Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 14-30°CVoorspellings > |
|
Burgemeester pos kwyt
Mangaung is ná ’n ANC-besluit sonder sy burgemeester en speaker. Die Vrystaatse leierskap van die party het gister op sy kongres op Parys gesê hy het mev. Gertrude Mothupi, uitvoerende burgemeester, en die speaker, mnr. Mahlomola Ralebese, speaker, gevra om hul poste te ontruim. Mothupi en Ralebese is saam met nog 14 ANC-stadsraadslede van Mangaung geskors. ’n Raadslid van die Motheo-distrik is ook geskors. Mnr. Ace Magashule, wat gister onbestrede as Vrystaatse partyleier herkies is, het gesê indien Mothupi en Ralebese nie gehoor gee nie, sal stappe teen hulle gedoen word. Magashule sê die stap om Mothupi en Ralebese te onttroon, spruit uit onenigheid en doelloosheid in die raad. Die raadslede wat geskors is, het in Mei aan ’n betoging teen die ANC in Bloemfontein deelgeneem, het hy gesê. Magashule het op die kongres na Mothupi gekap en gesê dit is onaanvaarbaar dat sy redes vir die ANC se besluit eis. “Wanneer mense in leiersposisies en invloedryke posisies geplaas word, vra hulle nie redes nie. As hulle verwyder of herontplooi word, eis hulle redes.” Hy het gesê sommige lede weier om gehoor te gee aan die ANC se grondwetlike strukture, terwyl ander dit ’n mode gemaak het om die ANC hof toe te sleep. “Daarom is dit vir die ANC se strukture belangrik om vinnig en beslissend teen faksies, anargie, swak dissipline en enige bedrywighede teen die party op te tree.” Die party se nasionale leierskap het by monde van sy sekretaris-generaal, mnr. Gwede Manta-she, sy steun aan die provinsie se leierskap gegee. Mantashe het gesê lede wat die party hof toe sleep en in ’n slegte lig stel, sal summier geskors word en stappe moet binne ’n maand teen hulle gedoen word. Oor die raadslede wat in Mangaung geskors is, het Mantashe aan die kongres gesê die stappe moet so gou moontlik afgehandel word. “Daar moenie ’n vakuum geskep word nie. Daardie vakuum is gevaarlik. As almal wyksraadslede is, moet tussenverkiesings spoedig gehou word. Dissipline en spoed is belangrik. Die munisipaliteit moenie in duie stort nie.” Mothupi het vroeër vandeesmaand ’n verslag oor swak bestuur in die raad ter tafel gelê, waarna die stadsbestuurder, mnr. Thabo Manyoni, geskors is. Manyoni, regterhand van Magashule, is gister op die partykongres onbestrede tot nuwe ondervoorsitter van die ANC in die Vrystaat verkies. Hy vervang mnr. Pat Matosa. Manyoni was afwesig toe hy verkies is. Hy was in die hooggeregshof in Bloemfontein waar hy sy skorsing beveg. Met die betoging destyds wat aanleiding tot die skorsing van die Mangaung-raadslede gegee het, het betogers gesê die “Parys-faksie” (Magashule, Manyoni en mnre. Playfair Morule) regeer die ANC in die provinsie. Net mense wat dié faksie ondersteun, word as ANC-lede erken. Die faksie besluit wie word lede en wie word tot die takbesture, streekbesture en die provinsiale bestuur verkies. Magashule het gister weer gesê dit is bog. Daar is geen faksies nie. Dit is ’n klein groep moeilikheidmakers wat die probleme veroorsaak. In ANC-kringe is gesê Morule, hoofsweep van die ANC in die wetgewer en ’n provinsiale en nasionale leier van die party, kan moontlik Bloemfontein se nuwe uitvoerende burgemeester word. Mothupi en Ralebese het albei gister gesê hulle wil nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie. Twee groepe wat die party die laaste tyd hof toe gesleep het oor skorsings en tak- en streekverkiesings, het gesê hulle gaan die kongres wat in Parys gehou word, die kongresbesluite en die verkiesing van die nuwe provinsiale leiers in die hof beveg.
|
||||||||||||||
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||||||
|
|