neem in die organisasie van die eerste veelpartyverkiesings in die DRK in 45 jaar, en Bemba se mense glo dié lande steun Kabila. Hy en sy bondgenote is die vyand. Buite die stadion klap skote en swart rook borrel uit ’n kerk. Bloeiendes soek skuiling. Die Kongolese joernaliste beweeg vry deur die skare, maar vir die buitelanders is daar min aptyt – hulle trek laer by die podium. ’n Man wys sy tande vir ’n Suid-Afrikaanse joernalis. Sy vriend vertolk dit: Il veut vous manger, sê hy (hy wil jou eet). Snaaks. Maar Bemba se soldate is jare vroeër van kannibalisme beskuldig, so ’n mens wonder. Bemba arriveer. Die skare kook. Uiteindelik gee ’n Reuters-fotograaf die teken: Dis tyd. Die internasionale joernaliste loop in enkelgelid uit terwyl beledigings op hulle reën. ’n Fransman probeer die guns van die ongedurige skare buite koop: Vive Jean-Pierre! skree hy deur die venster van die wit Corolla-stasiewa. MET die viering van Wêreldpersvryheidsdag vandag bly Afrika een van die ingewikkeldste plekke om ’n joernalis te wees. Elke jaar sirkuleer honderde buitelandse joernaliste deur die vasteland om voorvalle soos hierbo te vertolk, vas te vang, op koerantvoorblaaie oral te gooi. Soms word die konflik wat hulle sien en afneem draaipunte in die geskiedenis. En soms is hulle só naby daaraan dat hulle nooit kans kry om die storie te vertel nie: Altesame 172 joernaliste is verlede jaar wêreldwyd dood in die loop van hul werk. Die meeste sterftes was in Irak. Veertien was in Afrika. Lank voordat die laataandnuus ’n chaos of ’n deurbraak aankondig, ploeg joernaliste deur hindernisbane van regeringspermitte, padblokkades en soms vlieënde koeëls. Party doen dit geduldig en versigtig, ander as haastige valskermjoernaliste wat vir ’n week of tien dae die jongste verkiesing of sogenaamde “uitbarsting” van geweld jaag. Dit klink quick and dirty, maar sonder die valskermbirgade sou jy in Washington of Wolmaransstad nie weet van die kerk in Eldoret in die weste van Kenia waar meer as dertig vroue en kinders in Januarie doodgebrand het nie. Motorbomme sal in Bagdad ontplof, maar niemand sou dit hoor nie (behalwe natuurlik die mense van Bagdad). Hulle word op kort kennisgewing uit Londen of Johannesburg gestuur met malariamedisyne, mediese versekering wat vir ’n medivac sal betaal (mediese noodvlugte), skootrekenaars en satellietfone. Soms bly jy in goeie hotels, tot die base sê: “Volgende storie!” MAAR dit is nie dié nuustroepe wat ná die laaste skote in die loopgrawe bly lê nie. Want as uitlanders ontruim word en selfs die Verenigde Nasies (VN) hul sending opskort, soos wat met die staatsgreeppoging in Tsjad in Februarie gebeur het, is dit die plaaslike joernaliste wat nêrens het om heen te vlug nie. Hulle is die eintlike vegters vir persvryheid. Dit is h?lle wat sonder rekenaars of die internet tiranne kaalhand pak in Eritrea, Zimbabwe, Tsjad en Somalië en meer geskakeerde waarhede as die res oopkrap en versprei. Hulle werk vir ’n bloeiende netwerk onafhanklike koerante en radiostasies wat elke dag die vyandige teenstand van regerings in Asmara, Harare, N’Djamena en Moegadishoe moet verduur. In Eritrea is op 24 April onthul Tura Kubaba (40), ’n joernalis by die Kunama-talige diens van die staatsradiostasie Radio Dimtsi Hafash (“stem van die massas”), is al twee jaar in aanhouding en het verlede jaar in die land se tronksisteem “verdwyn”. Volgens die organisasie Verslaggewers Sonder Grense (RSF) is Kubaba daarvan beskuldig dat hy kontak gehad het met ’n etniese minderheidsgroep in Eritrea. In Zimbabwe is Stanley Karombo, ’n vryskutjoernalis en student by Wits in Johannesburg, op 21 April vrygelaat nadat hy vir drie dae by ’n polisiekantoor in Harare aangehou is. Hy het glo notas geneem by ’n toespraak van pres. Robert Mugabe, het RSF gesê, en moes meer as R3 000 aan boetes betaal om sy vryheid te koop. Ná ’n staatsgreeppoging in Tsjad op 2 en 3 Februarie het pres. Idriss Déby se regering op 20 Februarie Dekreet nr. 5 uitgevaardig, wat die maksimumstraf vir “valse nuus” en laster tot drie jaar tronkstraf opgestoot het, terwyl “belediging van die president” jou nou vyf jaar agter tralies kan kos. Onafhanklike koerante en radiostasies is tydens ’n noodtoestand in N’Djamena gesluit, en Sonia Rolley, die enigste permanente buitelandse korrespondent daar, is op 20 Maart uitgeskop. Somalië het agt lyke tot die joernalis-dodetal van veertien in Afrika verlede jaar bygedra, en op 28 Januarie was ’n Somaliese joernalis een van die slagoffers van ’n motorbomontploffing wat ook die lewe van ’n drywer en twee buitelandse noodlenigingswerkers daar geëis het. In die Soedan is sensuur in Februarie heringestel, en deesdae loer die geheime diens reeds gisteraand na vandag se koerant, volgens RSF. DIT is moeilik genoeg om jou storie in die koerant te kry. Maar baie gereeld is die grootste vyand van persvryheid in Afrika nóg petrolbomme by drukperse, nóg vyandige skares, nóg kleingeestige ministers van inligting wat met permitte God speel oor die pers. Dit is die koste van die nuus. Koerante is in baie Afrikalande só duur dat net die élite dit kan bekostig om elke dag een te koop. Terwyl ’n leser van die Washington Post 50 Amerikaanse sent (sowat R3,80) vir sy oggendblad opdok en Die Burger of Beeld skaars R4 kos, kos dagblaaie van twyfelagtige gehalte in ’n stad soos Lagos soms twee maal soveel. Klein oplae, hoë produksiekoste en ’n gaar padnetwerk wat die verspreiding van koerante peperduur of onmoontlik maak, druk pryse op. Al het Nigerië 140 miljoen mense en 95 miljoen geletterdes verkoop die land se grootste dagblaaie daarom kwalik meer as 40 000 eksemplare. Hierteenoor het Suid-Afrika minder as 50 miljoen inwoners (40 miljoen kan lees en skryf), maar meer as 500 000 kopieë van die Daily Sun vlieg elke oggend van die rak. Lagos se This Day kos R6,50 op ’n weekdag en R10 oor die naweek, teenoor R1,80 vir die Daily Sun. Wat beteken persvryheid as ’n dagblad in Nigerië soveel kos soos wat 70% van dié land se inwoners daagliks verdien? Een van die vindingryke oplossings vir dié probleem is koerantkiosks op straat in stede van Lagos tot Nairobi, en van Douala tot in Freetown. Hier word die dag se koerante soos wasgoed met pennetjies aan ’n draad gehang. Lees is vry. Vir dié met toegang tot Afrika se duisende internetkafees het blogs en nuuswebblaaie ook ’n sentrale bron van inligting deur plaaslike en internasionale joernaliste geword, en selfs klein koerante gooi deesdae al hoe meer van hul nuus op hul blaaie aanlyn. Maar slegs 44 miljoen Afrikane het internettoegang. Vryheid van die pers is van kritieke belang, daarom ’n bohaai oor joernaliste in die tronk. Maar sonder vrye toegang tot die pers is die eerste vryheid soveel minder werd.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|