Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 10-25°CVoorspellings |
|
Hulle hou van vakansiedae en dan maak hulle só
Wat ’n belaglike week! Twee werkdae uit sewe. Ag nee man, daar is net te veel openbare vakansiedae op ons kalender. Wag ’n bietjie, skat, ek is die eerste een wat na ’n dag sonder roetine uitsien. Ek is ’n gogo met drie kleinkinders. Ek was ’n ma met drie groot kinders. Ek was ’n ambassadeur met driemiljoen burgers. Ek was ’n aktrise in Killarney-flieks in die 1950’s, en ek weet hoe belangrik ’n dag af is. Daar was altyd die feestelikheid van dae soos Uniedag, 31 Mei, later die ou Republiekdag. Dit was gewoonlik harde werk, want my man, Hasie, was LV vir Laagerfontein en later minister in die regerings van Hendrik Verwoerd en John Vorster. Dit was ’n dag van groot hoede dra en wakker bly deur al die ongelooflik vervelige toesprake. AS ek nou op openbare vakansiedae terugkyk, gee elkeen nou vir my ’n gevoel van ongemak. Ons begin met Nuwejaar. Ja, lekker. Die begin van ’n nuwe asem en almal is buitendien klaar uitgekuier ná daardie orgie van Kersfees. In die Kaap is daar ook nog Tweede Nuwejaar, wat beteken jy ry nie deur die stad op pad na die strand nie. Die Kaapse boulevards is dikgepak met Kapenaars wat sing en dans. Ons het destyds vir hulle ander name gehad en ek kan hulle nie onthou nie. Maar kyk dit alles liewers op teevee, want glo my, rassisme lig sy vieslike kop makliker in die swaar Kaapse verkeer. In die ou dae was 21 Maart ’n nagmerrie. Die bediendes het by die huis gebly, die tuinjong was dronk en het net Xhosa gepraat. Die polisie se verlof is gekanselleer, want Sharpeville het sy kop uitgesteek. Dit was ’n aaklige dag. Ons het dit natuurlik in die ou dae geïgnoreer, want dit was die begin van ons einde. Vandag is dit Menseregtedag en dank Vader ons het so iets. My menseregte en joune. Maar almal word dronk en gaan strand toe. Jy kan nêrens parkeer nie en die lokasie-taxi laat jou jou humeur verloor en skielik is jy terug in 1966. Vryheidsdag, 27 April, is vir my die belangrikste en enigste dag waarop ek wil stop en sê: Dankie tog, ek is nog hier. Daardie dag in 1994, toe ons almal in lang toue moes staan om saam te stem oor ’n toekoms vir almal. En miljoene het dae gestaan om te stem. En baie het twee keer gestem! Tot Duitse toeriste wat in ’n keffie gegaan het om kleingeld te kry, het met ’n Suid-Afrikaanse paspoort uitgekom. Almal kon stem en almal het. Laat ons dit nooit vergeet nie. 16 Junie is nou Jeugdag. En dit was die dag van die kind, toe hulle in Soweto besluit het genoeg is genoeg en die skrif is aan die muur. Maar in Afrikaans. Ek twyfel of dit ons taal was wat die skole en sakeondernemings van Soweto aan die brand gehad het. ’n Goeie verskoning, ja, maar dit was net een vernedering te veel. En wat het die ANC in die buiteland aangemoedig? Bevryding voor opvoeding. Nou sit ons met ’n middeljarige groep mense wat nie kan lees of skryf nie. Hulle sit sonder werk en sonder gesondheid, en hulle het die land uit die kloue van apartheid gered. Siestog. Vrouedag is lank beloof en het uiteindelik gekom. Waar sou ons wees sonder ons moeders en oumas? Ons dogters en vroue? Dat die meeste van ons in ons eie land in vrees woon vir wat ons mans aan ons sal doen, is ’n skande. Ons word geslaan, verkrag, bedonner en vermoor. Vrouedag is die regte tyd om aan hulle te dink. Maar ook aan die volksmoeders van ons reënboog-geskiedenis. Waar sou ons vandag wees sonder hul opofferings? Ek het geen simpatie met ’n man wat ’n vrou slaan nie. Slaan terug! En verkrag? Ek wens ek kon die woorde hier gebruik, maar laat ons net sê: ’n Skerp mes vinnig daar onder gebruik, sal sy wapen van massa-onderwerping vir altyd wegpak! Hou Vrouedag. Op 26 September vier ons die erfenis van ons geskiedenis. Dis ook maklik om te onthou waar ons as Afrikaners vandaan gekom het, want ons geskiedenis is noukeurig aangeteken in boek en blad. Baie daarvan is leuens. Dis alles deur politici agter ’n lessenaar in Pretoria ná 1948 aangebring. Maar die erfenis van die nuwe reënboognasie met stories uit alle oorde: nuut, waar, vreemd, lekker en skokkend, is die bakstene van die tempel van môre se geluk. Hou dit, want ons kinders weet niks van mekaar nie. Laat hulle elke storie lees en oorvertel. Laat ons die verhale op televisie invleg met Sewende Laan en Egoli. Laat ons die rykdom van ondervinding vier. Hou 26 September. En dan 16 Desember. Wie kan vergeet hoe ons as Afrikaanse Calvinistiese kinders op daardie dag in die kerk gejaag is om die Here te dank vir die oorwinning van Bloedrivier. Boere met gewere teen Zoeloes met assegaaie? Dit neem nie ’n professor om uit te werk wie sou wen nie. Was dit ’n viering van rassisme? Vandag is dit onaanvaarbaar. Maar danksy 1994 het die ANC ’n ander betekenis aan hierdie dag gegee. Dis hul verjaardag en vandag ook Versoeningsdag, die abrakadabra van ons hoop. Hou daardie dag vir altyd. WAT bly oor? Geloofsdae. As Christen wil ek nie eens daaroor praat nie, maar hoekom het ons ’n Paas-Vrydag, Paas-Sondag en Paas-Maandag? ’n Kersdag? En die Jode, Moslems, Hindoes en ander vier hul geloofsdae sonder openbare sanksie, privaat en gevestig in hul geloof. Los die geloofsdae en laat ons self verlossing vind, want ons wil dit hê. Nie omdat ons die dag af het om te veel te eet, drink en vloek nie! Hel, en daar is ook nog 1 Mei. Werkersdag. Waarop g’n werker wil werk nie! Ek gee oor.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|