Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 8-25°CVoorspellings |
|
Maak reg vir die heerlike lente
ALMAL vier vandag Lentedag, maar dit is nog nie heeltemal lente nie en ons kan dalk nog 'n koue frontjie of wat te wagte wees. Volksblad-lesers moet 'n wonderlike Lentedag geniet. In die tuin is daar al 'n hele paar plante wat hul lentegesiggies wys. Met afwagting loop ons elke dag deur die tuin en inspekteer watter doodgerypte plante tekens van nuwe uitloop toon. Plante ontwaak een-een. Die eerste plaag kan dalk ook sy verskyning maak. Plantluise is nou uitgehonger en pak op die nuwe sagte uitloopsels van veral rose saam. Spuit sommer met seepwater of met 'n sterk straal water of vryf hulle met die vingers af. Sodra die blare begin verhard, wyk die luise in elk geval. Strooi nou oral in die tuin sommer 'n lekker dik laag kompos om die plante 'n hupstoot te gee en deklae kan ook bo-oor gestrooi word. As jy op 'n plaas bly en ou mis tot jou beskikking het, kan die mis ook dik bo-op die grond gestrooi word. Gebruik slegs ou mis, want vars mis het te veel soute in. Die temperature styg en die dae word langer en alles wil begin groei. Dit is nou tyd om oral kos te gee. Daar is te kus en te keur as dit by voedingstowwe kom en 'n mens kan kies tussen chemies of organies. Lees op die mengsel wat die verhouding van die drie hoofelemente is en onthou dat kalium by uitstek vir blommende plante aanbeveel word en stikstof blaargroei bevorder. Die middelste element in die mengsel is fosfate. Dit bevorder robuuste wortelgroei. Beenmeel is organies en alle plante baat vind by 'n goeie handvol. Onthou ook, dit is veral die voedingstof wat onder in plantgate saam met kompos gebruik word. 'n Mens hoor dikwels bangmaakstories soos onder meer hoe vreeslik superfosfate in die grond opbou en dat 'n mens dit tot elke prys moet vermy. Dit het die gevolg dat hierdie waardevolle element hopeloos te min in ons tuine toegedien word Die meeste grond in ons land het 'n fosfaattekort en dit is nodig om dit gereeld, dog bietjie-bietjie, toe te dien. As 'n plant in jou tuin nie wil blom nie, is dit dikwels weens 'n tekort aan fosfate. Gebruik dus superfosfate of beenmeel gereeld. Ná baie wind in Augustus is daar ook stof op plante en sal 'n toediening vloeibare bemestingstof net goed doen. Alle lenteblomplante moet ook nog gereeld gevoed word. Moet nie affodille se blare afsny nie, maar laat dit vanself vrek. Die blare maak kos vir volgende seisoen se blom. As lenteblommende jaarplante klaar uitgeblom is, kan saad versamel word vir volgende jaar se Maartmaand-saaiery. Van Namakwalandse madeliefies en pronk-ertjies kan heelwat saad geoes word. Onkruid begin ook lustig groei. Skoffel dit nou uit vóórdat dit saad vorm. Dié tyd van die jaar lewer 'n skouspel in tuine waar daar blommende bome en struike is. Met deesdae se nuwe tuinneigings is bome nie meer so gewild nie, maar prunus, houtappel en ander lenteblommende struike soos onder meer Forsythia verseker dat daar baie kleur is. Die gewone pers irisse blom eerste en saam met die geel van die Forsythia skep dit 'n pragtige prentjie. Baie van die eens gewilde struike wat vroeër in alle tuine voorgekom het, het nou weer 'n welkome terugkeer gemaak. Kyk ook gerus na pragtige inheemse meerjariges wat nou oral by kwekerye beskikbaar is. Meerjariges is ekonomies, omdat dit nie nodig is om elke seisoen geplant te word nie. Met saailinge en bolle wat vandag duur is, kan tuiniers nie altyd 'n skouspel skep nie, omdat baie plantjies en bolle nodig is.) Diascia: Hierdie pragtige blommetjies het nou sommer baie nuwe hibriede en daar is baie mooi kleure te kry. Nemesia: Dit is 'n gewilde blommetjie wat óf meerjarig óf as jaarplant te kry is. Sutera: Wit blommetjies is altyd baie bruikbaar in enige tuin en tuiniers kan gerus Bacopa Breeze White plant. Dié plantjies is rankerig en sal ook mooi in hangpotte lyk. Daar is nog meer kleure te kry.) Osteospermums is ook baie mooi in tuine en besonder waterwys en boonop uiters rypbestand. Maak gerus van al dié pragtige blommendes gebruik om 'n kleurvolle randakker te skep met 'n mengsel van lente-, somer- en herfsblommendes. Berei die nuwe beddings voor deur kompos mildelik in te werk. Dubbelspit gerus as beddinggrond arm geraak het en werk ook genoeg beenmeel in. Om 'n langer blomtyd te verseker moet tuiniers gereeld uitgeblomde blommetjies verwyder. Dit is dalk ook nou nodig om sekere van die meerjarige plante in die tuin uit te haal en op te deel. As plante vir jare ongesteurd gelaat word, word die blomme en blare al hoe kleiner, want die wortels is oorgroei. Gaan kuier by 'n tuinsentrum en bekyk eers alles, vra vrae en beplan daarna deeglik en koop wat vir jou tuin gaan werk. Anneke Brits, jare lange rubriekskrywer vir Volksblad en Huis & Tuin, het onlangs na Johannesburg verhuis. Ons is egter bly om te sê dat Anneke sal voortgaan om die weeklikse tuinrubriek vir Huis & Tuin te lewer.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|