Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 15-30°CVoorspellings |
|
Snert rondom krisis in Zim raak belaglik
Die leuens en wanvoorstellings van die Mbeki-napraters in die regering rondom ook die krisis in Zimbabwe raak belaglik. En herinner aan Mbeki se eie warpraatjies en snert rondom ander krisisse in Suid-Afrika, soos dié rondom misdaad en vigs. Mnr. Aziz Pahad, adjunk-minister van buitelandse sake, hou vol dat Mbeki se bemiddeling in Zimbabwe ’n sukses was. En mnr. Themba Maseko, kabinetswoordvoerder, wou, ondanks wat in Zimbabwe aangaan, dit steeds nie as ’n krisis bestempel nie. Dié belaglike leuen – in navolging van Mbeki self, wat ook vroeër ontken het dat daar ’n krisis in Zimbabwe is – kom terwyl die ANC self in ’n verklaring sy “diepe kommer” uitgespreek het oor die “politieke krisis” in Zimbabwe. En verklaar het “die ANC kan nie neutraal staan teenoor die flagrante skending van elke beginsel van demokratiese regering nie”. Die uitlatinge van Pahad en Maseko kom ná byvoorbeeld ’n eenparige besluit in die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies om formeel op te tree teen die regime van Mugabe in ’n poging om demokrasie in die geteisterde land te herstel. En nadat die opposisieleier, mnr. Morgan Tsvangirai, in ’n stadium in ’n ambassade skuiling moes gaan soek het, en terwyl Mugabe se moordbendes te midde van moord en teistering demokrasie ten aansien van die wêreld verkrag. Geen Suid-Afrikaanse spindokters gaan die omvang kan verdoesel van Mbeki se yslike flater en gebrek aan sterk leierskap nie met sy jare lange stille diplomasie en ophemeling van Mugabe as ’n meester van die reg. Die vraag ontstaan: As die ANC dan nou eindelik bewus is daarvan dat daar in Zimbabwe “flagrante skending van elke beginsel van demokratiese regering” is, waarom het Mbeki en kie. dan nie lankal blyke gegee dat hulle dit besef nie? En in geen onsekere taal aan Mugabe gesê het om sy politieke boewery te staak en die spelreëls van ’n demokrasie te respekteer nie? Tipies van Mbeki se ook figuurlike gehandjiesvashouery met Mugabe, het Suid-Afrika egter nog tot onlangs help keer dat die Zimbabwe-krisis in die Veiligheidsraad bespreek word. Toe die wit regime swart mense se regte in die apartheidsera in Suid-Afrika misken het, het die ANC nie geskroom om vir internasionale sanksies te vra om druk uit te oefen vir ’n demokrasie hier nie. Noudat ’n swart diktator miljoene swart Zimbabwiërs dwing om uit hul vaderland te vlug terwyl demokrasie verkrag word, weier Mbeki om vir dinge soos sanksies te vra om druk op die politieke boewery noord van die Limpopo uit te oefen. Die waarheid is: Die geskiedenis gaan Mbeki, soos oor vigs en misdaad, ook oor die Zimbabwe-mislukking hard oordeel.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||||||
|
|