Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Naghowe ‘is 'n briljante plan’
Naghowe vir Suid-Afrika om die geweldige agterstand in strafsake te probeer wegwerk, kan eersdaags 'n werklikheid wees.
André P. Brink se susterskind doodgeskiet
“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika oorgelaat is aan die genade van barbare.”
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           10-25°C

Voorspellings
Sudoku

Die Mazda2 vergestalt vreugdes van motor ry
May 08 2008 11:39:39:157AM  - (SA)  
jannie hennop



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Toe die eerste keer tydens sy bekendstelling in Suid-Afrika agter die nuwe Mazda2 se stuurwiel ingeskuif is, het ’n mens net geweet hier kom ’n ding.

En die ding wat gekom het, is dat die Mazda2 as Suid-Afrika en die wêreld se Motor van die Jaar vir 2008 aangewys is.

Net enkele sekondes nadat jy jou sit in die Mazda2 gekry het, weet jy die ouens het hul huiswerk deeglik gedoen. Dit is egter wanneer jy ry en begin lees oor die klein buksie dat jy besef die ouens het hul huiswerk meer as deeglik gedoen.

Ons het nie die Mazda2 se voorganger in Suid-Afrika gehad nie en moes maar baie jare met die Mazda 323 tevrede wees wat, hoewel gewild omdat dit goedkoop was, nie die vreugdes van motor ry kon vergestalt nie.

Nou is die rolle so half omgeruil. Die Mazda2 is nie goedkoop nie, maar, boeta, dit is waaroor motor ry gaan.

Die toetsmodel was – jip, jy’t reggeraai – die vlagskippie en ook die model wat die titel verower het, naamlik die 1,5 Individual, teen ’n besonderse duur R167 000.

Enjin, verrigting

Daar is twee enjinkeuses in die reeks – ’n 1300 of ’n 1500.

Die 1500 lewer 76 W @ 6 000 r/min en wringkrag is 136 Nm @ 4 000 r/min.

Uit die staanspoor voel die Mazda2 lewendig, selfs ook hier hoog bo seevlak.

Nie net die enjin lewer goeie verrigting nie, maar die Mazda is in vergelyking met sy mededingers tussen 150 en 250 kg ligter. Dit maak die wêreld se verskil by kleinkapasiteit-enjins. Goed, die Mazda2 is teen kort van 1 000 kg steeds nie ’n veertjie nie.

Gaan ry egter in ’n paar van sy mededingers en kners op die tande, omdat die vordering nie altyd so fluks is nie.

Brandstofverbruik het in die toetstydperk op ’n heel skaflike 7,5 liter/100 km te staan gekom.

Die enjin klink ook byna sportief en is altyd gewillig.

Die petrolpedaal is baie lewendig sonder om oorsensitief te wees.

Rit, hantering

Hy voel reg en hy doen reg. Onthou van daardie intrapslag-gevoel wat jy kry. Wel, net ’n paar treë verder weet jy ook in dié afdeling gaan dit goeie nuus wees.

Die stuur se lading teen alle snelhede is beter as baie meer sogenaamde bestuurdergefokusde voertuie.

Lekker lig teen parkeersnelhede en lekker styf, maar akkuraat teen hoëre snelhede. In draaie gedra hy hom soos ’n wafferse windhond en seil sonder moeite of vreeslike bakrol daardeur.

Die toetsmodel was met 195/45R16-bande en wiele toegerus wat maar effens stamperig op ’n slegte pad was. Klein waentjie, groot wiele en laeprofielrubber op ’n slegte pad is nie goeie maats nie.

Desondanks was die ritgehalte goed op die meeste paaie. Motorskrywers praat so maklik van ’n soliede gevoel wat ’n voertuig gee wanneer dit bestuur word. Nou ja, kom ons val ook in by dié vae veralgemening, want die Mazda2 het soos ’n veel groter voertuig in die positiewe sin van die woord gevoel. Stabiel en solied...

Wat wel gepla het, was ’n mate van padgeraas wat die kajuit binnegedring het, maar dit was nie uitermatig nie en die windlawaai was minimaal.

Binne

Die vindingrykheid van die Mazda2 se ontwerp is oral te sien. Die outjie is ruimer as wat hy lyk of as wat sy afmetings te kenne wil gee. Selfs die uwe as groter as jou gemiddelde bestuurder kon sonder moeite ’n lekker sitposisie met genoeg ruimte rondom vind.

As vlagskipmodel wat ons moustertjie natuurlik omvangryk toerus met satellietkontroles aan die stuurwiel, klimaatbeheer, elektries beheerde dits en dats, aanboordrekenaar en sleutellose toegang en aansluit van die enjin. Die sleutel moet net iewers in ’n broek- of hempsak wees.

Die sitplekke is gemaklik en die ratskakeling is van die beste in sy klas.

Het niks dan gepla nie? Hmm . . . Natuurlik het daar. Van die plastiek aan die binnekant lyk eenvoudig nie duursaam nie. Ek sou reken die Mazda2 is nog nie heeltemal ge-Polo wat afwerking en goeie materiale in die binnekant betref nie. Sig skuins na agter is ook nie na wens nie.

Buite

Die Mazda2 lyk ’n bietjie na die Peugeot 206/207, wat dit natuurlik ’n baie mooi ryding maak.

Veral die toetsmodel met sy ekstra lugskorte en allooivellings laat dit baie sportief vertoon en dit is net daardie eina-uitlaatpypie wat soos ’n nagedagtenis agter uitsteek wat gepla het.

Vir die res lyk die Mazda2 mooi, byderwets en hou dit ’n goeie balans deur nie te uitspattig te wees nie, maar beslis ook nie eentonig nie.

Prysvergelyking

Onthou net daar is goedkoper modelle. Die beter waarde vir jou geld lê nie by die model wat getoets is nie. Teen R167 000 is dit ’n klompie geld vir ’n kleinerige ryding, maar in alle regverdigheid, jy kry darem baie motor vir jou geld wanneer jy die toerustingvlak bestudeer.

Mededingers is, oeps, daar is nie . . . Nee, jy kan vir omtrent dieselfde geld ook gaan kyk na ’n Toyota Auris 1,4 RS (R169 600), Subaru Impreza 1,5 (R169 000), Nissan Tiida 1,6 Acenta (169 900) of ’n Hyundai Elantra 1,6 GLS (R166 400). Nie dat ek van dié bo die Mazda2 sou kies nie.

Bevinding

So ’n dekade of wat gelede was Mazda nie baie ernstig beskou nie.

Die meeste van sy produkte was maar aan die vervelige kant en nie werklik mededingend nie.

Maar hoe het dinge nie verander nie.

Die Mazda2 (as ’n reeks) is myns insiens soveel beter as sy regstreekse mededingers dat in dié klas op my kortlysie niks anders as die Mazda2 sal wees nie.

Die Mazda5 is waarskynlik nou die beste veeldoeler en die vorige Mazda6, wat binnekort vervang word, het ook baie gedoen om Mazda weer mededingend te maak.

Daar is ook die Mazda3 wat dalk nog nie sy regmatige plek in sy uiters mededingende segment ingeneem het nie en Mazda se bakkies is ook eersteklas. Die Mazda2 verdien sy status as Suid-Afrika en die wêreld se ster-motor.

Teken in op Volksblad


Vind
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer