Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 14-30°CVoorspellings > |
|
Malema én Mbeki wys hoe slurp ANC SA af
Die omvang van die plundering van Suid-Afrikaners se “toekomskapitaal” – die kans op ’n beter môre vir almal – onder die korrupsie deurtrekte, arrogante ANC-bewind wat staatsmag misbruik vir selfverryking is pas weer ontmasker. Die ander woord vir dié skandalige, parasitiese plundering van bates op nasionale, provinsiale en munisipale vlak, deur te veel “fat cat-”politici en hul meelopers, is soustreinryery: van in die parlement tot munisipaliteite; die verryking van jouself ten koste van miljoene gewone Suid-Afrikaners se kans op ’n beter toekoms. Die geknoei in van disfunksionele staatsdepartemente tot munisipaliteite ploeter jare voort, terwyl onbevoegde ampsdraers in hul posisies geduld word of na ander magsposisies “herontplooi” word – beskerm deur hul politieke konneksies – om verder te plunder. “Gekwalifiseerde ouditverslae” wat wemel, is maar een aanduiding van misbruike van mag wat in Suid-Afrika voortkanker. Die gevolg van dié plundering is miljarde rande van belastingbetalers se geld wat aangewend kon word vir huise, skole, klinieke, hospitale, dienslewering op verskillende vlakke, verryk onregmatig sekere “fat cats” nog verder ten koste van Suid-Afrika. In die ANC-idioom van “honde”, “slange” en “stinkende perde” om wegbrekers te beskryf: Niemand minder nie as die politieke kapokhaan Julius Malema van die ANC-Jeugliga het die aandag opnuut gevestig op dié gulsige geslurpery by staats-, provinsiale en munisipale trôe – ten koste van dienslewering aan ons land en sy mense. Die einste Malema het die sieklike afdreigery om dood te maak as Jacob Zuma nie president word nie begin – ’n amp waarvoor Zuma nie bevoeg is nie. Punt. Malema het in die teenwoordigheid van sy stilswyende meester nou ook die premier van die Noord-Kaap, me. Dipuo Peters, arrogant verneder deur te sê as sy wil gaan (by die wegbrekers aansluit), is sy welkom om die ANC te verlaat. Malema het gesê: “Die stadsraadslede wat weg is, moet weet die dag toe hulle weg is, het hulle armoede by hul huise ingenooi.” Inderdaad: Vir te veel ANC-ampsdraers (maar ook andere) gaan dit om selfverryking en nie om dienslewering nie. Vir te veel ampsdraers op alle vlakke gaan dit net om eie bankbalanse – met kontrakte vir mense wat nie behoorlike dienste kan lewer nie, toekenning van tenders van miljarde rande, terwyl miljoene daarvan in vreemde sakke beland het (soos met die wapenskandaal) en so meer. En Suid-Afrikaners moet dié toesmeerdery net sluk. Niemand minder nie as die afgedankte oud-pres. Thabo Mbeki het in sy onlangse brief om homself te probeer verontskuldig die kombers oor dié parasitiese knoeiery en magsmisbruike in sy eie party afgetrek. Mbeki het geskryf die ANC word gekonfronteer met onder meer die volgende take: “om die gebruik van geweld in die ANC en die res van die demokratiese beweging – wat daarop gemik is om sekere leierskapklieks af te dwing wat belang stel om regeringstenders vir hulself en hul vriende te wen – te verslaan. “Die verslaning van burokratiese parasitiese neigings wat lei tot die misbruik van staatsmag vir selfverryking.” Niemand kan dié sieklike neigings beter in ’n neutedop saamvat as Mbeki, die vorige president van ook die ANC, onder wie se leiding dié jammerlike aftakeling aangehelp is. Nou moet Suid-Afrikaners boonop die spektakel verduur van ’n dreigery om dood te maak om te verseker Zuma word tot elke prys die volgende president van Suid-Afrika. Al hang die swaard van ernstige beskuldigings oor sy kop. Terwyl desperaat gespartel word om hom uit die hof te probeer hou. In ’n hoofartikel in die Sunday Times (hieronder) word gewys hoe waarnemende president Kgalema Motlanthe ook tekens van swak leierskap wys. Die jongste verwikkeling in die politiek om die ANC tot sy sinne te roep is welkom. As daar nie ’n herskikking in die politiek kom waarin ’n sterk opposisiegroepering ’n groot rol speel nie, kan die ANC-verval die grafskrif van Suid-Afrika word.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||||||
|
|