Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Afgaanse konflik eis Australiër
'n Oud-Suid-Afrikaner is die naweek as 'n Australiese spesmagte-soldaat in Afganistan dood.
Omstrede beslissing knou Kallis
Jacques Kallis moet sweerlik wonder wat die krieketgode dan nou eintlik teen hom het.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           14-30°C

Voorspellings

>

Tyd ryp vir herskikking in die politiek
Oct 06 2008 01:24:24:520AM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Die tyd is ryp vir ’n breë herskikking in die Suid-Afrikaanse politiek.

Die struwelings in die ANC beklemtoon die noodsaak van ’n herskikking in die ANC-alliansie én opposisiepartye aan die hand van kernideale soos ’n demokratiese, nie-rassige Suid-Afrika met ’n stewige ekonomie.

Dis nie in die hoogste belang van ons jong demokratiese regstaat dat die ANC in sy huidige vorm ’n reuse-meerderheid van meer as twee derdes het nie – en daarvolgens arrogant maak, breek en dikteer. Terwyl dié party slegs lippediens doen aan mooiklinkende kern-ideale wat hy vir homself toeëien.

Mnr. Mosiuoa Lekota, gewese voorsitter van die ANC, het in die jongste teken van groeiende ontnugtering met die ANC, ’n striemende aanval op dié party gedoen en uitgewys hoe die eertydse bevrydingsbeweging die pad byster geraak het.

Dit het só ’n omvang aangeneem dat die morele vader van die nasie, dr. Desmond Tutu, dreig om nie in die komende verkiesing te gaan stem nie. Tutu het in ’n onderhoud met die Sunday Times ook gevra vir ’n sterk opposisie “want Suid-Afrika is effektiewelik ’n ‘eenparty-staat’ ”.

Lekota het op hoë vlak en vanuit die hart van die ANC, kommer verwoord wat ook wyd daarbuite strek. Gister het Mondli Makhanya, redakteur van die Sunday Times, geskryf die ANC “soos ons dit geken het”, het reeds in Polokwane einde verlede jaar ophou bestaan. Daar is twee ANC’s gebore.

Die omvang van dié breuk in ANC-geledere en die onderlinge wantroue raak ál duideliker.

Dis ook duidelik dat die arrogansie van die ANC om Zuma as opvolger vir Mbeki te salf selfs terwyl die swaard van ernstige hofsake bokant sy kop hang en die afdreigery van doodmaak en geweld dat niks in Zuma se pad gaan staan nie, die party selfs in eie geledere ingehaal het. Daarmee saam die jare lange toesmeerdery van die wapenskandaal en endemiese korrupsie.

Tutu sê reguit Zuma moet die presidentsamp weier solank ’n ondersoek na die wapenskandaal oor sy kop hang.

En Lekota sny só na die hart van die pruttende kookpot binne die ANC: Seksie- en individuele belange anders as dié wat spruit uit die mense van Suid-Afrika se belange soos verwoord in die Vryheidsmanifes, word tot vlakke van nasionale voorkeur verhef. “Gevolglik word van ons verwag om by strafregtelike hofsake op te daag of individue skouerhoog te dra wat skuldig bevind is aan misdade wat nie verband hou met die eise van die Vryheidsmanifes nie.

“In plaas van om respek te kweek vir instellings van demokrasie uiter ons leiers dreigemente dat indien geregtelike prosedures nie verloop soos hulle verkies nie, die land tot stilstand gebring sal word.”

Lekota wys ook daarop dat die lys van vergrype en arrogansie by die dag groei.

Aldus gister se Sunday Independent, het Lekota ook kommer uitgespreek dat die ANC oorgeneem is deur sy alliansievennote, die SAKP en Cosatu. Hy het onder andere die sekretaris-generaal van die ANC, mnr. Gewede Mantashe, gewaarsku om nie sy rol as voorsitter van die SAKP met die van sy pos binne die ANC te verwar nie. “Die ANC is nié die SAKP nie . . .”

Volksblad het jare terug gewys op die noodsaak van ’n herskikking in ANC- en opposisiegeledere aan die hand van kern-ideale.

Die jongste gebeure en die ANC se struwelinge en verval op sekere gebiede, wys dat die politieke toneel ná 14 jaar van demokrasie ryp is vir ’n suiwerder politieke herskikking.

Só sal die SAKP en geesgenote wat tans veilig in die ANC-pels skuil en sorg vir ou uitgediende Stalinistiese roggelings via ANC-buikspraak, onder hul eie vaandel moet vaar. Politieke kontoere van die land sal die huidige werklikhede suiwerder moet begin weerspieël. Politiek kan nie langer vasgevang bly langs foutlyne en stereotipes wat uit die dekades lange stryd teen apartheid dateer nie.

Teken in op Volksblad


Vind
Reis en Verblyf
Direct Axis Lenings
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer