Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 10-25°CVoorspellings |
|
Samewerking nodig vir oorlewing
Dit word al hoe moeiliker vir kleiner suiwelboere om in dié hoogs mededingende bedryf te oorleef, sê me. Lize de Waal, streekdirekteur van die Melkprodusente-organisasie (MPO) se noordelike streek. Sy het op die MPO se onlangse suiwel-ekspo op Parys gesê dit is noodsaaklik vir kleiner boere om saam te werk om volumepremie te bewerkstellig en beter kontrakte met melkkopers te beding. Die melkverskaffers benodig groot volumes om die mark konstant te hou en hulle betaal die beste pryse aan produsente wat in grootmaat kan lewer. Omdat kleiner boere nie die geldelike vermoë het om groter tenks op te rig of meer vervoerkoste te dra nie, verloor hulle die stryd om volumepremie te bewerkstellig. “Groepvorming kan help om die prys wat kleiner melkboere kry, te lig en insetkoste te verlaag en daarom kyk die MPO na maniere waarop daar saamgewerk kan word,” sê De Waal. Sy noem dat ’n groep produsente in KwaZulu-Natal reeds op dié wyse saamstaan en inderdaad beter pryse kon beding. “Al kom die groep net byeen rondom dieselfde koper, kan dit al die vervoerkoste vir die hele groep verlaag,” meen De Waal. Die enigste manier waarop die bedryf kan groei, is deur die toetrede van nuwe boere – maar die hoë intreekoste maak dit baie moeilik vir nuwelingboere om ’n vastrapplek in die suiwelbedryf te kry. Die MPO staan ’n sakemodel voor waar opkomende boere bygestaan word deur reeds gevestigde kommersiële boere wat as mentors kan optree. Volgens mnr. Etienne Terre’Blanche, besturende direkteur van die MPO, is die organisasie betrokke by 22 projekte waar kommersiële boere in vennootskap met opkomende swart boere melkerye op plase bedryf waar grond herverdeel is. Die onderneming word geregistreer en betaal huurgeld aan die nuwe eienaars. Intussen word vaardighede oorgedra en verantwoordelikhede gedeel. Dié is aan voornemende beleggers uit Amerika voorgehou en daar is ’n moontlikheid dat hulle betrokke kan raak, het hy gesê. “Die groot voordeel van dié sakeplan is dat dit vinniger ’n opbrengs op die kapitale belegging sal lewer en dat daar met die huurinkomste darem elke maand geld in die nuwelingboer se sak beland,” sê Terre’Blanche. Hy wys daarop dat Suid-Afrika sal moet kapitaliseer op die verhoogde wêreldwye vraag na voedsel en wil graag sien dat die land ’n netto uitvoerder van voedsel word, veral na die res van Afrika. “As die regering ernstig is oor voedselsekuriteit sal ons grondhervorming anders moet benader. Bestaansboere sal nie ons verstedelikte bevolking kan voed nie. En as daar wêreldwyd ’n voedseltekort ontstaan, sal lande wat hul eie mense kan kosgee en genoeg oorhet om uit te voer, beslis die hef in die hand hê.”
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||
|
|