Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 14-30°CVoorspellings > |
|
||||||||||||||
|
Kolhou op 12de putjie ’n eerste vir Naudé
Die lekkerste geskenk wat ’n gholfspeler aan homself kan gee, is ’n kolhou hier kort voor die feestyd. Dit is wat Luther Naudé die afgelope naweek op Zastron se baan gedoen het. Naudé het op die twaalfde putjie, wat 155 m lank is, die balletjie met sy agt-yster in die blikkie geslaan. Dit was die eerste keer dat hy die vreugde van so ’n groot hou gesmaak het. Later in die berig skryf ons van die goeie spel in ons streek, maar die ronde van Lang Willem Pieterse op Bultfontein se baan verdien spesiale vermelding. Tienie Junius, wat saam met hom gespeel het, sê hy het nog nie so iets beleef nie. Willem het met ’n telling van 47 (sy voorgee was 19) gewen. Hy het by elkeen van die eerste nege putjies drie punte (dit is gelykstaande aan nege voëltjies) behaal. Kersfees is om die draai en verskeie groot gholftoernooie word die volgende paar weke gehou om geld in te samel om dit vir die behoeftiges die feestyd makliker te maak. Een van die groot geldinsamelingsdae vind Vrydag op Bloemfontein se baan plaas, terwyl net so ’n grote op sy buurklub, Schoemanpark, se baan gehou word. Elbie Louw, ’n gewese skoonheidskoningin, bied elke jaar die Sasko-toernooi aan en, soos elke keer die afgelope vier jaar die geval is, hoop sy om vanjaar weer minstens R80 000 aan liefdadigheid te skenk. Bloemfontein se spelers het ook nie op hulle laat wag nie en teen vanoggend was daar nog net drie afslaantye oop. Dit is ’n kiesspeltoernooi en dit kos R2 000 om ’n vierbal in te skryf. Sasko was ook verlede naweek die borg van die gholftoernooi op Harri-smith. Op Schoemanpark se baan word ’n toernooi gehou om geld vir die NG kerk Universitas-rif in te samel. Dit kos R120 om te speel en Ben du Plessis sê daar is baie pryse wat gewen kan word. Afslaantye kan by die klub bespreek word. Hoewel dit op baie van die bane in ons streek die afgelope twee weke lekker gereën het, is daar plekke waar dit nog baie droog is. Op Heilbron se baan het die heerlike reën Saterdag betyds opgehou sodat die toernooi van Vrybos gehou kon word. Vrybos is die bond van oud-Vrystaatse rugbyspelers. Twee van die Springbokke wat ver gereis het om in die gholftoernooi te speel, is Gysie Pienaar en Eben Jansen. Cas van Zyl, een van die organiseerders, vertel ’n veiling wat ook gehou is, het R30 000 vir Vrybos ingesamel. En nou die ander uitblinkers: Soos die geval maar elke week is, het ’n klompie spelers weer die afgelope week briljante spel gelewer. Die beste ronde is op Ficksburg se baan deur Gerrit Pre- torius gelewer. Pretorius speel met ’n voorgee van twaalf, maar hy het soos iemand gespeel wat van streep af kan speel. Hy het ’n bruto 74 – twee oor die baansyfer – gespeel en 45 Stablefordpunte ingesamel. Hy het Johan Joubert, wat self goed gespeel het, met ses punte geklop. Op Ladybrand se baan het C. Smith in ’n bonus-slagspeltoernooi briljante gholf gespeel en plus nege aangeteken. Hy het Seppie Vlotman, wat tweede was, met ’n volle sewe punte geklop. Op Jagersfontein het Retief Grobbelaar en Wilna Coleske in ’n beterbal-toernooi 44 Stablefordpunte behaal. Maar hulle het eers gewen nadat tussen hulle en Piet Louw van Swartkoppies en Piet Louw van Kuilfontein uitgetel is.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||||||
|
|