Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Kry nuus op jou selfoon
Van vandag af kan Volksblad-lesers hul gunsteling-koerant se nuushooftrekke sommer op hul selfone kry.
Mense in ouer VSA-buurte is maerder, wys studie
Mense in Amerika wat in ou woonbuurte woon, is minder geneig om vet te word.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           2-20°C

Voorspellings

Mbeki/Selebi-era se prys vir Suid-Afrika
May 13 2008 12:18:20:007AM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Die prys wat Suid-Afrika betaal vir die boel leuens, wanvoorstellings en/of verdraaiings in die Mbeki-era, styg by die dag.

Van die kommerwekkendste onthullings in die bestaan van Suid-Afrika se jong demokrasie, peul uit rondom die beweerde pogings op die hoogste vlakke om te keer dat Suid-Afrika se verleentheidswekkende polisiehoof, komm. Jackie Selebi, vervolg word.

Hoewel dr. Frene Ginwala, gewese ANC-speaker, nog ’n verslag aan Mbeki moet opstel , lyk die skaal vir buitestanders ál swaarder gelaai teen Mbeki en andere.

Daar is ernstige beskuldigings teen Mbeki en sy minister van justisie, me. Brigitte Mabandla, sentrale figure in die drama rondom adv. Vusi Pikoli, voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, se ontslag. Mbeki en Mabandla getuig egter nie self nie.

Teenoor die Pikoli-span se gedetailleerde voorleggings ter stawing van sy bewering dat hy onregmatig ontslaan is omdat hy Selebi wou vervolg oor ernstige misdade, het die Mbeki-span nie dokumente ter stawing van sy saak voorgelê nie. Of was, in die geval van die Mbeki-brief, onwillig om dit te doen, totdat Ginwala, wat dit aanvanklik wou muilband, self omgeswaai het.

Die oordeel van Mondli Makhanya, redakteur van die Sunday Times, die naweek is tekenend van ’n groeiende teleurstelling en ontnugtering: “Ons president het oor en oor vir ons gelieg. Hy het sy amptenare gedwing om vir ons te lieg. Hy het goeie mense gedwing om slegte dinge te doen. Hy is sleg vir die wese van ons gemeenskap.

“Daar is ’n vierletterwoord in die Engelse taal wat iemand goed beskryf wat koudhartig, onopreg, manipulerend en wreed is. Die woord begin met ’n ‘e’,” skryf Makhanya in van die skerpste kritiek nog teen Mbeki.

Die opskrif van Makhanya se rubriek lui: Hierdie president het baie goeie mense slegte dinge laat doen. Die hoofartikel van Vrydag se Mail & Guardian met Ferial Haffajee as redaktrise, verwoord ook diepe kommer oor wat aan die gang is in die land.

Dit lui as ons kinders se kinders omdraai en vra wat van die land van Madiba geword het, as hulle vra waarom demokrasie in Suid-Afrika verdwaal het, sal na die afgelope week verwys kan word. “Dit was een waarin onweerlegbare getuienis te voorskyn gekom het van die aanslag teen sleutel- demokratiese instellings, wat spruit uit politieke dienstigheid.”

Dié koerant verwys na die woelinge rondom Jacob (Zuma) en Jackie (Selebi) in die verwering van waardes.

Met verwysing na verlede week se getuienis voor Ginwala, skryf die Mail & Guardian: “Die land het ontdek hoe swak en klein die man is wat in Madiba se skoene gestap het.

“Die land het agtergekom hoe hy vir sy land gelieg het en probeer het om Jackie te beskerm teen die volle mag van die wet. “En hulle het gesien hoe hy bereid was om ’n sondebok te maak van ’n eerlike geregsdienaar om homself en sy politieke bondgenoot te beskerm.”

Dié koerant, soos ook die Sunday Times, het in berigte lang uiteensettings gegee van leuens rondom Pikoli se ontslag.

Die opskrif van die Mail & Guardian vertel die verhaal in ’n neutedop: Pikoli ontbloot die staat se blatante leuens: Die Ginwala-kommissie ontbloot die verstommende poging om die polisiebaas te beskerm teen vervolging.

Die opskrif van die Sunday Times se berig lui: Leuens, leuens en nog meer leuens.

Van die grootste beweerde leuens wentel om Pikoli se voorlegging dat hy en die Skerpioenebaas, Leonard McCarthy, oor ’n tydperk van agttien maande 23 ontmoetings met of Mbeki of Mabandla gehad het. En skriftelike verslae en so meer gegee het waarin Selebi geïmpliseer is.

Mbeki het egter tot so laat as begin vanjaar volgehou hy weet nie van die ondersoek teen sy polisiehoof nie.

Kort ná die Polokwane-verkiesing het hy byvoorbeeld gesê: “Ek het dit tevore baie keer gesê. As daar enigiemand is met inligting wat wys dat die nasionale polisiekommissaris verkeerde dinge gedoen het, sal ek daarvolgens optree. Niemand het na my gekom nie.”

In Januarie vanjaar het Mbeki klaarblyklik weer vir Suid-Afrikaners gelieg toe hy gesê het hy het “tot ’n paar dae gelede” niks geweet van die saak teen Selebi nie.

Wat hierdie en ander beweringe dat daar probeer is om Selebi teen vervolging te beskerm, so ernstig maak, blyk uit Pikoli se voorlegging. “Feit van die saak is dat as die beweringe teen mnr. Selebi waar is, dan is hy in die hart van ‘georganiseerde misdaad’.

“Dis inderdaad moeilik om enigiets meer ondermynend in die stryd teen misdaad voor te stel, as ’n korrupte polisiehoof wat omkoopgeld ontvang en in die sakke is van georganiseerde misdaad.”

Vir Volksblad is ’n verdere brandende vraag in wie se sakke ons jong demokrasie is, met ’n president aan die spits wat al tevore Suid-Afrikaners mislei het rondom ernstige sake.

En wat nou rondom uiters ernstige beweringe rondom die land se polisiehoof, klaarblyklik blatant gelieg het.

Suid-Afrikaners durf nie ten opsigte van kardinale belangrike dinge in ons demokrasie langer in ’n leuen leef of toelaat dat vir hulle gelieg word nie oor dinge wat letterlik sake van lewe en dood is – soos misdaadbestryding.

Daardie soort “boosheid” – in al sy vertakkinge en manifestasies – waarna vreeslose meningsvormers soos Makhanya verwys, durf nie toegelaat word om verder deur die wese van ons nuwe demokrasie voort te kanker nie.

As Suid-Afrikaners langer gaan toelaat dat liggewig en onwaardige politici die groot skoene vul van eerbiedwaardige wegbereiders soos Madiba, gaan ons jong demokrasie dieselfde prys betaal as wat die stryd teen misdaad reeds in die Mbeki/Selebi-era moes betaal het.

Teken in op Volksblad


Vind
Werksgeleenthede
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer