Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Naghowe ‘is 'n briljante plan’
Naghowe vir Suid-Afrika om die geweldige agterstand in strafsake te probeer wegwerk, kan eersdaags 'n werklikheid wees.
André P. Brink se susterskind doodgeskiet
“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika oorgelaat is aan die genade van barbare.”
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           10-25°C

Voorspellings
Sudoku

Minister, kyk ook na dié ‘nalatigheid’ in SA
May 05 2008 11:16:45:870PM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Die minister van minerale en energie, me. Buyelwa Sonjica, was verlede week baie vinnig om die ongeluk by ’n myn buite Carltonville waarin agt werkers dood is toe ’n kabel gebreek het, as “verregaande nalatigheid” deur die myn te bestempel.

“Dit kan net aan ’n gebrek aan goeie instandhouding toegeskryf word. Iets wat vermy kon gewees het.”

Die minister het die bestuur daarvan beskuldig dat hulle “duidelik toegewyd aan die myn is, maar nie aan die lewe van die werkers nie”.

Volksblad is nie in ’n posisie om te oordeel wat die rede is waarom daardie kabel gebreek het wat die tragiese verlies van lewens veroorsaak het nie.

Sou dit blyk dat dit ’n gebrek aan instandhouding was wat die ongeluk veroorsaak het, kan dit nie in sterk genoeg taal veroordeel word nie.

Wat ook al die situasie by die myn waar énige lewensverlies om watter rede ook al ten diepste betreur word:

Die betrokke minister en ander ANC-leiers moet gerus selfondersoek doen oor wat die prys is wat hierdie land betaal vir ook politici en owerhede se “verregaande nalatigheid” of ’n arrogante traak-my-nie-agtigheid oor die lot van gewone Suid-Afrikaners.

Dis “verregaande nalatigheid” om ondanks waarskuwings van ’n kragkrisis jare gelede, niks te gedoen het nie. Die prys oor jare gaan miljarde rande wees – en lewensverliese.

Die “verregaande nalatigheid” om ondanks talle beweringe van onreëlmatighede, voort te gaan om die land se polisiehoof te probeer beskerm terwyl die land steier onder ’n misdaadkrisis.

Dis “verregaande nalatigheid” om die erns van die misdaadkrisis te ontken terwyl 52 Suid-Afrikaners daagliks vermoor word.

Dis “verregaande nalatigheid” om die wapenskandaal oor jare toe te smeer en te probeer keer dat Suid-Afrikaanse belastingbetalers uitvind hoe en waar hul belastingrande beland het.

Dis “verregaande nalatigheid” dat die land se president in die eerste jare van die enorme vigskrisis hom op sleeptou laat neem het deur allerhande warpraatjies rondom die oorsake van vigs. En later met ’n minister van gesondheid opgesaal het met haar knoffel- en suurlemoenpraatjies (Lees artikel hieronder).

Dis “verregaande nalatigheid” van die man wat gesalf is om die volgende president te word, om onbeskermde seks met ’n vrou te hê terwyl hy weet sy is MIV-positief. En dan vir beskerming te stort.

Dis “verregaande nalatigheid” van Suid-Afrikaanse politici om in stilte toe te kyk hoe ’n magsdronk diktator en sy bende politieke boewe ons buurland verwoes. En miljoene na Suid-Afrika vlug.

Ja, die minister van minerale en energie wat die mynbestuur daarvan beskuldig dat hulle nie toegewyd is aan die lewe van hul werkers nie, kan gerus haar eie regeringsvennote en ANC-beheerde owerhede tot op munisipale vlak, in net sulke sterk taal aanspreek oor die “verregaande nalatigheid” en gebrek aan instandhouding op vele terreine in die land. Wat tot groot ontbering en lewensverliese aanleiding gee.

En wat beslis nie spreek van toegewydheid daaraan om die lot van gewone Suid-Afrikaners te verbeter nie.

Dit geld van dinge soos die elektrisiteitsnetwerk, watersuiweringsaanlegte, watertoevoerpype, rioolaanlegte tot paaie en toerusting in hospitale en klinieke.

Onlangs is byvoorbeeld berig dat daar 43 kode-rooi-graderings vir watersuiwerheid by Vrystaatse stede en dorpe was.

Onlangs is 80 kinders in die Oos-Kaap dood waarin dinge soos onsuiwer water vermoedelik ook ’n rol gespeel het.

Die ouditeur-generaal het onlangs bevind dat die polisie nog nie gereed is om die grensbeskermingsfunksie oor te neem nie.

Die gevolglike verval van onder meer sulke noodsaaklike dienste is skrikwekkend.

Miljarde rande se infrastruktuur en toerusting word deur dinge soos ’n gebrek aan instandhouding bedreig.

Die traak-my-nie-agtigheid hieroor spreek nie van toegewydheid om dinge reg te ruk nie.

“Verregaande nalatigheid” is maar een rede hoekom byvoorbeeld tenderbedrog voorkom en derduisende gewone Suid-Afrikaners hul kans op dinge soos behoorlike huisvesting kwyt is.

Gebrek aan behoorlike toesig en beheer oor dinge soos regeringsfunksies het net sulke skadelike gevolge soos gebrekkige instandhouding van masjinerie.

In alle gevalle is dit gewone Suid-Afrikaners wat ly of selfs sterf.

Te veel regeringslui moet afklim van die soustrein en voor hul eie deur begin vee wat betref instandhouding en behoorlike dienslewering.

Te veel kardinale kabels op te veel sleutel-terreine en instellings het só al gebreek met droewige gevolge.

Gewone Suid-Afrikaners in van myne, fabrieke tot die verste plakkerskamp, se boodskap aan diegene in gesagsposisies bokant hulle is:

Behandel ons soos julle self behandel sal wil word.

Elke tenderbedrog, elke korrupte politikus of amptenaar breek kabels waarmee gewone Suid-Afrikaners na ’n beter lewe opgehef kon word.

’n Groot deel van wat verkeerd loop in die land, is – om die minister se woorde te gebruik – “iets wat vermy kon gewees het”.

Soos “verregaande nalatigheid” deur ook politici en ampsdraers op verskillende terreine.

Teken in op Volksblad


Vind
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer