Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 16-27°CVoorspellings |
|
Misdaad-maalstroom:
Waarheen SA?
Die mate waarin Suid-Afrika ingesuig is in ’n skandelike maalstroom van misdadigheid blyk uit die jongste misdaadstatistieke wat deur die polisie uitgereik is. Wat dit nog erger maak, is dat groot vraagtekens oor die betroubaarheid van daardie statistieke hang waar op sommige terreine – aldus die polisie – verbeterings was. Hoe kan dit anders met ’n onbekwame, verleentheidswekkende nasionale polisiehoof, komm. Jackie Selebi, wat self op ernstige aanklagte in die hof moet verskyn. Wie se dienskontrak desondanks pas deur pres. Thabo Mbeki vir ’n verdere jaar verleng is. Dít te midde van bewerings dat Mbeki en hoës soos die minister van justisie onder diegene is wat Selebi teen vervolging probeer beskerm het. Wat onlangs díe vlymende oordeel van Mondli Makhanya, redakteur van die Sunday Times, tot gevolg gehad het: “Ons president het oor en oor vir ons gelieg. Hy het sy amptenare gedwing om vir ons te lieg. Hy het goeie mense gedwing om slegte dinge te doen. Hy is sleg vir die wese van ons gemeenskap.” Hoe kan misdaadsyfers van ’n polisiemag met Selebi aan die hoof in dié omstandighede vertrou word? Selebi, wat ondanks drie of vier verslae van Interpol wat waarsku teen ’n onderwêreldfiguur, Glenn Agliotti, se misdaadverbintenis, steeds sy vriendskap met hom bly verdedig het. Selebi wat desondanks bly sê hy weet niks van sy gemerkte “vriend” se skadukant nie? Selebi, wat om Interpol verleentheid te spaar, as hoof van dié internasionale polisiewaghond moes bedank het. Benewens die Selebi-Mbeki-faktor, wat noodwendig vraagtekens werp oor betroubaarheid van ook dinge soos misdaadstatistieke, is die volgende ook ’n onweerlegbare feit: Derduisende getraumatiseerde en misdaadvoos Suid-Afrikaners meld uit moedeloosheid nie eens meer misdaad aan nie. Dit help min as mnr. Charles Nqakula, minister van veiligheid en sekuriteit van gee-pad-as-julle-kla-faam, teen dié agtergrond en verwysende na die groot aantal polisielede wat die afgelope tyd in hegtenis geneem is, vroom verklaar: “Ons kan nie werk met polisielede wat by misdaad betrokke is nie.” Aldus ’n VN-verslag is Suid-Afrika een van die wêreld se vyf mees moorddadige lande en die land met die vierde meeste rooftogte. Interpol beweer elke 17 sekondes word ’n vrou hier verkrag. VN-lede is gewaarsku om nie snags op Suid-Afrika se grootste lughawe, O.R. Tambo, aan te kom nie. Om nie daar geld om te ruil nie. Om sover moontlik dit te vermy om enige persoonlike besonderhede te gee. “Gewelddadige misdaad op straat met vuurwapens raak alle VN-personeel primêr,” word gewaarsku. ’n Internasionale internet-posbestellingsdiens het onlangs mense gewaarsku om nie die Suid-Afrikaanse posdiens te gebruik nie weens die omvang van diefstalle in poskantore. Só kan aangegaan word. Teen dié agtergrond moet syfers soos dat moorde met 4,7 persent gedaal het, maar nog beteken dat gemiddeld 50 Suid-Afrikaners per dag vermoor word, beoordeel word! Die skokkende omvang van misdaad blyk uit dinge soos dat 40 huisgesinne per dag die afgelope boekjaar in hul huise deur gewapende rowers aangeval is. Huisrooftogte het met 13,5 persent gestyg en motorkapings met 4,4 persent. In Amerika is Suid-Afrika onlangs as ’n rampokker-demokrasie bestempel. Daar is pas erken Fifa het ’n plan B indien die Wêreldbeker-sokkertoernooi nie in 2010 in Suid-Afrika aangebied kan word nie weens kommer oor infrastruktuur en veiligheid. Dís nie die tyd om mense soos Selebi se kontrak met nog ’n jaar te verleng nie. Of om hoog te wil opgee oor vordering in die stryd teen misdaad nie.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|