Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Afgaanse konflik eis Australiër
'n Oud-Suid-Afrikaner is die naweek as 'n Australiese spesmagte-soldaat in Afganistan dood.
Omstrede beslissing knou Kallis
Jacques Kallis moet sweerlik wonder wat die krieketgode dan nou eintlik teen hom het.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           14-30°C

Voorspellings

>

Toe het jy vir liefde van spel
Nov 19 2008 08:31:27:673AM  - (SA)  
Joe Venter



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Jy het rugby en krieket gespeel vir die klub wat die naaste aan jou was, want die manne het toe nog nie met blink motors by die oefeninge opgedaag nie en daar was nie veel tyd om te oefen tussen die laaste daglig totdat die donkerte toegeslaan het nie.

Maar dit was heerlike sportdae. Toe het die spelers vir die liefde van die spel aan ’n sport deelgeneem. Jy het self die sere en pyne gedokter en gehoop jy is reg vir die volgende wedstryd.

Sê vir vandag se klubspelers en selfs die Cheetahs en die Bokke om sulke opofferings te maak en sport sal verdwyn.

Des Fairbairn sit in sy kantoor by Mimosa-Films en dink terug aan die dae toe hy met ’n fiets na die oefeninge gery het en toe sy vrou, Ursula, dieselfde opofferings moes maak om hul sport te beoefen.

En hulle is beloon, want hy het vir die provinsiale rugbyspan senter gespeel en het as snelbouler vir die Vrystaat diens gedoen. Ursula het die hoogste sport as hokkiespeler bereik.

Wanneer jy met Fairbairn gesels oor sy rugby- en krieketdae tydens en ná die Tweede Wêreldoorlog (1939 tot 1945) hoor jy weer van daardie romantiese dae in ons sportgeskiedenis en van die groot name wat hier kom toer het.

Hy vertel van die oor en weer kuiery tussen die spelers van verskillende spanne, van die vriendskappe wat gesmee is en van die legendes wat gebore is omdat hulle nie in watte toegedraai is soos vandag se deelnemers nie.

Die legendes is gebore uit die beriggies wat van hulle in die koerante verskyn het en van die stories wat weer vertel is. Vandag word hulle op ’n afstand gehou en word daar selfs in die geheim geoefen.

”Daar was baie spelers in daardie jare wat met die beste vergelyk kon word. Ek glo die beste losskakel wat nog vir die Vrystaat gespeel het, was Jossel Newton. Ek het die voorreg gehad om in 1943 rond as senter saam met hom te speel. Hy het alles gehad wat jy van ’n groot losskakel verwag het: Vinnig van die merk af, sterk verdediger, hy kon skop met albei voete, systap en breek. Alles.

“In daardie jare het die Vrystaat maar ’n handjie vol wedstryde in ’n seisoen gespeel. Jossel het meer as ’n dekade lank die wit trui gedra.”

Die statistieke van die Vrystaat dui aan dat Jossel in 26 wedstryde vir die Vrystaat gespeel het. Dus kon hy maklik etlike jare verteenwoordigende rugby gespeel het.

Van die groot rugbyspelers saam met wie hy gespeel het, sluit in Johnny Pentz, ’n blink voorryman, Bill Coleman, Chum van Staden, Valie de Bruyn, Wa Lamprecht, Jaap Furter, ’n skitterende agtsteman, Jack Moffatt, Willem Klopper, pa van die bekende Klopper-broers, en Basie Vivier, gewese Springbokkaptein.

En dan duik daar een naam op van iemand wat ons die afgelope jaar of wat nie in die Kontrei-berigte oor die ou sportlegendes gesien het nie: Jan Bouwer.

Jan het as verslaggewer by Die Volksblad gewerk. Des vertel: “Hy was ’n uitstekende heelagter wat met albei voete kon skop. Hy was ook ’n spanman by uitnemendheid. Mense het altyd om hom saamgetrek, want hy het altyd ’n grappie te vertel gehad.”

Een van die ander legendes, oom Charlie Kohler, het in Des se jare nie meer gespeel nie, maar hy was voorsitter van die rugbyklub by Collegians.

Fairbairn vertel dat hy ’n ruk vir Collegains gespeel het, maar die klub het tydens die oorlogjare sy bedrywighede opgeskort. Dit was toe dat hy vir Oud-Greys uitgedraf het.

Des Fairbairn se ander groot liefde was krieket.

Eintlik was dit sy nommereen-sport, want as snelbouler het hy skouers geskuur met die beste van die buiteland wat in Suid-Afrika kom speel het.

“Tydens die wedstryd tussen die Vrystaat en Australië het ek en Ray Lindwall groot vriende geword. Ek was die 12de man in daardie wedstryd en het baie met Lindwall te doen gekry. Hy was nie net ’n briljante bouler nie, maar ook ’n wonderlike mens.”

Keith Miller, ’n ander snelbouler in die Aussiespan, wat net so ’n gawe mens. Hy kon natuurlik ook ’n krieketbal baie ver slaan.

Van sy Suid-Afrikaanse spanmaats wat groot hoogtes bereik het, is Lindsay Tuckett, Plum Warner, wat ook ’n slag vir die Vrystaat se rugbyspan uitgedraf het, Harold Wright en die nimlike Peter Heine.

Heine was een van die groot geeste van Suid-Afrikaanse sport.

Hy was ’n briljante snelbouler, maar kon die krieketbal ook baie ver slaan.

Hy was ook ’n uitstekende gholfspeler.

Fairbairn glo Peter May van Engeland was een van die beste kapteins teen wie hy ooit gespeel het.

Oor sy beste prestasies gesels hy nie graag nie, maar hy het darem ’n hele paar keer in wedstryde vyf paaltjies in ’n beurt platgetrek.

Die rugby-gebeurtenis wat die grootste indruk op hom gemaak het, al het hy nie self gespeel nie, was in die eerste toetswedstryd in 1955 tussen die Bokke en die Britse Leeus op Ellispark.

Hy was die dag een van die bykans 100 000 toeskouers wat om die veld saamgedrom het.

Ons vertel weer die verhaaltjie vir diegene wat dit nog nie gehoor het nie: Die Springbokke was halfpad deur die tweede helfte met 11-23 agter, maar het toe met ’n verbete eindpoging gekom. Die agterstand het stadigaan gekrimp en in die doodsnikke van die wedstryd het Theuns Briers, ’n vleuel van die Boland, gaan druk. Jack van der Schyff het die doelskop waargeneem, maar dit het skeef getrek en die Leeus het die wedstryd met 23-22 gewen.

Van der Schyff is vir die nederlaag verkwalik en hoewel hy voor daardie skop reeds tien punte – twee doelskoppe en twee strafdoele – met die skoen aangeteken het, is hy nooit weer vir die Bokke gekies nie.

Des Fairbairn is op 20 September 1925 in Oos-Londen gebore. Hy was ’n leerling aan Selborne College en het hom ná skool as ’n rekenmeester bekwaam. In 1943 het hy na Bloemfontein verhuis waar hy vandag nog woon.

Hy en Ursula is in 1954 getroud. Sy was een van die Vrystaat se heel beste hokkiespelers. Sy het agt jaar lank vir Suid-Afrika gespeel en was ook die kaptein.

Die egpaar is ongelukkig in 1964 geskei. Ursula het toe na Amerika verhuis waar sy afrigter van Amerika se nasionale hokkiespan geword het. Sy is ook daar oorlede.

Die egpaar het geen kinders gehad nie.

Teken in op Volksblad


Vind
Reis en Verblyf
Direct Axis Lenings
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer