Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Naghowe ‘is 'n briljante plan’
Naghowe vir Suid-Afrika om die geweldige agterstand in strafsake te probeer wegwerk, kan eersdaags 'n werklikheid wees.
André P. Brink se susterskind doodgeskiet
“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika oorgelaat is aan die genade van barbare.”
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           8-25°C

Voorspellings
Sudoku

Boslelies laat brand blomkerse vir lente
Sep 28 2007 10:13:12:723PM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

MY kennismaking met die boslelie, Veltheimia bracteata, gaan 'n hele paar jaar terug toe ek my eerste plante suksesvol van Kirstenbosch-saad gekweek het. Die gratis jaarlikse saadtoekenning was vir my een van die grootste pluspunte van my lidmaatskap van die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika. My boslelies is nou al in die derde en vierde geslag en steeds bly die bekoring 'n opwindende lekkerte. Dis werklik 'n jammerte dat in so min van ons tuine die Veltheimia bracteata sy kiertsregop blomkerse kan aansteek vir koningin Lente. Dié boslelie groei in die somerreënstreek van die Oos-Kaap, in ruigtes, die kusbos en tussen rotse. Hulle dra graaf August von Veltheim (1741 ? 1801), 'n beskermheer vir die vroeë plantekunde, se naam as genusnaam. Daar is net twee spesies in hierdie genus. Ons boslelie met die spesienaam bracteata en die sandlelie, V. capensis. Laasgenoemde groei in die winterreënstreek op rotsagtige plate van Namakwaland, die Westelike Karoo tot by Darling, Potberg en die Klein-Karoo tot op 'n hoogte van 1 200 m bo seespieël. Die boslelie (V. bracteata) groei teen die ooskus van Humansdorp tot in die oostelike deel van die Oos-Kaap tot op 'n hoogte van 610 m bo seespieël. Hulle is bolplante en behoort tot die familie Hyacinthaceae. Ander bekende genusse van hierdie familie in die Suid-Afrikaanse blomkoninkryk is Eucomis, Ornithogalum, Lachenalia en Galtonia. Die perserige ovaalvormige bol, ongeveer 70 mm in deursnee van V. bracteata is bedek met papieragtige bruin skutblare, die oorblyfsels van ou blaarbasisse. Dit gee aan hom sy spesienaam wat uit Latyn ontleen is. In die natuur kan hulle in groot groepe voorkom. Die glansend groen, effens vlesige blare is rosetvormig, tot 450 mm lank, en 70 mm in deursnee met 'n golwende rand. V. capensis se blare is duidelik grysgroen en effens kleiner as V. bracteata. Die hele plant van die boslelie is ongeveer 450 mm x 300 mm. Die boslelie is uitsonderlik in die sin dat hy 'n kort somerrusperiode beleef. Teen ongeveer November verdwyn die groen blare en dan lyk dit asof jou boslelies 'gegroet' het, om maar net weer in die laatsomer hul opwagting met nuwe groen blare te maak. Die bloeiwyse word op 'n regop, persgevlekte bloeisteel, ongeveer 50 cm lank, in die laatwinter of lente gedra. Die vorm van die bloeiwyse (blomtrosse) is vuurpylagtig. Die diggepakte buisvormige blommetjies staan regop, maar is neerhangend sodra hulle van onder na bo oopmaak om die meeldrade en stempel te vertoon. Die kleur wissel van pienk, pienkrooi, rooi tot suurlemoengeel natuurlik op verskillende plante. Die boslelies in my tuin is baie lig pienk met 'n groenerigheid wanneer die buisvormige blommetjies nog regopstandig is. Die punte van die geopende buisies behou 'n groenerige skynsel en dit is asof daar 'n effense groenigheid deur die pienk slaan. Die Van Tonders van Eloffstraat, Universitas, se Veltheimias is egter pragtig pienkrooi. Vir ongeveer 3 tot 4 weke gee die boslelies 'n swierige vertoning. Vanjaar is hulle 'n duidelike uitroepteken agter die woord lente. Die rypwordende sade is 'n opgepofte kapsule wat vir 'n rukkie aan die bloeisteel bly hang totdat dit deur wind versprei word teen die middel van die somer. Binne die kapsule is die glansend swart peervormige sade, ongeveer 6 mm lank. Daar is so twee tot drie sade in elke kapsule. Boslelies het nie fieterjasies nie. Dit is plante vir skadu of half-skadu. Die boslelie vra nie baie water nie hou by die reël min maar gereeld. In ons wintermaande sal hulle 'n bietjie ekstra waardeer. Hoewel hulle rypgevoelig is, kry hulle nie skade as hulle beskut onder oorhangende struike of bome groei en nie vroegoggend direkte sonlig kry nie. Hulle is uitstekende stoepplante in houers en sal selfs binnenshuise treffers wees, mits daar voldoende lig in die vertrek is, maar nie direkte sonlig nie. Die saad ontkiem maklik en kort voor lank kan 'n mens jou boslelies aansienlik vermeerder deur die saad te oes en dadelik weer te plant. Saailinge sal binne 3 tot 4 jaar begin blom. Die bolle moet gelyk aan, of net onder die grondoppervlak geplant word in goed dreineerbare grond. Hulle aard die beste in effens suur of neutrale leemgrond wat met kompos verryk is. Hulle vermeerder vegetatief deur klein uitloperbolletjies teenaan die moederbol te vorm wat self verder in 'n plant ontwikkel. Wanneer hulle in 'n houer geplant word, moet die houer groot genoeg wees om van hierdie aanwas te kan akkommodeer. 'n Mens moet die bolle nie te veel versteur nie, maar as die bolle gelig word, is dit aan te beveel om dit te doen terwyl die plante in hul rusperiode is. Die bolle moet dan dadelik weer geplant word. 'n Blaar van 'n goedgevestigde plant kan ook ingelê word in 'n sanderige grondmengsel en klein bolletjies sal ondergronds aan die basis van die blaar vorm. Graag wil ek namens die Vrystaat-tak van die Botaniese Vereniging al die baie kopers bedank vir die stormende sukses van 15 September se jaarlikse plantverkopedag by die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin. Die omset van die oggend was R37 000 alles inheems. 'n Spesiale dankie aan mnr. David Rambuwani, tuinboukundige, vir sy leeue-aandeel aan die dag se sukses. 'n Praatjie oor inheemse skaduplante vir 'n Vrystaatse tuin word gratis op Saterdag 6 Oktober om 11:00 in die Opvoedkundige Sentrum van die Botaniese Tuin aangebied. Normale toegangsgeld tot die tuin sal gevra word.

Teken in op Volksblad


Vind
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer