Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 8-25°CVoorspellings |
|
Mbeki, Mabandla en Selebi – SA wag
Kan daar van ’n lojale ANC-kader en politikus alleen verwag word om ondersoek te doen en uitsluitsel te gee oor van die ernstigste beweringe van toesmeerdery in die land se geskiedenis – waarby die land se president, die minister van justisie en sy verleentheidwekkende polisiehoof betrokke is? Die feit dat die hoofrolspelers in hierdie beweerde toesmeer-sage op die hoogste vlak – pres. Thabo Mbeki en me. Brigitte Mabandla – nie self getuig nie, laat al klaar vraagtekens agter die ondersoek wat dr. Frene Ginwala moet doen. Hul onderskeie direkteurs-generaal en andere getuig, maar dis weens die erns van die saak nie genoeg nie. Dis in belang van elke Suid-Afrikaner in hierdie misdaadgeteisterde land dat die uiters ernstige beweringe rondom Mbeki en Mabandla se rol in die beweerde poging om Selebi te beskerm teen vervolging tot op die been oopgevlek moet word. Daar is al klaar vrae hieroor, weens onder meer die staat se regspan se weiering om ’n “geheime” sleutel-brief van Mbeki, openbaar te maak. Daarom behoort dié ondersoek eerder die werk van ’n onafhanklike regterlike kommissie te wees, as om dit aan Ginwala, ’n gewese ANC-speaker, oor te laat. As die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, adv. Vusi Pikoli, na bewering die trekpas gekry het, omdat hy beweringe oor die nasionale polisiehoof wou ondersoek teen die wense van Mbeki en Mabandla, watter kans het Suid-Afrikaners om die volle waarheid oor Mbeki en sy minister se rol te hoor, via die bevindinge van ’n mede-ANC-partygenoot? Van die opspraakwekkende beweringe wat reeds in die ondersoek gehoor is, is dat die minister van justisie opdrag aan die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag gegee het om nie die polisiehoof te vervolg of in hegtenis te neem nie. Dis nadat sy ’n “geheime” brief van Mbeki ontvang het. In berigte is tevore onthul dat Mabandla na bewering ’n brief aan Pikoli geskryf het waarin sy beveel: “Totdat ek tevrede is dit (die ondersoek na Selebi) is in die openbare belang, sal jy stop.” Die minister het verseg om op dié en ander vrae antwoorde te gee toe ’n verslaggewer van Volksblad haar op verskeie geleenthede om kommentaar probeer nader het. Dis in landsbelang dat dié minister in die lig van die misdaadkrisis in die land, waarin gemiddeld 52 mense per dag vermoor word, moet antwoord op vrae soos: Wanneer kan dit nie in die openbare belang wees dat ernstige beweringe oor die land se polisiehoof ondersoek word nie? ’n Polisiehoof wat eindelik ná vele omstredenheid en verleentheid vir die land, later vanjaar op aanklagte van korrupsie en regsverydeling tereg gaan staan. Die feit dat die minister nie self in die Ginwala-ondersoek gaan getuig nie en daarbuite weier om sulke kardinale vrae te beantwoord, laat by voorbaat vraagtekens oor haar presiese rol. Benewens die verleentheid wat Selebi vir Suid-Afrika veroorsaak het, deur byvoorbeeld sy vriendskap met ’n onderwêreldfiguur te verdedig – of ondanks Interpol-waarskuwings vol te hou hy weet nie van sy vriend se misdaadrekord nie – is die polisiediens in ’n treurige toestand. ’n Verslag wat onder leiding van die afgetrede adjunk-kommissaris, Morgan Chetty, opgestel is, skets ’n wanordelike, onrusbarende prentjie. Daar is geen nasionale strategiese plan om misdaad te bestry nie. Polisiekantore is nie bemagtig om taktiese planne te maak nie en het nie die hulpbronne om misdaad doeltreffend te bestry nie. Speurders behaal min sukses, omdat hulle oorlaai is met ondersoeke na kleiner misdade. Nasionale en provinsiale aksies teen misdaad word sporadies uitgevoer en is onvolhoubaar. Daar is ’n tekort aan leiding op alle vlakke. Ook ’n tekort aan mense, ervaring en vaardighede. Teen dié agtergrond is dit soveel te meer ’n saak van kritieke landsbelang dat almal wat na beweringe in die hele Selebi-web van ongerymdhede betrokke is, ontmasker word. Suid-Afrika wag op antwoorde.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|