Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Naghowe ‘is 'n briljante plan’
Naghowe vir Suid-Afrika om die geweldige agterstand in strafsake te probeer wegwerk, kan eersdaags 'n werklikheid wees.
André P. Brink se susterskind doodgeskiet
“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika oorgelaat is aan die genade van barbare.”
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           10-25°C

Voorspellings
Sudoku

Oudkoerantman leef steeds voluit
May 08 2008 12:36:37:710PM  - (SA)  
Marnie van Wyk



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Hy mis die eensaamheid en stilte van die Vrystaatse vlaktes. “Ek verlang na die duisternis wat jou toevou op ’n plaas wanneer jy die lig afsit . . . Die hitte teen my rug uit die Aga se warmplaat . . . ”

Só gesels ’n energieke Johan van Wyk uit sy aftreehuis op die Greenways-gholflandgoed tussen die Strand en Gordonsbaai waar hy en Mammie (sy vrou, Zandra) deesdae woon. Hoewel aanvanklik huiwerig om ’n onderhoud toe te staan omdat hy geen “celebrity” is nie, willig hy tóg in aangesien ek ook ’n Van Wyk is en “bloed mos dikker as water is”.

Hy is enigmaties, dié oudjoernalis wat Volksblad-lesers jare lank vermaak (en kwaad gemaak het) het in die rubriek Stop van Myne.

Hy gesels opgewek oor sy kleurryke loopbaan wat skynbaar nie einde het nie. Hoewel hy in 2002 amptelik afgetree het, is hy besiger as ooit. Hy verduidelik: “Drukkersink in jou bloed, verdra soos drank, nie onreg nie. As jy ’n gebore joernalis is, pleeg jy ’n onreg teenoor jouself as jy ophou skryf. Jy kan net sowel dood wees.”

Van Wyk hou daarom sy pen aan die vloei deur storietjies vir Landbouweekblad te skryf. Hy’t ook die gholflandgoed waar hulle woon se maandelikse nuusbrief onder hande geneem en dit in ’n lekkerlees-koerantjie verander. En ja, getrou aan die tradisie, kom hy die “neus-inni-lug-snobs” by! “Party word kwaad, ander geniet dit. Ek ook!” laat val hy.

Sy verbintenis met die Vrystaat is ’n spesiale een. Toe sy loopbaan in 1961 by Landbouweekblad begin het, is hy Volksblad toe gestuur vir sy opleiding, omdat dit “die beste nuuskoerant in Suid-Afrika was”.

Maar, het Van Wyk spoedig uitgevind, die Rosestad spog ook met die mooiste meisies. Hy is in daardie tyd ook deeglik “opgelei” in hoe om met hulle in Maselspoort se swembad te baljaar, ses duim uitmekaar te “tan”, en Saterdagaande in die Cecil-hotel te dans. Hy erken ruiterlik dat mooi, goedversorgde vroue sy lewe lank een van sy grootste vreugdes én swakhede is!

Dat hy diep spore in die mediawêreld getrap het, is seker. Hy’t onder meer baanbrekerswerk gedoen toe hy destyds as redakteur van The Herald in George die opdrag gehad het om dié Engelse weekblad tweetalig te maak. Daarna was hy plattelandse redakteur van Die Volksblad en later redakteur van Die Suidwester in Windhoek.

Laasgenoemde was ’n uiters moeilike tydperk in sy lewe: “Ek was vasgevang in die verbete storm en drang van die destydse Suidwes-politiek en het ná drie jaar besluit om die koerantwêreld finaal te groet.”

Hy het toe heeltyds op sy plaas naby Tierpoort kom boer, maar is spoedig nadergehark om Stop van Myne vir Die Volksblad te behartig. ’n Taak wat hy met oorgawe uitgevoer het: “Die lekkerste was om van lesers te hoor (veral vroulike lesers!) hoe hulle soggens met my en Die Volksblad “in die bed klim” en Stop van Myne lees! Dis suurstof vir ’n rubriekskrywer om te weet dat hy geléés word en dat dit mense laat dink en lag! Oor die FAK-eerbewys vir uitnemende joernalistiek is hy beskeie. “Vandag is ek soms huiwerig om te erken dat ek een (’n goeie joernalis) was . . .”

Sy lewensfilosofie van 100% lééf is aansteeklik en benydenswaardig. Hy en Zandra lewe elke dag voluit: Soggens vroeg al stap hulle lang ente langs die see met Twakkie, hul Jack Russell, waarna hulle die branders aandurf. In die winter swem hy in ’n verhitte swembad en speel graag gholf. Hy en Zandra besoek graag die teater en saans luister hulle na ou langspeelplate. Geen televisie nie, dankie!

As hy moeg word vir die stadslewe, vat hy die langpad op sy Gold Wing-motorfiets. “As ek opklim, voel ek 20 jaar jonger,” vertel hy opgewonde. “Ek is al deur 96 000 km op drie Gold Wings. Die jongste het ’n CD-speler. Ek speel pragtige klaviermusiek terwyl ek oor die vlaktes snel . . .” Hulle reis ook graag en gaan later vanjaar na Oos-Europa en Namibië toer. “Ek wil ook nog deur Amerika ry op ’n Harley Davidson met Mammie agterop. Reis en avontuur is die speserye van die lewe.”

Hulle is gelukkig, gesond en geseënd. Om soggens wakker te word en die dag aan te gryp, is vir hom ’n voorreg. Vir diere (veral honde) en opregte, beskeie mense het hy ’n diepe deernis. “Ek het altyd graag vir die underdog opgekom en doen dit steeds.”

Vir Johan van Wyk en sy vrou, Zandra, is die lewe ’n lied. Dit is nie verniet dat hy, op pad 70 toe, klavierlesse begin neem het nie. Eendag, as die regte tyd aanbreek, wil hy ’n pianis op ’n groot skip word. “Ek droom daarvan om in ’n wit tuxedo agter ’n glimmende swart Steinway in te skuif en Beyond the Sea te speel.”

Dit is drome soos dié, en sy geloof wat vir hom ’n anker is. Hy haal ’n stuk deur Rodin aan: “Die geloof is iets anders as die gestamel van ’n credo. Dit is die gevoel van alles wat onverklaard en sonder twyfel onverklaarbaar is in die wêreld. Dit is die smagtende uitgaan van ons bewussyn na die oneindige, na die ewigheid. Dit is waarvoor ek my beywer.”

Teken in op Volksblad


Vind
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer