Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Afgaanse konflik eis Australiër
'n Oud-Suid-Afrikaner is die naweek as 'n Australiese spesmagte-soldaat in Afganistan dood.
Omstrede beslissing knou Kallis
Jacques Kallis moet sweerlik wonder wat die krieketgode dan nou eintlik teen hom het.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           14-30°C

Voorspellings

>

Skolegeweld skok
Aug 28 2008 11:21:02:343PM  - (SA)  
Henry Cloete, Hannatjie van der Merwe, Tom de Wet



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Drie voorvalle van skolegeweld het vandeesweek die Noord-Kaap en Vrystaat geruk. In een was selfs ’n ouer betrokke.

Dit kom ’n week ná die skokvoorval waarin ’n Krugerdorpse leerling ’n mede-leerling met ’n swaard doodgekap en ander beseer het.

Op Groblershoop het ’n leerling, wat na bewering ’n jaar gelede ’n ander leerling op Upington met ’n mes vermoor het, glo nou ook ’n koshuismaat met ’n mes gesteek.

By die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein is ’n matriekseun glo deur die pa van ’n matriekmeisie aangerand.

Op Sasolburg is ’n skoolseun glo uit die bloute deur ’n klasmaat platgeslaan. Dit is op ’n selfoonvideo vasgelê.

Op Groblershoop was Cameron van Wyk na bewering die messteker. Hy het na bewering verlede jaar Edwin Phillips (15) by die Hoërskool Carlton van Heerden op Upington met ’n mes doodgesteek.

Mnr. Johannes Hendricks, hoof van die Hoërskool Groblershoop, sê die jongste messtekery was Woensdag net ná ontbyt in ’n koshuiskamer.

Albei seuns is in matriek. Die slagoffer is glo twee keer agter die linkeroor gesteek.

Hendricks sê Van Wyk is in sy skool nadat die departement van onderwys gesê het hy moet in ’n veilige omgewing geplaas word.

Supt. Mashay Gamieldien sê die polisie op Groblershoop ondersoek nou ’n klag van poging tot moord ná ’n stryery oor penne.

Van Wyk sal agter tralies bly en moet weer op 11 September in die hof verskyn.

In Bloemfontein wou die ouers van ’n matriekmeisie glo vir mnr. Johan Vorster, hoof van Sentraal, spreek oor beweerde drankmisbruik op ’n partytjie. Hulle het glo ’n matriekseun blameer.

Op die skoolterrein het die meisie se pa glo vir matrieks gevra waar die betrokke seun is.

Toe hy hom kry, het hy glo die seun aan die arm gegryp en na bewering met die kop gestamp. Hy het hom ook rondgeruk voordat sy vrou hom kalmeer en hulle na die hoof se kantoor is.

“Ek is nie seker wat die oorsaak van die bakleiery was nie,” sê Vorster. “Die twee leerlinge was, sover ek weet, deel van ’n vriendekring, maar hul vriendskap het suur geword. Die pa hou beslis nie van die seun nie.”

Volgens Vorster het die pa hom om verskoning gevra vir sy gedrag. “Ek het nog nie ’n formele gesprek met die matriekseun gehad nie. Die pa het egter laat blyk hy het die seun om verskoning gevra.”

Vorster sê hy sal die bakleiery ondersoek.

By die Afrikaanse Hoërskool in Sasolburg is Lucas Lombard, gr. 9-leerling, volgens ’n selfoonvideo in Volksblad se besit trompop deur ’n ander leerling geloop en met ’n vuishou voor ’n klaskamer platgevel.

Albei seuns is toppresteerders en sportsterre.

Lucas is volgens sy pa, Lucas (sr.), gister die eerste keer sedert die aanval Dinsdag terug skool toe. “Dit het goed gegaan en hy het goeie ondersteuning. Ons is trots op die skool wat beslis een van dié met die beste reëls is.”

Hy sê sy seun was bewusteloos en het met sy gesig op die grond geval. X-straalfoto’s is geneem en verdere toetse sal gedoen word.

Lombard sê hulle het reeds met hul prokureur gepraat, maar nog nie besluit oor ’n klag by die polisie nie. “Ons is tevrede met hoe die skool die situasie hanteer en sal ons deur die gebeure verder laat lei. Dit was vir ons ’n groot skok, veral in die lig van die gebeure in Krugersdorp.”

Mnr. Dawie Kleynhans, skoolhoof, sê die slaner het ’n waarskuwingsbrief gekry. Sy ouers moes hom dadelik by die skool kom haal. Die saak word ondersoek. “Dit was duidelik geen vuisgeveg tussen twee kinders nie.”

Die leerling wat die selfoonvideo gemaak het, het ook ’n waarskuwingsbrief ontvang.

Leerlinge wat die video aangestuur het, sal ook gestraf word.

Bewerings is dat die seun wat geslaan het, ’n gerug gehoor het dat sy meisie meer van Lucas hou. Op die video kan gehoor word hoe ’n meisie ná die vuishou skreeu: “My hemel, C . . ., was dit nou nodig?”

Teken in op Volksblad


 
 
  Plaas jou kommentaar
Naam
E-pos
Onderwerp
Kommentaar
   
   
Vind
Reis en Verblyf
Direct Axis Lenings
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer