Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 10-25°CVoorspellings |
|
Kinders van die wind
Wie is jy? Ek is ek. Maar ek weet nie wie ek is nie. Dit sal interessant wees om van By se lesers te hoor wat elkeen sê oor wie hy of sy is. Ek is ’n individu met my eie denke, behoeftes en drange. Ek weet hoe dit voel om kwaad te word. Ek ervaar vreugde en hartseer. Ek praat met my vrou of vriende oor dinge wat my na aan die hart lê. Diegene wat rondom my lewe, weet dus heelwat van my. Ek is nie ’n geslote boek vir hulle nie. Maar ek is ’n geslote boek vir myself, want ek kan nie sê wie ek is nie. Ek ken myself nie. Ek is vir myself ’n vreemdeling. Wanneer ek sterf, hou die “ek” op om te bestaan. Beeld het op 9 April berig oor die Indiese babameisie Lali, met twee gesigte, twee paar oë, twee neuse en twee stelle lippe, maar net een paar ore. Sy maak glo al vier ogies gelyk toe wanneer sy slaap. Watter een van die twee is die ek? En as een van die koppe verwyder sou word, is die ek wat oorleef, ’n halwe ek? PROF. WILHELM JORDAAN verwys in sy rubriek in dieselfde Beeld na Descartes se stelling “cogito ergo sum”. “Ek dink; daarom is ek.” En dan vertel hy hoedat hy ’n spieël voor sy kleinkind, Daniël, se gesig hou en sê: “Kyk, dit is Daniël,” waarop Daniël antwoord: “Daniël is.” Die syn, of die wete om te wees, is dus die sine qua non vir die “ek”. Jordaan sê in ons wêreld is dit moeilik om te wees wat jy is, hoofsaaklik omdat mense naby aan jou en rondom jou verwagtings van jou koester waaraan jy nie kan of wil voldoen nie. Ek stem saam, maar selfs as jy is wat jy wil wees, beantwoord dit nie die vraag “Wie is ek?” nie. Dit maak nie saak wat jy is nie. Jy kan ’n prokureur wees of ’n boer of ’n verpleegster of wat ook al, maar wie is jy? En waarom leef jy, waarom bestaan jy? As jy nie bestaan het nie, het niks bestaan nie. As jy te sterwe kom, hou alles op om te bestaan, selfs die ganse universum. Jy of die ek dink nie meer nie, en is nie langer bewus van enigiets hier op aarde wat jou geraak het nie. Die syn het verdwyn. Ons skram weg van hierdie onverbiddelike waarheid. Wanneer jy ’n begrafnis bywoon, sien jy hoe die naasbestaandes en vriende om die graf staan om afskeid te neem van die gestorwene. Maar jy weet dat jy die een of ander tyd die een sal wees wat in die kis lê wat in die graf neergelaat word. En snags wanneer jy in die bed lê voordat jy aan die slaap raak, sê jou verstand vir jou dat daar ’n tyd gaan kom wanneer jy nie meer aan die slaap gaan raak om môre wakker te word nie. Jy is dan dood. Jou vermoë om wakker te word is vernietig. Die ek het verdwyn. Die aarde sal aanhou om om sy as te draai, maar sonder dat jy daarvan bewus is. Dit maak dan ook nie saak of ’n oorlog met kernkragbomme gevoer word nie, of aardverwarming dit onmoontlik maak vir diere soos die mens om voort te bestaan nie. Jy, die ek, is weg en alles wat daarna gebeur, gebeur sonder dat jy dit weet. Ek is dus ’n tydelike verskynsel op aarde, maar ek lewe en strewe asof ek ’n ewigheid gaan lewe. Ek laat my beïnvloed deur ’n vals aanname dat my denke en besluitneming deel is van ’n nimmereindigende proses. Ek bedrieg myself omdat ek terugdeins voor die werklikheid van my kortstondige bestaan hier op aarde. In Prediker is daar stellings wat hierdie werklikheid onder oë sien. “Wat verby is, word vergeet, en ook wat later kom, sal vergeet word deur dié wat daarna kom.” “Wat nie daar is nie, kan nie getel word nie.” “Baie wysheid stel hoë eise; wie kennis versamel, versamel smart.” “Die wyse weet wat hy doen; vir die dwaas is daar net donkerte, maar dit weet ek: Een en dieselfde lot tref albei.” “Oor regverdiges kom wat goddeloses toekom; oor goddeloses kom wat regverdiges toekom.” “Die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie.” “Wie weet wat vir die mens goed is in die lewe, in die dae wat tot niks lei nie, wat hy soos ’n skaduwee deurbring? Wie kan vir ’n mens sê wat ná hom in hierdie wêreld sal gebeur?” “Ek het gesien dat al die moeite wat ’n mens doen vir sukses, uit onderlinge afguns kom. Ook hier kom dit dus tot niks. Dis ’n gejaag na wind.” “Ek het gesien dat alles niks was, ’n gejaag na wind.” Een Oujaarsnag lank gelede het Koos du Plessis by my gekuier. Ons het weg van die plesierige rumoer teen ’n wildepiesangbos op my plot gaan sit en rooiwyn drink. Ons het gesels oor die eienaardige konsep van ’n nuwe jaar wat aan 31 Desember ’n psigedeliese betekenis toeken om by die willekeurige almanak van die mens in te pas, terwyl die aarde argeloos sy tog om die son voortsit, ongeag of die aarde een keer elke 24 uur om sy eie skuins as draai. Ons het gesels oor die lewe en die dood. “Wie ek is. Wat ek is.” Melancholiese opwinding. Uiteindelik het ek vir hom gesê: “Koos, jy het dit reg. Jy slaan die spyker op die kop. Gesigte, drome, name is deur die wind verwaai, en waarheen daardie woorde is, sou net ’n kind kon raai. Swerwers sonder rigting, soekers wat nooit vind – en eindelik was almal maar net kinders van die wind . . .”
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|