Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Kry nuus op jou selfoon
Van vandag af kan Volksblad-lesers hul gunsteling-koerant se nuushooftrekke sommer op hul selfone kry.
Mense in ouer VSA-buurte is maerder, wys studie
Mense in Amerika wat in ou woonbuurte woon, is minder geneig om vet te word.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           2-20°C

Voorspellings

Só stol Suid-Afrikaners se vertroue in land
May 16 2008 12:28:15:030AM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Die aankondiging oor die nuwe spesialis-eenheid van die polisie waarin die Skerpioene onder meer opgeneem gaan word, is ’n skrale troos vir misdaadvoos Suid-Afrikaners.

Daar is kort-kort onthullings oor bedrog met reuse-bedrae. Swart, bruin en wit Suid-Afrikaners staan elke dag by gemiddeld 52 oop grafte van mense wat deur misdadigers vermoor is. Elke hoeveel minute word nog ’n weerlose vrou verkrag – van babas tot oumas.

Deur die land moet in smart gedompelde naasbestaandes in swart, bruin en wit gemeenskappe langs daardie grafte onnodig en voortydig afskeid neem van dierbares.

Vandag is een só ’n begrafnis op die plaas Stölberg in die Ficksburg-distrik waar mnr. Jacques Moll, die hoeveelste slagoffer van plaasaanvallers, ter ruste gelê word.

Dís simbolies van die stol van Suid-Afrikaners se vertroue in die regering in die Mbeki-era.

Terwyl Suid-Afrikaners oor die land heen só uitgelewer is aan misdadigers, moet die regering nie te veel dankbaarheid van gewone landsburgers verwag dat daar darem as troos ná die skandalige afskaffing van die Skerpioene, nou darem – soos gesê word – ’n spesialis-eenheid teen georganiseerde misdaad gaan wees nie.

En dat die oorblywende Skerpioene se kundigheid, soos beloof, gevoeg gaan word by spesialis-eenhede van die polisie nie.

Die harde waarheid is: Solank Suid-Afrika opgesaal sit met ’n verleentheidswekkende polisiehoof soos komm. Jackie Selebi, sal enige eenheid waar ook al in die polisie, moeilik die skrik van misdadigers kan wees.

Wat ook al die uitslag van die hofsaak wat moet bepaal of Selebi self ’n boef is. Om nie eers te praat nie van die kommissie wat moes hoor dat op die hoogste vlak probeer is om Selebi te beskerm teen vervolging:

Die toestand van die polisiediens onder Selebi se leiding is opsigself doodeenvoudig te treurig om hom langer in dié vertrouensposisie te duld.

Volksblad het onlangs in dié ruimte gewys op die onrusbarende toedrag van sake in die polisie, aan die hand van ’n verslag onder leiding van die afgetrede adjunk-kommissaris, Morgan Chetty.

Teen dié agtergrond is Volksblad ook skepties oor beloftes soos om genoeg geld te begroot sodat die nuwe eenheid in die Skerpioene sy werk goed sal kan doen.

Daar kan nie vergeet word dat die Skerpioene die slagoffer van ’n fatale knyptang geword het nie. Hulle is die slagoffer van hul eie sukses en van die politieke onaantasbaarheid van sommige van die booswigte wat hulle wou vastrek.

Die skuld vir die doodmaak van die land se beste misdaadbestrydingsmiddel lê viervoet voor die magshebbers van die ANC.

Die ANC kan raas en blaas soveel hy wil in sy verontskuldigings. Hierdie ding gaan hom eweseer inhaal as wat die wapentransaksie en ’n groeiende aantal stommiteite hom reeds ingehaal het. Hoe sê die ou spreekwoord: Spyt kom altyd te laat.

Die vraag is net hoeveel skade moet nog aan die beeld van ons nuwe demokrasie en die wese van ’n regstaat gedoen word?

Die regering se breedsprakigheid oor die nuwe eenheid, genaamd die Direktoraat vir Voorkeurmisdaadondersoek (DVMO), sal sommige miskien oortuig, maar voorwaar nie vir ons by Volksblad nie.

Dit is maar die jongste voorbeeld waar partybelang bo landsbelang gestel word. Daardie lysie word ál langer. Die wiel draai altyd. Die oordeel van die geskiedenis gaan fel wees.

Die ANC mag, in die woorde van sy leier, mnr. Jacob Zuma, meen hy is onaantasbaar en sal vir ewig regeer.

Die Nasionale Party het ook in ’n stadium van ons geskiedenis so gedink. En kyk waar is hy nou . . .

Daardie selfde redes wat maak dat misdaadvoos Suid-Afrikaners nie pres. Thabo Mbeki se oordeel oor Selebi vertrou nie – soos hy gevra het – maak dat daar groeiende skeptisisme is rondom veel meer as die nuwe misdaadeenheid en beloftes daaromheen.

Ons jong demokrasie is aan die stol en roep om beter leierskap op vele terreine.

Teken in op Volksblad


Vind
Werksgeleenthede
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer