Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Kry nuus op jou selfoon
Van vandag af kan Volksblad-lesers hul gunsteling-koerant se nuushooftrekke sommer op hul selfone kry.
Fees klaar vuurwarm
Kaartjies vir die Volksblad-kunstefees het gister gevlieg en mense sal moet wikkel om vir produksies te bespreek.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           4-13°C

Voorspellings

Drie sterf in vlammehel
May 14 2008 11:00:11:150PM  - (SA)  
Tharine Geldenhuys



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

KROONSTAD. – “Help! Ons is hierso. Help ons net! Gina, waar is jy? Kan julle ons nie sien nie!”

Dit was gister die laaste woorde wat mev. Joey Koekemoer (51) aan haar buurvrou, me. Gina Kent, huurders van woonhuise op een van die kleinhoewes op die Kraalkop-kleinhoewes by die dorp, uit ’n vlammehel in die vroeë oggendure geskree het.

Toe was dit stil.

En die brandweer van die Moqhaka-munisipaliteit het ook glo stil gestaan.

Volgens kapt. Stephan Thakeng, polisiewoordvoerder in die Noord-Vrystaat, het ’n 36-jarige vragmotorbestuurder beheer om ’n draai oor ’n vragmotor, wat glo bevrore groente vervoer het, verloor.

Die vragmotor het oor die dubbelhoofweg beweeg en teen die huis van Koekemoer en mnr. Sarel de Winnaar (49), ’n paar honderd meter van die hoofweg, gebots.

Die impak van die botsing aan die suidelike kant van die huis was só erg dat die noordelike mure ook meegegee het.

Ontploffings het minute ná die botsing plaasgevind – vermoedelik weens brandstoftenks, die verkoelingseenheid op die vragmotor en gasbottels in die huis.

Volgens Kent het sy net ná 04:00 van ’n slag wakker geword.

“Ek het die slag gehoor en gedink dat dit net nog ’n ongeluk op die N1-hoofweg was.

“Dit het geklink soos iets wat oor hobbels jaag en sleep.

“Ook of ’n klomp ysters meegesleur word.

“Dis toe dat ek uitloer, vlamme sien en besef iets is verkeerd by Joey-hulle.

“Dit het soos ’n haelgeweer wat langs jou oor afgevuur word, geklink,” sê Kent.

“Ek het die brandweer ontbied. Toe die polisie en KSS Sekuriteit waar Joey gewerk het.”

Sy het probeer om ’n stok na Koekemoer en De Winnaar deur die venster te steek in ’n poging dat een van hulle dalk daaraan kon vashou en uitgetrek kon word.

“Nie die polisie, sekuriteitsmense óf die brandweermanne kon iets vir hulle doen nie.

“En Joey en Sarel het om hulp gesmeek,” sê ’n bedroefde en ontstelde Kent.

Koekemoer, De Winnaar en die vragmotorbestuurder was in die brandende huis vasgekeer en het doodgebrand.

Dit het die brandweer etlike ure geneem om die lyke uit die puin te verwyder.

Met slegs ’n vuurvegter wat vir die bestryding van veldbrande geskik is en op ’n bakkie gemonteer is, asook die swak watertoevoer van ’n buitekraan op die hoewe, het die brandweermanne probeer om die geweldige hitte van die brandende vragmotor en huis te tem.

Die departement van korrektiewe dienste het later die oggend met sy brandbestrydingstoerusting opgedaag om te help om die brandende huis en vragmotor af te koel.

Koekemoer en De Winnaar was groot diereliefhebbers en talle honde, eende en voëls het op die werf rondgedwaal.

Die Dierebeskermingsvereniging het van die diere vir veilige bewaring onder sy sorg geneem.

Mnr. Henk Jacobs, takbestuurder van KSS-Sekuriteit op Kroonstad, by wie Koekemoer byna 16 jaar as sekuriteitsadviseur gewerk het, sê sy was die hartklop van KSS Sekuriteit.

De Winnaar het sowat drie jaar by A&H Dienste, ’n onderneming wat bou- en algemene herstelwerk doen, as ’n toesighouer gewerk.

Sy werkgewer, mnr. Henry Hibbert, beskryf hom as baie pligsgetrou, stil en stemmig, maar pittig.

“Hy was ’n groot staatmaker.”

Die naasbestaandes van die vragmotorbestuurder van Beaufort-Wes is nog nie van sy dood in kennis gestel nie.

Teken in op Volksblad


Vind
Werksgeleenthede
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer