Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 14-30°CVoorspellings > |
|
Flitsende blou ligte wyl ANC voortjaag in SA
Die afskaffing van die Skerpioene is een van die groot skandvlekke op die naam van die ANC – ’n party wat al hoe meer die aftakelende gevolge van arrogansie en korrupsie vertoon. Berigte oor regeringslede wat met flitsende blou ligte in hul BBP-konvooie op paaie jaag en ander motoriste uit die pad dwing, is simptomaties van die gebrek aan respek vir die reg en minagting van reëls wat gewone Suid-Afrikaners geld. In KwaZulu-Natal het ’n BBP-polisielid wie se verskoning was dat hy laat vir ’n afspraak met ’n LUR was, selfs aldus ’n berig die naweek, op ’n onskuldige motoris geskiet en ’n groot ongeluk veroorsaak. Rondom die afskaffing van die Skerpioene, is ’n veel gevaarliker miskenning en arrogansie aan die orde in hoë ANC-kringe. Daar is geen manier waarop die afskaffing van ’n land se suksesvolste instrument in misdaadbestryding geregverdig kan word as dit boonop saamval met ’n misdaadkrisis soos dié wat Suid-Afrika beleef nie. En dit terwyl die ANC onlangs by monde van adjunk-minister Johnny de Lange self erken het hoeveel leemtes daar in misdaadbestryding in Suid-Afrika is. Onder meer weens verkeerde beleidsbesluite en toepassings. Die redes wat nou deur hoofman M.L. Mokoena (ANC, Mpumalanga) gegee is in ’n poging om dié Skerpioene se afskaffing te vergoelik, wys maar net weer hoe ver die ANC se motgevrete onderrok rondom die Skerpioene aan die uithang is. Mokoena sê die Skerpioene was speler én skeidsregter (omdat ondersoekspanne en aanklaers saamgewerk het). Dis wêreldwyd dan juis die suksesresep van sulke eenhede wat ingewikkelde korrupsiesake moet kan takel. En wat gelei het tot die stigting van die Skerpioene om die misdaadgolf in die land te probeer stuit. Die kardinale punt wat Mokoena verswyg, is dat die skuld of onskuld van aangeklaagdes in ’n hof bepaal word, nie deur die Skerpioene nie. Hulle doen net die ondersoekwerk op ’n professionele manier. Iets wat hulle duidelik te goed en te hoog op na die ANC se sin gedoen het. Dan kla Mokoena ook dat die Skerpioene die kollig gesoek het eerder as om sake te takel. Dis juis omdat die Skerpioene ook te veel ANC-hoës in hul knypers beetgekry het, wat die kollig gevestig het op die omvang van korrupsie in ANC-geledere. En wat nou tot die afskaffing van die eenheid gelei het. Geen drogredenasies van die ANC kan iets verander aan die werklikheid dat die Skerpioene vir te veel ANC-hoës ’n pyn en verleentheid geword het nie. Dat die party se oplossing uit die verleentheid is om die eenheid af te skaf. In die nuwe eenheid sal onder andere die polisiehoof en “Skerpioenslagoffer”, dus die verleentheidswekkende, geskorste komm. Jackie Selebi (of sy opvolger), bepaal wie, waar en wat ondersoek word. Wat ’n siek grap. Van die Skerpioene se ander “slagoffers” is: LP’s betrokke in die reisskandaal. Die vorige ANC-hoofsweep Tony Yengeni wat die parlement bedrieg het en ’n helde-afskeid by die tronkdeure van ANC-hoës gekry het – en net ’n fraksie van sy vonnis agter tralies uitgedien het. Tot by die huidige ANC-leier en aangewese volgende president van Suid-Afrika, Jacob Zuma. Wat desperaat spartel om nie sý afspraak in die hof na te kom nie. Pleks dat die ANC met woord én daad help om ’n voorbeeld teen korrupsie en behoorlike wetstoepassing te stel, word die Skerpioene afgeskaf! Oudpres. Thabo Mbeki het tereg gewaarsku teen die neiging in die ANC om “sekere leierskapsklieks af te dwing wat belang stel om regeringstenders vir hulself en hul vriende te wen”. En dan boonop geweld in die proses te gebruik. Suid-Afrikaners moet in hul eie belang uitpluis hoeveel vorme dit onder die ANC-bewind aangeneem het. En hoe nodig – soos Mbeki dit gestel het – “die verslaning van burokratiese parasitiese neigings wat lei tot die misbruik van staatsmag vir selfverryking”, in die ANC-regering is. Die bullebak-houding van politici en hul beskermers op landspaaie, asook om ’n doeltreffende instrument in die bestryding van misdaad uit die pad te vee, is ander vorme van geweld as Julius Malema se doodmaak-vir-Zuma-dreigemente. Dis egter ook baie skadelik vir ons jong demokrasie. Die Kamphepe-kommissie wat deur Mbeki aangestel is, het tereg bevind dat die Skerpioene, behou moet word. En dat leemtes wat daar bestaan op ander maniere reggestel kan word. Die ANC-leiers sal ook aan volgende geslagte Suid-Afrikaners moet probeer verduidelik hoekom daardie leemtes nie só reggestel is nie. Wat orals waar in hul eie geledere verkeerd geloop het, dat hulle só met die welsyn en veiligheid van misdaadvoos Suid-Afrikaners werk. Waarom die huidige misdaadgolf dus ook die probleem van volgende geslagte gemaak word. Waarom mooi strewes in ons Grondwet ondergrawe word.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||||||
|
|