Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Kry nuus op jou selfoon
Volksblad-lesers kan nou hul gunsteling-koerant se nuushooftrekke sommer op hul selfone kry.
'Karien' groet 7de Laan
Die Laan se gunsteling-blondekop groet. Christi Panagio (Karien Momberg) sal Maandag die laaste keer in die gewilde SABC2-sepie 7de Laan te sien wees.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           4-27°C

Voorspellings

Die MRK se gepiep ’n skande vir SA
Jul 23 2008 11:29:12:897PM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Die gemors waarin die ANC Suid-Afrika in die era van Thabo Mbeki en Jacob Zuma gedompel het, blyk onder meer daaruit dat ook die Menseregtekommissie (MRK) nou afgetakel staan as nog ’n tandelose instansie.

In plaas om minstens aan te hou blaf teen gevaarlike praktyke soos doodmaakpraatjies vir ’n politikus wie se ambisies veel swaarder is as wat sy voete van klei kan dra, piep die MRK soos ’n muis.

Soos ander instellings wat aldus ons Grondwet mooi en verhewe funksies het en wie se tande getrek is toe dit byvoorbeeld deel geraak het van die Groot Toesmeerdery – beginnende met die wapenskandaal – is die MRK nou ook erg verweer.

Terwyl Suid-Afrika die onsmaaklike en onwaardige skouspel het waar in wese gedreig word om mense dood te maak indien Jacob Zuma in ’n hof verantwoording moet doen vir beweerde misdade en dit hom sou verhoed om Mbeki as president op te volg, het die MRK aanvanklik sy rug probeer styfmaak teen opswepery om dood te maak vir Zuma.

Stomgeslane Suid-Afrikaners is getrakteer op ’n belaglike gespeel met woorde deur eers die ANC-Jeugliga-kapokhaantjie Julius Malema. En daarna Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van Cosatu.

Belaglike jakkalsdraaie is gegooi om aanvaarbaarheid te probeer verleen aan hul doodmaakpraatjies vir Zuma.

Die MRK het tereg aanvanklik met sterk optrede gedreig.

En toe soos ’n flou makou of tandelose waghondjie, stert tussen die bene, gaan lê toe Malema asook Vavi in wese volhard het met die gevaarlike Zuma-speletjies waarmee hulle besig is.

Wat dit soveel erger maak, is dat die skandelike ineenstorting van die MRK kom terwyl Suid-Afrikaners die aaklige gevolge van vreemdelingehaat sien.

Baie water moet nog in die see loop voordat Suid-Afrikaners gaan weet of die ANC-leier, Zuma, Uniegebou of tronk toe gaan.

Dié keuse dui op die jammerlike agteruitgang van die ANC. En die reuse-skade aan die wese van ons jong demokrasie en sy instellings.

Oudpres. Nelson Mandela het pas tereg ten aansien van ’n bewonderende wêreld sy negentigste verjaardag gevier.

Dis byna ondenkbaar dat Suid-Afrika deur hierdie onwaardighede gesleep word om sy opvolger se opvolger te bepaal – ná net veertien jaar van demokrasie.

Teken in op Volksblad


Vind
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer