Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 2-20°CVoorspellings |
|
Minister onthul toekoms van Skerpioene in polisiemag
KAAPSTAD. – Die praktiese werking van die regering se nuwe plan vir die toekoms van die Skerpioene as deel van die polisiemag is gister onthul. Mnr. Charles Nqakula, minister van veiligheid en sekuriteit, het aan die parlementêre mediakorps gesê die staat gaan ’n nuwe spesialis-eenheid teen georganiseerde misdaad stig waarvan die huidige Skerpioene grootliks deel gaan vorm. Dit maak deel uit van ’n herorganisasie van die hele strafregstelsel – die polisie, howe en tronke – onder politieke aanvoering van mnr. Johnny de Lange, adjunkminister van justisie. Die nuwe spesialis-eenheid sal bekend staan as die Direktoraat vir Voorkeurmisdaad-ondersoek (DVMO), met die spesifieke mandaat om georganiseerde misdaad te bekamp. Ondersoekbeamptes van die Skerpioene en twee polisie-eenhede, te wete die eenheid teen georganiseerde misdaad en die handelsmisdaad-eenheid, se kundigheid sal in die DVMO saamgevoeg word. Nqakula het die versekering gegee dat die nuwe eenheid genoeg hulpbronne sal kry om sy werk behoorlik te doen. Die DVMO sal volgens hom nou saamwerk met die batebeslagleggingseenheid, doeane-owerhede en die private sektor om misdadigers aan die pen te laat ry. Regslui in die nuwe DVMO sal verseker dat die eenheid se ondersoeke van die begin af gefokus is om in ’n hof ’n skuldigbevinding te verseker, maar die insameling van inligting sal by die misdaadintelligensie-eenheid van die polisie berus. Lede van die DVMO sal streng gekeur word, het Nqakula gesê. Die keuring sal ondervinding, vaardigheid en sekerheidsklaring in ag neem. Die nuwe ANC-leierskap het die laaste maande by monde van genl. Simphiwe Nyanda aangedring op strenger keuring as wat by die Skerpioene die geval was. Een van die sterkste besware van die nuwe ANC-leierskap teen die Skerpioene vind neerslag in die bepaling dat die magte van ondersoek (die polisiewerk) en vervolging (die aanklagwerk) geskei word. Die Zuma-kamp in die ANC voer lankal aan die samevloeiing van dié twee magte in die Skerpioene lei tot magsmisbruik. Nqakula het die versekering gegee dat alle huidige ondersoeke van die Skerpioene afgehandel sal word; nie een sal verlore gaan nie. Een van die belangrikste aspekte van gister se aankondiging is dat die reëls waarvolgens pleitooreenkomste aangegaan kan word, gewysig sal word. Dit is welbekend dat daar baie kritiek was op die wyse waarop die Skerpioene pleitooreenkomste aangegaan het deur booswigte se vonnisse te verlig of op te skort in ruil vir inligting wat nie oral as baie betroubaar beskou is nie (komende van booswigte). Hoëprofiel-pleitooreenkomste waarvoor die Skerpioene al deurgeloop het, sluit in mnre. Glenn Agliotti (oor sy vriendskap met die nasionale polisiehoof, komm. Jackie Selebi) en Mark Thatcher (oor die staatsgreeppoging enkele jare gelede in Ekwatoriaal-Guineë). Op ’n vraag of Selebi dus, indien die nuwe stelsel gegeld het, sy eie ondersoeker sou aanstel, het Nqakula ’n eierdans uitgevoer en gesê junior polisiepersoneel ondersoek gereeld hul seniors. Voorts het Nqakula gesê huidige lede van die Skerpioene sal met volle salarisvoordele na die polisie oorgeplaas word – hulle sal nie minder verdien nie. Op ’n vraag hoe dit verantwoord gaan word aangesien die Skerpioene in die reël beter vergoed word as hul eweknieë in die polisie, het Nqakula gesê dit sal in die tersaaklike wetgewing verfyn word. Die tersaaklike wetgewing is die Wetsontwerp op Algemene Wette, wat reeds by die parlement ingedien is en teen die einde van die jaar op die wetboek behoort te wees sodat die nuwe eenheid kan funksioneer.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|