Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 14-30°CVoorspellings > |
|
‘Roofbende’ in Lesotho gevang ná Moll-moord
’n Vermeende rowerbende wat die leierboer mnr. Jacques Moll (64) na bewering ses dae gelede op sy plaas by Ficksburg vermoor het, is op die vooraand van Moll se begrafnis in Lesotho vasgetrek. Terwyl Moll se familie gister by die graf van hom afskeid geneem het, was Suid-Afrikaanse polisiemanne en hul kollegas van die Bergkoninkryk hard aan die werk. Eergisternag en gister in die vroeë oggendure is vyf mans, tussen 25 en 35 jaar, in Lesotho vasgetrek weens die plaasaanval en rooftog verlede Vrydag op Moll se plaas Stölberg. Moll is koelbloedig doodgeskiet. Sy vrou, Genene (58), en ’n buurman, mnr. Nic van den Bergh (51), is albei gewond. Minstens drie aanvallers word nog gesoek. Die Vrystaatse polisiehoof, komm. Amon Mashigo, en sy bestuur het gister om diplomatieke redes en “die sensitiwiteit van die ondersoek” geweier om enige inligting oor die inhegtenisnemings bekend te maak. Ingeligtes in die polisie en in landboukringe het die inhegtenisnemings bevestig. Die groep mans wat in hegtenis geneem is, word nie net met die plaasaanval verbind nie, maar ook met ’n inbraak op 1 Mei op die Ficksburgse plaas Rensburgshoek van mnr. Gerrit Pretorius, is aan Volksblad gesê. Wapens wat in die inbraak op Rensburgshoek gesteel is, is waarskynlik in die aanval op die Moll-gesin gebruik. Die moontlikheid dat die mans ook betrokke kon gewees het by die moorde verlede jaar op nog ’n Ficksburgse boer, mnr. Pieter Vermooten (58), en op die speurhoof van Clocolan, kapt. Nakeli Kha-khau (55), is nie uitgesluit nie. Volksblad verneem die polisie en VL se intelligensiediens het heelweek onverpoos leidrade en inligting oor die aanval op die Moll-plaas ingesamel. Eergisteraand en gister in die oggendure het lede van verskeie Suid-Afrikaanse polisie-eenhede saam met die Lesotho Mountain Police op huise in die Bergkoninkryk toegeslaan. Volksblad verneem vuurwapens, waaronder ’n pistool en haelgewere, ’n klomp ammunisie, windbukse, klere van die vermoorde Moll asook ander gesteelde goed is in die vermeende moordenaars se besit gekry. Hulle word in Maputsoe aangehou en die polisie-ondersoek duur voort, is gesê. Mnr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, het gesê hy is dankbaar oor die polisie se vordering. “Geen steen moet onaangeroer gelaat word om almal wat by hierdie grusame daad betrokke was, suksesvol te vervolg nie.” Pretorius, wie se gesteelde vuurwapens waarskynlik in die aanval op die Moll-egpaar gebruik is, is een van ’n twintigtal grensboere op wie se verklarings Vrystaat Landbou (VL) sy hooggeregshofsaak oor oorgrensmisdaad bou. VL daag met die hulp van die menseregte-advokaat George Bizos die regering voor die hooggeregshof omdat burgers aan die Lesotho-grens nie teen misdaad beskerm word nie. Sy hofsaak word gebou op die verklarings van ’n twintigtal grensboere, van Zastron in die suide tot Clarens in die noorde, wat onder grensmisdaad deurgeloop het. Vermooten, wat verlede jaar vermoor is, het enkele maande voor sy dood aan mnr. Tony Leon, vorige DA-leier, en ’n DA-afvaardiging wat sy grensplaas besoek het, gesê hy sal weens misdaad op die grens nie veel langer kan uithou met boerdery nie.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||||||
|
|