Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Ladybrand het toe g'n Lasarus
'n Familie van hier is platgeslaan ná die nuus dat 'n sangoma hulle 'n rat voor die oë gedraai het.
Boesak doen voetwerk vir 'n nuwe ‘UDF’’
Die tyd is ryp vir die burgerlike samelewing om saam te staan om politici tot verantwoording te roep.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           10-27°C

Voorspellings


Man skiet glo buurvrou uit jaloesie
Jul 24 2008 10:16:29:487PM  - (SA)  
Henry Cloete



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Enkele meters vanaf die kissie waarop me. Anna-Marie O’Halloran (41) langs die tuinmuur gestaan het toe sy doodgeskiet is, swaai haar ligblou nagjapon nog in die wind aan ’n wasgoeddraad.

O’Halloran is Woensdagaand vermoedelik deur haar buurman (52) op Reddersburg vermoor.

Hy het haar na bewering een keer met ’n 7.65 mm-pistool in die nek geskiet en toe sy eie lewe probeer neem. Hy het homself in die ken gewond.

Die twee het glo dikwels oor die muur tussen die twee erwe gesels. O’Halloran sou dan op dié kissie staan. Haar lyk is neffens die kissie gevind. Polisielede het op die beseerde buurman in sy erf afgekom.

Die vermoede bestaan dat jaloesie die motief kon wees.

Op dié Vrystaatse dorp het dit gister nog oor die skoknuus van die moord gegons.

By O’Halloran se ma, mev. Rina Pretorius, se huis het geskokte familielede en vriende bymekaargekom en mekaar getroos. Haar huis is naby dié van haar dogter.

“Ek kan dit steeds nie glo nie. ’n Mens kan nie die gevoel beskryf nie,” het ’n hartseer Pretorius gister gesê. “Hy (die buurman) het nog Maandagoggend hier by my huis verfwerk gedoen. Hy is dan so ’n sagte mens.”

Die man is op die dorp as ’n elektrisiën en algemene nutsman bekend.

“Sy wou nie met hom ’n verhouding gehad het nie. Dit moet wees hoekom hy dit gedoen het,” het Pretorius gesê. Sy het ook vroeëre bewerings van ’n liefdesdriehoek as onsin afgemaak.

O’Halloran het saam met haar dogter Chandré (13) en seun, Malcolm (10), in die huis gewoon.

Haar ander dogter, Chantal (20), woon in Bloemfontein en studeer aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Toe sy Woensdagaand die nuus hoor, het sy dadelik na haar ouma se huis gery.

“Sy was áltyd bereid om ander mense te help,” het sy in trane van haar vermoorde ma gesê.

Ander familielede het vinnig beaam O’Halloran was toegewy daaraan om ander te help.

’n Suster van O’Halloran, mev. Renette van der Vyver, het gesê haar suster se lewe was nog ver van verby.

“Ons het Maandagaand byna ’n uur oor die telefoon gepraat. Maar ons kan niks hieraan doen nie – ons gaan haar nooit terugkry nie.”

Insp. Lente Coetzee, hoof van misdaadintelligensie by die plaaslike polisiekantoor, sê O’Halloran het agt jaar lank as klerk by dié kantoor gewerk.

“Dit is ’n klein plekkie dié. Almal is baie naby aan mekaar. Dit is baie sleg vir ons.”

Selfs ’n petroljoggie by die nabygeleë motorhawe kon sy skok nie wegsteek nie.

“Sy was ’n verskriklike vriendelike vrou. Hulle was albei baie vriendelik.”

O’Halloran is ongeveer drie jaar gelede van haar man geskei. Die 52-jarige buurman se vorige vrou is reeds jare gelede aan kanker dood.

Hy is Woensdagaand ná die voorval na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gebring waar hy vir die skietwond aan sy ken behandel word.

Volgens insp. Tseko Mokgahle, polisiewoordvoerder, sal ’n hofdatum vir hom gereël word sodra hy uit die hospitaal ontslaan word. Hy sal van moord aangekla word.

Teken in op Volksblad


 
 
Hierdie kommentaar fasiliteit is nou gesluit.
Vind
Direct Axis Lenings
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer