Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 2-20°CVoorspellings |
|
ANC-verraad teenoor skoon, oop regering
Die skandalige verraad van die ANC-regering teenoor die belofte van skoon en oop regering word jammerlik en duidelik geïllustreer rondom die Skerpioene-sage. Omdat dié suksesvolste eenheid in die bestryding van misdaad ook ANC-hoës soos die huidige ANC-leier, mnr. Jacob Zuma, die polisiehoof komm. Jackie Selebi en gewese hoofsweep, mnr. Tony Yengeni, in sy knypers beetgekry het, het die ANC verlede jaar in Polokwane besluit die Skerpioene moet ontbind word. Allerhande rookskerms – behalwe die waarheid dat die eenheid te vreesloos in sy stryd teen korrupsie was en ook te hoog op in die ANC sy knypers ingeslaan het – is aangevoer waarom die Skerpioene ontbind moet word. Die verslag van regter Sisi Khampepe wat vandag bekend gemaak word, bevind byvoorbeeld die bestaan van die Skerpioene is nie strydig met die Grondwet nie. Daarmee word die rookskerm en misleiding van die ANC om van die Skerpioene ontslae te raak weggeblaas. Want die ANC het ook selfs agter die Grondwet probeer skuil om sy omstrede besluit rondom die Skerpioene se afsterwe te probeer regverdig. Die kabinet het verlede week al ’n wysigingswet goedgekeur om die Skerpioene te ontbind. En om verder gehoor te gee aan die ANC se omstrede besluit in Polokwane. Die verslag waarin regter Khampepe sê sy stem nie saam dat die Skerpioene ontbind moet word nie en Mbeki op die vingers getik word, word vandag vrygestel twee jaar nadat dit aan Mbeki oorhandig is. Suid-Afrikaners wat skandelik deur die ANC in ook die stryd teen misdaad in die steek gelaat word, gaan net weet wat in die verslag staan, omdat die DA met ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting geslaag het. Anders was dit net nog ’n deel van die sirkusagtige toesmeerdery en misleiding rondom die hele Skerpioene/ Vusi Pikoli/Jackie Selebi-sage. Te midde van ’n regeringsparty wat op alle vlakke van korrupsie deurtrek word en Suid-Afrikaners wat steier onder ’n misdaadgolf het die ANC egter reeds sy sin gekry om die Skerpioene ontbind te kry. Dit gaan nou by die polisie ingeskakel word om daar ’n nuwe eenheid te vorm. Die verleentheidswekkende kommissaris van polisie, Jackie Selebi, wat intussen geskors is, moet danksy ’n Skerpioene-ondersoek in die hof verskyn op aanklagte van regsverydeling en korrupsie. Wat ’n siek grap! Vrae soos die volgende duik op: Met die Skerpioene uit die pad en veilig onder die polisiehoof se duim, wie gaan ’n volgende polisiehoof kan ontmasker as hy ook die pad byster raak soos Selebi dit na bewering gedoen het? Tekenend van hoe ernstig die presidentskap van pres. Thabo Mbeki ontspoor het, is die nuus dat hy probeer verhoed dat die voorlegging van die geskorste hoof van die Skerpioene, adv. Vusi Pikoli, aan die Ginwala-kommissie openbaar gemaak word. Mbkei se skorsing van Pikoli verlede jaar word wyd geag as ’n poging om te verhoed dat sy kantoor die ondersoek na die beweerde klagtes van bedrog teen Selebi voortsit. Luidens mediaberigte het Mbeki aangebied dat Pikoli se skorsing opgehef sal word indien hy bereid sou wees om te bedank. Dit kan vertolk word as niks anders nie as ’n regstreekse poging van die presidensie om die kommissie se ondersoek te systap en om inligting wat voor die kommissie moet dien te probeer sensureer. Die duistere en vae redes dat Pikoli geskors is weens sy swak werksverhouding met die minister van justisie, me. Brigitte Mabandla, is van die begin van die sage vertolk as net ’n rookskerm om enige nader ondersoek van Selebi se aktiwiteite te verduister. Luidens die jongste berigte het Mabandla, wat in opdrag van Mbeki opgetree het, in September verlede jaar in ’n brief beveel: “Totdat ek tevrede is dit (die ondersoek na Selebi) is in die openbare belang sal jy stop”. Pikoli het na bewering geweier en aan Mabandla teruggeskryf sy kan moontlik aan regsverydeling skuldig wees. Luidens berigte is die brief van Mabandla een van die redes waarom Pikoli nou ’n skikkingsaanbod van die regering wil aanvaar. Die brief – en ander “soortgelyke voorvalle” wat glo Mbeki se pogings om Selebi te beskerm uitwys – sal ’n reuse-verleentheid vir Mbeki en Mabandla wees. Dis egter veel meer: Indien die jongste onthullings en bewerings rondom Mbeki en Mabandla se pogings tot toesmeerdery en beskerming rondom Selebi waar is, is dit vir alle wetsgehoorsame Suid-Afrikaners om van te sidder. Die wese van ons jong demokrasie kan deur sulke toesmeerdery en korrupsie in gevaar gestel word. Dis in die hoogste openbare belang en in belang van ons jong demokrasie dat die hele Selebi/Pikoli/Skerpioene-sage nie soos met die wapenskandaal te midde van ’n boel leuens, wanvoorstellings en verdraaiings ’n al hoe groter skandvlek word nie.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|