Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 14-30°CVoorspellings > |
|
‘Catch 22’-situasie waarin Suid-Afrika is
Hoe lank kan Suid-Afrika nog pres. Thabo Mbeki bekostig? Dié vraag gaan vorentoe ál luider om ’n antwoord roep in die lig van die skade onder sy leierskap aan ’n land wat verlede week die veertiende herdenking van ’n Grondwet met mooi bepalings gevier het. In die rubriek hiernaas belig Raenette Taljaard elemente van die verweringsproses waarin ons jong demokrasie in die Mbeki-era gedompel is. Taljaard skryf tereg: Dis tragies omdat dit wil voorkom – en dit moet nog deur die Ginwala-kommissie getoets word – asof die band tussen Mbeki en die land se geskorste polisiehoof, Jackie Selebi, so sterk is dat Mbeki bereid was om kernaspekte van die Grondwet op te offer om Selebi teen vervolging te beskerm. Die eerste dae van die kommissie se bedrywighede en ander gebeure in die land dui, soos Taljaard redeneer, op ’n grondwetlike krisis. Volksblad het gister uit ’n ander hoek die verweringsproses belig aan die hand van ook gerespekteerde swart meningsvormers se ontnugtering. ’n Mondli Makhanya wat skryf: “Ons president het oor en oor vir ons gelieg . . .” ’n Ferial Haffajee se koerant Mail & Guardian wat skryf van “onweerlegbare getuienis . . . van die aanslag teen sleutel-demokratiese instellings”. “Die land het ontdek hoe swak en klein die man is wat in Madiba se skoene gestap het.” Teen dié agtergrond kom die ANC se besluit om nie te swig voor SAKP-druk en nie vóór aanstaande jaar se verkiesing van Mbeki ontslae te raak nie. Die besluit was voorspelbaar aangesien die ANC nie gesien kan word om oor so iets aan die neus gelei te word deur ’n mindere alliansievennoot nie. Die besluit om nie nou van Mbeki ontslae te raak nie, laat egter nie die onderliggende probleme rondom sy teleurstellende en verwerende presidentskap verdwyn nie. Allermins. In die praktyk, soos die verkiesingsuitslag in Polokwane wys, het Mbeki reeds selfs die vertroue van sy eie party verloor. Die dilemma vir die ANC – en vir Suid-Afrika – is verder dat die man wat die ANC gesalf het om Mbeki as president op te volg, Jacob Zuma, nog eers in die loop van vanjaar tereg moet staan op aanklagte van korrupsie wat spruit uit die wapenskandaal. Asof dit nie erg genoeg is nie dat ’n hofsaak in dié stadium van die Mbeki-era moet bepaal of Suid-Afrika ’n boef as polisiehoof het en ’n kommissie moet bepaal of hy op die hoogste vlak beskerm is teen vervolging, word Suid-Afrikaners ook getrakteer op dié jammerlike skouspel: ’n Aspirant-president wat alles doen om te voorkom dat sekere bewysstukke in ’n hof beland. Dié afloop van onder meer dié onsmaaklike sages gaan ’n groot toets vir die handhawing van ’n regstaat wees. Sover dit die verdere formele ontslae raak van Mbeki betref, asook die kroning van sy opvolger, Zuma, het die ANC homself en die land in ’n onverkwiklike “catch 22-”situasie laat beland. Hoe langer Mbeki in beheer van sake is, hoe groter selfs grondwetlike skade. Maar daar kan ook nie te gou van Mbeki ontslae geraak word nie, want dan sit Suid-Afrika met ’n situasie dat die land se nuwe president dalk op ernstige aanklagte in die beskuldigdebank kan staan. Of ’n mens saamstem dat so gou moontlik van Mbeki ontslae geraak moet word of nie: Die harde werklikheid, wat soms sukkel om tot Mbeki en sy kleiner wordende binnekring deur te dring, is dat sy ampstermyn inderdaad baie bied om oor ontevrede te wees en wat rooi ligte laat flikker. Die voorbeelde is talryk. Sy toesmeerdery rondom dinge soos die wapenskandaal het hom die beskuldiging selfs uit ANC-geledere op die hals gehaal dat hy só die kiem van korrupsie in sy eie party geplant het – ’n party wat deesdae op alle vlakke van korrupsie deurtrek is. Ginwala – en desnoods ook ’n onafhanklike regterlike kommissie – sal moet beslis oor ernstige aantygings rondom Selebi wat die wese van ons regstaat raak. Sy swak hantering van MIV/vigs en Zimbabwe, sy versuim om op te tree teen vertrouelinge wat nie hul werk doen nie, sy fikserings op ras, sy ooglopend hardhandige hantering van enigeen wat hom teengaan, sy weersin in kritiek, asook sy voorliefde vir die sentralisering van mag, sal onthou word as duidelike swak punte in sy ampstermyn. Dit is ook waar dat dié swak punte, gekoppel aan die wyse waarop hy voeling verloor het met die voetsoolvlak in sy party, gesorg het vir baie van die onmin wat tans in die regerende party vaardig is. Ons Grondwet stel baie duidelike voorwaardes vir die verwydering van ’n president. Al het Mbeki op kardinale terreine ’n swak invloed, mag die blote slyp van bepaalde faksies se eie eng politieke byltjies nêrens die deurslag gee nie. Die belangrikste is dat die fondamente van ons demokrasie beskerm word. Ons kosbare demokrasie roep om leierskap wat die skoene van Nelson Mandela kan vul. Dis nie vir klein en morele liggewigte nie.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||||||
|
|