Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Afgaanse konflik eis Australiër
'n Oud-Suid-Afrikaner is die naweek as 'n Australiese spesmagte-soldaat in Afganistan dood.
Omstrede beslissing knou Kallis
Jacques Kallis moet sweerlik wonder wat die krieketgode dan nou eintlik teen hom het.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           14-30°C

Voorspellings

>

Hier loop nog net spoke
Nov 19 2008 08:31:30:080AM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Waterkloof. – Langs die tweespoorstraatjie, naaste aan die spruit waarna Waterkloof vernoem is, staan ’n ry kerkhofsipresse.

Dis op dié erf waar oom Herklaas en tant Hannie Boshof eens ’n huis gehuur het.

Dié egpaar was bywoners en moes destyds dorp toe trek toe oom Herklaas te oud geword het om te boer en die baas van die plaas gesê het hy moet sy ry kry.

Die bejaarde Boshofs, soos die meeste Waterklofers, het dit nie breed gehad nie en het ’n bestaansboerderytjie bedryf. Soms het die koue nie gewyk nie en die bloeisels aan hul vrugtebome het een jaar selfs begin- November doodgeryp. Sulke somers was daar nie albertas of granate op hul tafels nie en was die kos maar effentjies.

Ook tant Hannie se sywurms het in sulke maer jare gevrek – weens die onverwagse ryp was daar nie moerbeiblare wat sy die wurms kon voer nie. Haar suster in Port Elizabeth sou dan vir haar per pos eiertjies aanstuur vir ’n volgende seisoen se weer-probeer.

Maar al het die sywurms gevrek en die vrugtebloeisels doodgeryp, kon die Boshofs altyd staatmaak op hul hoenders. Hul dosyn voorslaghenne het van die plaas saamgekom toe hulle hierheen getrek het.

Die egpaar het goed op die dorp aangepas, maar op een windstil somersnag het dinge vir altyd verander.

Kort ná middernag het ’n vreeslike gekraai in die hoenderhok losgebreek.

Oom Herklaas het ’n sug gegee, want die rumatiek het hom opgekeil en vir opstaan was hy min lus.

Maar tant Hannie het haar japon aangepluk en hy moes geweer en al agterna. Haar henne was haar trots en ’n ondier mog hulle nie afmaai nie.

Tant Hannie is met ’n paraffienlamp ál om die draadhoenderhok wat met riete bedek was, maar alles het pluis gelyk en die twee grysaards het gaan lê.

Maar van slaap was daar nie sprake nie. Die henne het tot hanekraai bly kekkel.

Teen dagbreek het ’n poegaai oom Herklaas die Statebybel oopgevou en hulle het boeke gevat. Kort hierna sou die hoenders bedaar en jy sou sweer niks het hulle ooit gehinder nie, want bedags en in die vooraand was alles dooddollies op die Boshofs se werf.

Maar rondom middernag het die gekekkel klokslag wéér uitgebreek. Van die min slaap was die egpaar later beneuk met mekaar. Boonop het die hoenders skaars gelê.

Uit radeloosheid het oom Herklaas vir sy kleinkind een ganse nag by die hoenderhok laat waak, maar ook dié kindskind kon nie agter die kap van die byl kom nie.

Enkele weke later het die rietdak van die hoenderhok op onverklaarbare wyse aan die brand geslaan. Binne sekondes het die vlamme alles verteer en die henne verkool.

Nugter weet hoe, maar ’n donskleine kuiken het op wonderbaarlike wyse uit die hok ontsnap en bedremmeld buite rondgedwaal.

Die brand was ’n groot terugslag vir die Boshofs, maar minstens kon hulle nou weer slaap. Boonop het die kuikentjie mettertyd ’n hen geword en sy het omtrent nét dubbeldoor-eiers gelê. Só ’n enkele eier was groot genoeg dat tant Hannie soggens vir hulle twee roereier hiervan kon maak.

Dag en datum ’n jaar vóór tant Hannie se sterwensdag het die towerhen haar laaste asem uitgeblaas – ’n geelslang het die hennetjie in die groentetuin gepik.

Die dominee se teksvers op tant Hannie se begrafnis was uit Openb. 16:15-16: Julle is natuurlik onseker wanneer die dag presies is. Luister wat sê God: “Wees wakker. My koms sal wees soos ’n dief s’n – as mense dit nie verwag nie. Die mense wat wakker en gereed is, sal gelukkig wees. Hulle sal te bly wees dat hulle vir My gewag het. Hulle sal nie rooi in die gesig en skaam uit die bed hoef op te spring, omdat hulle nie reg was nie.

Die herder het getroos dat tant Hannie van Waterkloof, ’n oase in die Karoo, verhuis het na ’n nóg beter plek – die hemel.

Maar oor die rede vir die gekekkel en die brand het die herder geswyg. Ook vir hom was dit soos om met ’n spieël in ’n raaisel te kyk.

Vir aardse siele is die antwoord op dinge soos dié selde beskore. ) Nog foto’s en ’n berig op bl. 3.

Teken in op Volksblad


Vind
Reis en Verblyf
Direct Axis Lenings
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer