Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 7-32°CVoorspellings |
|
Zanu-PF en MDC begin onderhandel
PRETORIA. – Volwaardige onderhandelings oor die toekoms van Zimbabwe het gister in Pretoria begin en sal “binne twee weke of net daarna” voltooi wees, het ’n woordvoerder van pres. Thabo Mbeki se kantoor gesê. Ses afgevaardigdes, twee elk van die regerende Zanu-PF, die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC) van mnr. Morgan Tsvangirai en die wegbreekfaksie van mnr. Arthur Mutambara, het gister in alle erns begin onderhandel oor die instelling van ’n regering van nasionale eenheid (RNE). ’n Ingeligte in die hoofstroom-MDC van Tsvangirai het gister gesê daar is “grootliks eenstemmigheid” tussen die twee MDC-verdelings oor die pad vorentoe. Dit wil egter voorkom asof die MDC-Mutambara, soos wat dié minderheidsfaksie bekend staan, afsonderlik deelneem aan die onderhandelings met die oog daarop om selfstandige verteenwoordiging in die RNE te beding. Die onderhandelings vind op ’n onbekende plek plaas en is vir die media gesluit. Ondertussen is stemme aan die opgaan vir die verbreding van die deelnemers aan die onderhandelingsproses. Die Zimbabwiese vakbondbeweging ZCTU het vroeër die week in ’n verklaring gesê burgerorganisasies, soos vakbonde en kerke, behoort by die onderhandelingsproses betrek te word. Die ZCTU is ’n sterk ondersteuningsbasis vir Tsvangirai en verskeie van sy lede is in Zimbabwiese tronke in aanhouding. “Ons is besorg daaroor dat daar nie ’n gewilligheid is om die deelname aan die onderhandelings te verbreed nie. Huidige probleme verg nie net ’n politieke oplossing nie, maar ’n gekoördineerde aksie om alle vertakkinge van die burgerlike en politieke gemeenskap te betrek. Dit sluit in vakbonde en kerke,” sê mnr. William Chibebe, die sekretaris-generaal van ZCTU. Dié siening is gister gesteun deur mnr. Herbert Mkhize, die uitvoerende hoof van Nedlac. “Nedlac doen ’n ernstige beroep op die onderhandelaars om toe te laat dat die proses uitgebrei word om arbeids-, sake- en burgerlike belanghebbendes te betrek.” Dis noodsaaklik om stabiliteit en groei so gou moontlik in Zimbabwe te herstel, sê Mkhize. “Die regte besluite oor die politieke en ekonomiese toekoms kan slegs geneem word as dit deur demokratiese prosesse geskied en deur die betrokkenheid van legitieme strukture in daardie land,” sê hy.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|